Rig jou gedagtes

Elke dag kry ons die geleentheid om selfbeheersing aan die dag te lê. Jy kan kies om nie op die bestuurder wat voor jou insny te skree nie. Jy kan kies om nie nog ‘n porsie kos te skep nie. Jy kan kies om stil te bly en nie jouself te verdedig nie. Ek glo dat selfbeheersing die vrug van die Gees is waaroor daar die minste gepraat word.

Ons leef in ‘n wêreld wat glo jy kan enigiets doen wat jy wil. Jy kan die reëls maak. As dit jou geluk of gemak belemmer, hoef jy jou nie daaroor te bekommer nie. Al bevredig hierdie ideale ons vlees en sondige natuur, sê die Woord dat iets beter van gelowiges verwag word. Dit vra van ons om ons eie begeertes en voorkeure te laat gaan sodat ons Christus aan ander kan bekendmaak en hulle dien.

Al is selfbeheersing nie een van die aanloklikste karaktertrekke om uit te leef nie, is dit ‘n deel van ons aanbidding en getrouheid teenoor God.

Wanneer ons na die Skrif kyk, sien ons ‘n pragtige voorbeeld van selfbeheersing in die lewe van Daniël. Toe die Babiloniërs die land van Juda binnegeval en oorwin het, het hulle sommige van die slimste en belowendste Israeliete gevange geneem en probeer om hulle van hulle identiteit, kultuur en lewenswyse te stroop, sodat hulle soos Babiloniërs kon word.  Daniël was een van hulle.

Hy en sy vriende Gananja, Misael en Asarja (ook bekend as Sadrag, Mesag en Abednego) het die Babiloniese skool bygewoon, maar hulle het gekies om anders te leef. Toe die Israelietiese manne van die koning se kos gegee is, wat nie vir die Jode aanvaarbaar was nie, het hierdie manne gekies om dit nie te eet nie en getrou te bly aan God.

Dit sou makliker vir hulle wees om te doen wat al die ander gedoen het om sodoende die vrede te bewaar. Die Bybel sê: “Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie” (Daniël 1:8). Hulle het ongelooflike selfbeheersing aan die dag gelê.

Daniël se selfbeheersing het in sy hart begin omdat hy God geken het en sy weë bo die weë van die wêreld vertrou het.

Selfbeheersing is nie iets wat in ons skoot val of ons van nature doen nie. Ons vlees lei ons om alles behalwe selfbeheersing toe te pas. Dis hoekom ons ten volle gewortel moet wees in ons identiteit en verhouding met Christus. Ons hart moet onder die heerskappy van God wees. Wanneer ons weet wie ons is en wie s’n ons is, is ons in staat, deur die werk van die Heilige Gees, om nee te sê vir versoeking en ja te sê vir die weë van God.

Dit beteken nie dat dit altyd maklik is nie. Daar sal kere wees wanneer dit baie duidelik sal wees dat ons moet nee sê vir sonde en versoeking. Ander kere gaan ons vlees daarteen baklei. Dis hoekom ons op die werk van die Gees in ons harte moet staat maak. Ons moet gedurig bid en ander gelowiges toelaat om ons te ondersteun.

Om in hierdie wereld te leef en selfbeheersing te hê, is moeilik. Jesus het ons egter nie alleen gelos om op ons eie te leef nie. Hy het vir ons sy Heilige Gees en die kerk gegee om ons te bemoedig sodat ons getrou kan aangaan.

Behalwe om deel van ‘n gemeenskap te wees, is dit belankrik om seker te wees van ons teologie en hoe ons God nou sien. Ons wil nie wag totdat ons midde-in ‘n moeilike situasie is om uit te vind wat ons glo die Woord van God sê oor hoe om te reageer nie. Ons moet daagliks in Jesus bly, nóu dissiplines en gewoontes kweek wat ons in alle omstandighede sal kan lei.

Waar staan jy vandag? Is jy in ‘n situasie of ‘n aanhoudende gewoonte waar jy selfbeheersing kort? Gaan na Christus in gebed. Vra ander om jou verantwoordbaar te hou en dink aan maniere om selfbeheersing te begin toepas. Verbind jou daartoe om Skrifverse oor selfbeheersing te memoriseer sodat jy dit kan herroep wanneer jy dit nodig kry. Is jy iemand wat selfbeheersing aan die dag lê maar dit net doen omdat jy veronderstel is om dit te doen?  Vra vir God om vir jou meer van sy karakter te wys en die waarheid van die evangelie. Om te leef omdat jy Christus liefhet en selfbeheersing toepas as deel van jou aanbidding, is baie meer bevrydend as om dit uit verpligting te doen.

Waar jy jou ook al vandag bevind, weet dat jy nie alleen is nie. Selfbeheersing is nie ‘n karaktertrek wat ons dikwels sien nie, dit is egter ‘n kenmerk van gelowiges. Ons het die Woord van God, die Gees van God en die mense van God om ons elke dag te help om in volle oorgawe en gehoorsaamheid aan Christus te leef.

Week 6 Leesplan

Week 6 Memoriseervers

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs