

Het jy al ooit opgelet dat sommige van die asemrowendste sonsondergange na baie hewige storms gesien kan word?
Vir ‘n hele aantal jare het my ouers in ‘n klein plattelandse dorpie in Missouri gewoon, omring met wuiwende grasvelde wat verder gestrek het as wat die oog kon sien. Tot vandag toe is sommige van die pragtigste sonsopkomste en sonsondergange wat ek nog ooit aanskou het, vanaf die agterstoep van hulle klein huis.
Ek onthou veral die oggende na ‘n nag van hewige reën en donderstorms. Die lug het gelyk of dit geverf is met kleure wat ek nooit heeltemal in ‘n foto kon vasvang nie, en dit het op een of ander manier soeter, skoner gevoel, en amper asof die hele skepping diep asemgehaal het gedurende die nag. Daar was ‘n stil skoonheid wat slegs moontlik gelyk het omdat dit voorafgegaan was deur ‘n storm.
Dalk het jy al iets soortgelyks ervaar.
Daar is iets omtrent die oggend na die reën wat ons herinner dat duisternis nie die finale sê het nie. Soos ek oor die jare oor daardie oggende nagedink het, het ek gevind dat my gedagtes teruggekeer het na een van die mees geliefde gedeeltes in die hele Skrif. Ironies genoeg is hierdie gedeelte uit die as van ondenkbare verwoesting geskryf.
Hoop te midde van hartseer
Die boek Klaagliedere was deur die profeet Jeremia geskryf na die verwoesting van Jerusalem; een van die donkerste oomblikke in die geskiedenis van Israel. Die stad het geval. Die tempel, die plek waar God se mense vergader het om te aanbid, was net ‘n puinhoop. Gesinne was uitmekaar geruk en huise was vernietig. Oral waar Jeremia gekyk het, was hy omring deur die hartseer nagevolge van sonde en oordeel. Dis geen wonder dat die openingsverse van hoofstuk drie gevul is met woorde van ellende, bitterheid, verlorenheid en droefheid nie. Jeremia gee nie voor dat sy pyn nie bestaan nie en hy is nie haastig om daaroor te kom nie. Hy bring eerder elke tikkie eerlikheid na die Here.
Dit vertroos my geweldig. Ek dink baie mense neem stilweg aan dat ’n teken van jou sterk geloof is om voor te gee dat alles in orde is. Soms glo ons dat ons ons hartseer moet wegsteek, ons vrae onderdruk of vinnig weer hoop moet vind, voordat ons ons hartseer ruiterlik erken. Jeremia wys ons egter iets anders, baie diepgaande. Ware geloof ignoreer nie lyding nie. Dit bring lyding in die teenwoordigheid van God, met die vertroue dat Hy in staat is om ons daar te ontmoet.
‘n Aantal jare gelede het ek deur ‘n seisoen van diep droefheid gegaan wat elke deeltjie van my lewe deurspoel het. Tydens daardie seisoen het ‘n mentor my aangemoedig om elke oggend Klaagliedere 3 te bid. Ek het gewonder hoekom sy daardie spesifieke hoofstuk gekies het. Sou dit nie meer sin maak om iets vroliker te lees nie? Iets wat my dadelik kon bemoedig, nie? En tog, terwyl ek elke dag die verse stadig gelees het, het ek iets ontdek wat ek andersins nie sou verstaan nie.
Hoop is soveel meer asemrowend as jy dit te midde van diep hartseer vind.
God se lojale goedheid
In vers een-en-twintig verander alles. Jeremia skryf: “Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop …” Hierdie woorde klink dalk met die eerste oogopslag eenvoudig, maar dis een van die mooiste keerpunte in die hele Skrif.
Jeremia se omstandighede het nie verander nie. Jerusalem was nog steeds ‘n puinhoop. Die droefheid was nog rou, die verlies hartverskeurend en die toekoms nog onseker. Die wonderwerk was nie dat sy omgewing skielik anders gelyk het nie, maar dat hy doelbewus sy oë opgelig het om die onveranderlike karakter van God te onthou.
Hy gaan voort: “Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut” (Klaagliedere 3:22).
Watter verbasende woorde om te uiter te midde van verwoesting!
Jeremia se hoop was nooit gegrond in die moontlikheid dat die lewe gou makliker sou word nie. Dit was gegrond in iets oneindig meer standvastig as die veranderende omstandighede. Die Hebreeuse woord waarmee “lojale goedheid” vertaal word, praat van God se verbondsliefde, sy standvastige, onwrikbare toewyding aan sy mense wat nie deur hul omstandighede geskud word nie. Selfs te midde van teregwysing, het sy medelye nie opgehou nie. Al was Jerusalem in puin, was God se genade nie uitgeput nie. Elke sonsopkoms het getuig dat sy getrouheid nog ‘n nag oorleef het.
Prag gevind in lyding
Tydens ‘n somer toe ek ‘n sendingreis in Nagoja, Japan, onderneem het, het ek gehoor van ‘n eeu-oue kunsvorm genaamd kintsugi. In plaas daarvan om krake in gebreekte kleiwerk weg te steek, herstel kunstenaars elke kraak deur gom met goudpoeier te meng. Hulle verbloem nie dít wat gebreek het nie, maar beklemtoon dit doelbewus. Dis merkwaardig dat die gerestoureerde items dikwels as meer waardevol beskou word as wat dit voorheen was, want die verhaal daaragter het deel geword van die prag.
Sedert ek van kintsugi geleer het, dink ek daaroor wanneer ek Skrifgedeeltes soos hierdie lees. Nie omdat lyding opsigself mooi is nie. Die Skrif sê nooit dat ons pyn moet vier nie. Dit herinner ons eerder daaraan dat ons ‘n God aanbid wat oneindig wys, so eindeloos genadig en so wonderbaarlik getrou is dat niks wat in sy hande beland ooit vermors word nie.
Hy is dieselfde God wat in Jesaja 61 beloof om vir sy mense ‘n priesterkroon te gee in die plek van smart. Hy is die God wat gebroke harte geduldig herstel, nie deur voor te gee dat die krake nooit bestaan het nie, maar deur dit op te vul met die goue bewys van sy reddende genade.
Dalk is dit die rede hoekom Jeremia verder sê: ” Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,
daarom hoop ek op Hom” (Klaagliedere 3:24). Sy hoop berus nie meer in wat God hom dalk gaan gee nie, maar in God self. Hy het ontdek wat elke menslike hart graag wil ontdek, dat ons beste sekuriteit nie in gemaklike omstandighede, ‘n voorspelbare toekoms of aardse seëninge gevind word nie, maar om te behoort aan die God wie se getrouheid nooit verander nie.
Is dit nie vandag die uitnodiging vir ons nie?
Sy getrouheid is volop
Ons wêreld moedig ons voortdurend aan om ons hoop te anker in dinge wat ons uiteindelik nie kan vashou nie. Ons word versoek om te glo dat daar vrede sal kom wanneer die diagnose verander, wanneer die verhouding herstel word, wanneer die finansies verbeter of wanneer die lewe uiteindelik volgens ons planne verloop. Al is die meeste van hierdie begeertes goed, was hulle nooit bedoel om die volle gewig van ons uiteindelik hoop te dra nie. Hulle is net te breekbaar. Net die Here self is sterk genoeg om die volle gewig van ons harte te dra.
Dis hoekom hierdie verse vermoeide siele geslag na geslag versterk. Elke sonsopkoms verkondig stilweg dat God se genade nie opgeraak het nie. Elke nuwe dag kondig aan dat sy medelye nie opgebruik is deur gister se mislukking of vandag se smart nie. Elke oggend herinner ons daaraan dat sy getrouheid nie afhang van ons krag om aan Hom vas te hou nie, maar aan sy onwrikbare toewyding om ons vas te hou.
Lees weer hierdie verse stadig oor en laat hulle prag in jou hart neerslag vind, terwyl jy nadink oor die standvastige liefde van die God wat deur elke seisoen in jou lewe getrou gebly het.
“… deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot” (Klaagliedere 3:22-23)
Mag hierdie woorde meer beteken as net verse wat ons gememoriseer het. Mag hulle die innerlike lied word in elke seisoen van vreugde en hartseer en ons daaraan herinner dat die God wat ons gister gedra het, ons vandag weer getrou sal ontmoet. Mag ons elke oggend, hoe gewoon dit ook al lyk, ons oë ophef na die Een wie se barmhartigheid geen einde het nie, wie se medelye nooit faal nie en wie se getrouheid sal voortduur lank nadat elke storm verby is.
Jesus, dankie dat u getrouheid nie van my omstandighede afhang nie, maar van u onveranderde karakter. Wanneer smart my uitsig belemmer, leer my om te onthou wie U is. Help my om nie te fokus op die tydelike nie, anker my hart in u standvastige liefde en help my om te vertrou dat u genade werklik elke oggend nuut is. In die Naam van Jesus. Amen.




