Die krag van sagmoedigheid

Het iemand jou al ooit met sagmoedigheid behandel toe jy dit die minste verwag het? ’n Paar jaar gelede het ek, met behulp van wyse raad en die aansporing van die Heilige Gees, diep oortuig geraak van my sonde en ’n vriendin om vergifnis gaan vra. Eerlikwaar, ek was doodbenoud om met haar te praat. Ek was skaam en bang oor hoe sy moontlik sou reageer. Maar deur God se genade het hierdie vriendin my met soveel sagmoedigheid en genade behandel, dat ek weet dit kon net deur die werk van die Heilige Gees moontlik wees. Na ons gesprek het ons nader aan mekaar en wedersyds bemoedig gevoel en dat ons verhouding met God en met mekaar verdiep het.

Ek deel hierdie verhaal om dit tuis te bring dat sagte woorde ’n groot verskil kan maak. Ek sal ook die eerste een wees om te erken dat my woorde nie altyd sag is nie. Soms is my woorde kortaf, reguit en veroordelend. Ek het egter ervaar hoe die Here in my lewe werk en my gaandeweg leer om met  groter sagmoedigheid op te tree.

Die Heilige Gees se rol met die dra van geestelike vrug

Die waarheid is dat ons nie uit eie krag die vrug van die Gees kan voortbring nie. Hoe graag ek ook al ’n eenvoudige formule sou wou hê wat op ‘n wonderbaarlike manier al die vrugte van die Gees in my lewe kan voortbring, werk dit ongelukkig nie so nie. Ons het eenvoudig nie die krag of wilskrag om meer soos Christus te word nie. En dit is juis iets wonderliks! As God ons sterk genoeg gemaak het om op ons eie vrug te dra, sou ons Hom nie nodig gehad het nie.

Hoe groei ons dan in die vrug van die Gees? Deur die krag van die Heilige Gees. Tydens Jesus se aardse bediening het Hy verduidelik dat dit beter sou wees dat Hy weggaan en na die hemel terugkeer as dat Hy by sy dissipels bly, omdat die Heilige Gees na hulle toe gestuur sou word (Johannes 16:7-11). Ek kan my voorstel dat die dissipels dalk gewonder of getwyfel het hoe dit moontlik kan wees. Hoe kon dit beter wees dat Jesus hulle verlaat? Tog het hulle getrou gebly. En net soos Jesus belowe het, het die Heilige Gees gekom.

Ons weet dat elkeen wat in Jesus as Here en Verlosser glo, die Heilige Gees ontvang wanneer hulle tot geloof kom. Wat ’n wonderlike geskenk! Die Heilige Gees se rol is om die gelowige se lewe te verander. Die vrug van die Gees in iemand se lewe is ’n bewys van daardie persoon se verhouding met Jesus. In Galasiërs 5 leer ons van die vrug van die Gees, in teenstelling met die werke van die sondige natuur. Natuurlik worstel ons steeds met sonde solank ons hier op aarde leef. Namate God ons egter deur die krag van sy Gees heilig maak, word ons al meer soos sy Seun.

Jesus se voorbeeld van sagmoedigheid

Ons SOAP-vers vir vandag herinner ons daaraan om sagte woorde te gebruik. Waarom is dit belangrik? Omdat dit iets van Christus aan die mense om ons openbaar. In Matteus 11 beskryf Jesus Homself as “sagmoedig en nederig van hart”. Jesus was nie hardvogtig, onvriendelik of onsensitief nie. Trouens, Hy was presies die teenoorgestelde. Selfs toe Hy vervolg is, het Jesus stilgebly (Matteus 26:62-63). Hy het nie nodig gehad om sy gesag te laat geld of sy heerskappy te bewys nie. Hy was eerlik, maar uiters sagmoedig en nederig.

Ek is seker jy kan aan ‘n keer in jou lewe dink toe ‘n vriend of vriendin jou sagkens hanteer het, toe hulle eintlik hardvogtig kon wees. Hoe het dit jou laat voel? Watter uitwerking het dit op julle verhouding gehad? Het dit jou nader aan Jesus gebring of jou van Hom af weggedryf? Ek weet ek kan nog baie groei op die gebied van sagmoedigheid, maar kom ons doen dit saam, vriendin. Ter wille daarvan dat ons Christus aan die mense om ons uitleef, bid ek dat die vrug van die Gees al hoe meer in ons lewens sigbaar word.

Jayci Williams

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs