Ons kledingstuk van vriendelikheid

Ek het tydens my grootwordjare baie verskillende uniforms gedra. As kind wat baie sokker gespeel het, was ek elke Saterdag in pers en swart geklee met sokkerstewels en skeenbeskermers wat deur lang swart sokkies tot by my knieë bedek is. Wanneer ek hierdie uniform gedra het was ek deel van ‘n span en geklee om atleties op die veld te presteer.

Tydens my universiteitsjare het ek by ons kampus se ontspanningsentrum gewerk. Ek het ‘n jean en ‘n maroen polo-hemp gedra met ‘n naamplaatjie en ‘n geborduurde embleem wat “Member Services” (Liddienste) aangedui het. In hierdie uniform was ek herkenbaar as iemand wat mense kon help om by ons gimnasium aan te sluit, fooie te betaal, toerusting uit te neem en met talle ander ontspanningsaktiwiteite te help.

Nou as onderwyser by ‘n plaaslike hoërskool het ek effens meer vryheid wat my kleredrag betref, maar ek dra steeds herkenbare tekens wat wys wie ek is. Ek sit elke oggend my skoolkenteken op en dra soms ons skool-T-hemde. Dit wys dat ek deel is van ‘n skoolgemeenskap waar ek verantwoordelik is vir die welstand van ons gemeenskap se leerders.

Om vriendelikheid aan te trek

Hoe lyk dit vir ons as volgelinge van Jesus om die “kleding” van sy koninkryk te dra en ons met Christus te vereenselwig? Hoe sou mense weet dat ons aan Jesus behoort wanneer hulle na ons kyk? Een van die belangrikste kenmerke van ons verhouding met Christus is om vriendelikheid aan te trek, selfs wanneer dit ons iets kos.

Wanneer ons vriendelik is teenoor ander wat ons te na gekom het, staan ​​dit in skrille kontras met die kulturele norm om wraak te neem. Wanneer ons kies om mense vriendelik te behandel – ongeag die ervarings wat ons met hulle mag hê – trek ons so te sê ‘n goddelike “uniform” aan.

Hierdie uniform is ‘n opvallende kenmerk wat ons as volgelinge van Jesus onderskei en aan ander toon dat ons doel en identiteit nie deur konflik verander word nie. Net soos ek deel was van ‘n span en ‘n organisasie, behoort ons aan ‘n koninkryk wat groter is as onsself. Om ons elke dag met vriendelikheid te beklee, beteken dat ons die uniform aantrek wat ons geroep is om te dra.

Die uitdaging van vriendelijkheid

Ek erken dat dit prysenswaardig klink om elke dag vriendelikheid aan die dag te lê, maar die werklikheid daarvan is baie meer uitdagend. Wanneer ons in ‘n situasie met gespanne emosies verkeer en daar ‘n botsing is tussen ons eie begeertes en dié van iemand anders, is vriendelikheid dikwels die eerste karaktereienskap wat agterrweë bly.

Toe ek by my kollege se ontspanningsentrum gewerk het, moes ek voortdurend professionaliteit en vriendelikheid handhaaf wanneer kliënte ontevrede of ongeduldig was. As onderwyser en nou as studenteraadgewer ontmoet ek daagliks studente wat vriendelikheid as ‘n swakheid beskou. Hulle sien die wêreld as ‘n kompetisie, ‘n stryd om oorlewing van die sterkstes, wat beteken dat vriendelikheid daartoe kan lei dat iemand uitgebuit word.

‘n Nuwe uniform ontvang

Wanneer vriendelikheid die moeilike keuse is of wanneer dit ons iets kos, hoe kan ons dit werklik beoefen soos God van ons verwag om te doen?

Kolossense 3:12 vertel ons hoe. Ons is deur God uitverkies, heilig en geliefd. Wanneer ons besef dat die God van die heelal ons kies om sy mense te wees is dit nie nodig om deur onvriendelikheid te veg vir betekenis, respek of besittings nie. Onvriendelikheid is die kenmerk van ons ou mens, die tyd toe ons sonde vir God aanstootlik was en ons nie aan Hom behoort het nie. Kolossense 2:21 sê selfs vir ons dat ons sondes ons vyande van God gemaak het. Tog het Hy sy vriendelikheid aan ons bewys deur ons as sy mense te kies, ons sonde weg te was om ons heilig te maak enlief te hê soos ‘n volmaakte Vader. Deur God se vriendelikheid is ons nie meer vyande nie. Inteendeel, ons verhouding is versoen (Kolossense 2:21).

As God ons onvriendelikheid en sonde gedra het en steeds sy liefde, vergifnis en ‘n plek in sy koninkryk aan ons gebied het, hoe kan ons dan nie omdraai en dieselfde aan ander bied nie? Hoe kan ons nie versoening met ander soek nie? Hierdie liefde van God verander ons radikaal van binne na buite en beweeg ons daartoe om vriendelikheid teenoor ander te wys, selfs wanneer dit ons iets kos (Romeine 2:4).

As vriendelikheid ‘n vrug van die Gees is wat die laaste tyd nie so sterk in jou lewe groei nie, ruim vandag tyd in om daardie werklikheid aan God te bely. Vra dan die Heilige Gees om jou daaraan te herinner. Deur Christus se vriendelikheid is jy “beklee met die nuwe mens” wat geroep en bemagtig is om nou elke dag getrou vriendelikheid te dra (Kolossense 3:10). Vra Hom om jou steeds te verander in die Christusgesentreerde mens wat Hy wil hê jy moet wees. Dank God ten slotte dat Hy vir jou die klere van sy koninkryk gegee het – ‘n uniform wat altyd perfek sal pas.

Alli Clements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs