As iemand vir jou sou vra, “Wie is God?” Wat sou jy antwoord? Watter woorde sou jy gebruik om Hom te beskryf?
Gedurende 2024 het God my aan sy getrouheid herinner, selfs toe ek swak en siek was en nie in staat was om veel vir Hom te doen nie. Hy het keer op keer sy getroue liefde aan my bewys, wat nie afhang van wat ek vir Hom kan doen nie, maar wat betoon word in alles wat Christus vir my gedoen het.
Ons moet weet wie God is. Alleenlik dan sal ons in staat wees om Hom dwarsdeur die veranderende seisoene van ons lewens te vertrou. Ons leer wie God is wanneer ons van Hom in die Bybel lees. Miga 7 beklemtoon ‘n hele paar eienskappe van Hom.
Die Volk Kom in Opstand
Die Israelitiese volk het hulle op ‘n moeilike tydstip in hulle geskiedenis bevind. Miga was ‘n profeet wat gestuur is om hul te waarsku dat hulle hul weë moes verander, of in ballingskap weggevoer sou word. Dit was nie ‘n gewilde boodskap nie.
Aan die begin van hierdie hoofstuk treur Miga. Hy is hartseer en voel alleen terwyl hy om hom kyk en die gebrek aan getrouheid sien in die manier waarop God se volk lewe. In die samelewing rondom hom, lyk dit of almal, van bo tot onder, net in hul eie belang optree. Hulle gee nie hom hoe dit ander raak nie. Families kan mekaar nie eens vertrou nie.
In die samelewing wat Miga omring het, was mishandeling en uitbuiting van die armes, swakkes en kwesbares die norm. Dit het God kwaad gemaak. Sy volk was veronderstel om deur heiligheid en liefde gekenmerk te word, en tog tree hulle goddeloos teenoor mekaar op. Hulle lewe nie enigsins anders as die nasies rondom hulle nie. Gevolglik, kon die Israeliete nie vir daardie nasies toon hoe ‘n regverdige verhouding met God lyk sodat hulle na Hom toe getrek kon word nie.
God Gryp in Volgens Sy Tydsberekening
Ten spyte van die chaos om hom, demonstreer Miga hoe dit lyk om anders en in volle oorgawe aan God te leef. Hy skryf,
Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.
Miga 7:7
Miga weet dat God sal optree. Hy sal ingryp om die weg te verander waarop sy volk wandel, net soos ‘n liefdevolle ouer ingryp om ‘n opstandige seun of dogter reg te wys. Maar Miga moet wag. Terwyl hy wag, bid hy en weet hy dat God na sy gebede luister. Miga se hoop is op die Here.
Hoewel die boek Miga geskryf is voor die Here sy volk bevry het, skryf Miga asof dit reeds gebeur het. Hy vertrou op die Woord van die Here. Hy weet dat redding sal kom omdat dit van God af kom!
Daar is tye wanneer ons ook moet wag terwyl ons bid en God vra om in te gryp. Ek wil jou aanmoedig om moed te hou in hierdie tye. Ons hoop is op die Here, en sy planne sal nie omver gegooi word nie. Ons kan berus in sy beloftes.
God Herstel Getrou
Op hierdie stadium verander Miga se fokus vanaf die bekommernisse van wat aangaan in Israel en die ander nasies na God toe. Hy stel die vraag in vers 18, “Wie is ‘n God soos U?”
Ons ken almal die antwood – daar is niemand soos ons God nie. Hy is heeltemal anders as enigiets of enigiemand anders in die hele skepping.
Miga gaan dan voort om ‘n paar eienskappe van die Here in verse 18 tot 20 op te noem, waaronder:
- Hy vergewe sonde – Vir God is dit moontlik om diegene te vergewe wie se lewens afwyk van die lewe waarvoor hul geskape is.
- Vergewe die opstand – Hy vergewe ons misplaaste aanbidding van ander dinge en mense asook ons selfsugtige begeertes om aan Hom gelyk te wees.
- Bly nie kwaad nie – God se woede is geregverdig, maar Hy bly nie kwaad nie. Hy is ons liefdevolle Hemelse Vader wat sy kinders wil teregwys.
- Betoon liefde – God het ‘n welbehae om barmhartigheid en genade aan ons te betoon. Sy liefde vir ons is onwrikbaar.
- Sal ons weer genade betoon – Die Here is barmhartig en genadig, nie net een keer nie, maar herhaaldelik. Hoewel Hy regverdig is, wil Hy ook seën:
Tog is die Here gretig om julle genadig te wees
en wil Hy Hom oor julle ontferm:
Die Here is ‘n God wat reg laat geskied,
en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou. (Jesaja 30:18)
- Sal ons sonde tot niet maak – God kan sonde volkome vernietig. Hy sal oorwin! Alhoewel ons gevolge mag ervaar wat voortvloei uit ons sonde, wil God hê dat ons in volkome vergifnis en vryheid moet lewe deur die vryheid wat ons in Jesus Christus vind. Met verloop van tyd verander God die begeertes van ons harte terwyl Hy ons meer soos Christus maak.
- Sal ons sondes in die diepsee gooi – Ons sonde sal nie meer bestaan nie. Soos daar in Openbaring 21:1 staan:
Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien.
Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn,
en die see het nie meer bestaan nie.
- Sal getrou wees – God is die verbondshouer. Sy liefde bly standvastig ongeag hoe vergeetagtig ons is. God bly getrou en kom sy beloftes aan ons na.
Dit laat my dink aan die lied – The Lord is My Salvation [Die Here is my Redding] deur Keith and Kristyn Getty. Die volgende refrein word hierin herhaal:
Who is like the Lord, our God? [Wie is soos die Here, ons God?]
Strong to save, faithful in love [Kragtig om te red, getrou in liefde]
My debt is paid and the victory won [My skuld is betaal en die oorwinning is behaal]
The Lord is my salvation [Die Here is my redding]
Wat ‘n wonderlike God is dit nie wat ons die voorreg het om te ken en dien. Neem ‘n oomblik vandag om Hom te loof en te aanbid vir wie Hy is en vir alles wat Hy gedoen het om jou te red.