Wanneer God se plan langer vat as wat jy gedink het

 

Daar was ‘n seisoen in my lewe toe ek gedink het dat alles in plek val.

Ek was verloof. My lewe was in kartondose gepak, gereed om vervoer te word. Ek het kennis gegee by my werk, sou binnekort my graad kry, was besig om ‘n kleinskaalse troue te reël en het gedroom om my eie vryskutbesigheid te begin terwyl ons in die proses was om na ‘n ander provinsie te trek.

Meteens, amper oornag, het elke plan uitmekaar geval.

Die troue sou nie meer plaasvind nie.

Ek sou nie meer trek nie.

Die toekoms wat ek sorgvuldig beplan het, het voor my oë in duie gestort.

Wanneer ek nou terugkyk, kan ek met ‘n glimlag dink aan hoe die 20-jarige Ashley gevoel het. Op daardie oomblik het dit geensins dramaties gevoel nie. Ek was verpletter. Ek het gewonder of ek ooit sou trou. Ek het gewonder of die toekoms waaroor ek gedroom het vir goed verby was. Alles wat ek gedink het God besig was om te doen, het skielik tot stilstand gekom.

Ek het gedink God was besig om my planne te verydel.

As ek nou terugkyk, kan ek sien dat Hy in liefde besig was om ‘n beter verhaal vir my te skryf as die een waaroor ek gedroom het.

Josef het geweet hoe dit voel om toe te kyk hoe ‘n lewe ‘n ander rigting inslaan; een wat hy nooit sou gekies het nie.

Wanneer ons Genesis 50 lees, is dit maklik om op Josef se welbekende woorde te fokus:  “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen” (Genesis 50:20). Daardie woorde het gelowiges al vir geslagte lank vertroos, maar soms vergeet ons wanneer Josef dit gesê het.

Hy het dit nie gesê toe hy op die bodem van die put was nie.

Hy het dit nie gesê terwyl hy in die tronk was en gewonder het of iemand hom onthou nie.

Hy het dit nie gesê terwyl hy getrou die mense gedien het wat hom uiteindelik sou vergeet nie.

Hy het dit dekades later gesê.

Teen die tyd dat Josef daardie woorde gesê het, het hy lank genoeg geleef om terug te kyk en God se hand in elke kinkel van sy lewe raak te sien.

Ek dink dis belangrik omdat nie een van ons in Genesis 50 leef nie. Ons leef tussen die put en die paleis.

Ons is in die middelste hoofstukke, waar die verhaal voel of dit nog nie klaar is nie.

Die hoofstukke waar gebede nog nie beantwoord is nie, dit voorkom of drome vertraag word en God se tydsberekening pynlik anders voel as ons eie.

Josef se selfvertroue was nie gegrond in die finale begrip van elke pynvolle deeltjie van sy lewe nie. Die Skrif sê nooit vir ons dat hy elke antwoord op sy “hoekom-vrae” gekry het nie. In plaas daarvan het Josef iets selfs groter as begrip begin vertrou. Hy het die karakter van God vertrou.

Let op wat Josef sê: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen.”

Sy broer het voornemens gehad. God het ook voornemens gehad. Dit wat ander vir kwaad bedoel het, kon nie stop wat God vir goed bedoel het nie. Dit beteken nie dat die put nie pynvol was nie. Dit beteken nie dat die verraad hom nie seergemaak het nie. Dit beteken nie dat die tronk nie eensaam was nie. Daardie dinge was werklik, maar hulle was nooit buite God se soewereine sorg nie.

Selfs toe Josef dit nie kon sien nie, was God getrou in die agtergrond aan die werk, besig om ‘n verhaal te verweef wat nie net Josef se lewe sou bewaar nie, maar ook tallose ander sou red te midde van ‘n vernietigende hongersnood.

Dieselfde geld vir ons. So dikwels neem ons aan dat, omdat die lewe nie verloop volgens ons tydlyn nie, iets verkeerd geloop het. Wat daarvan as die vertraging nie ‘n bewys is dat God van ons vergeet het nie? Wat daarvan as dit die bewys is dat Hy nog steeds besig is om jou verhaal te skryf?

Een van my gunsteling besonderhede in hierdie gedeelte is Josef se reaksie op sy broers se vrees: “Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie.” (Genesis 50:19).

Josef het iets verstaan wat ons dikwels sukkel om te aanvaar. Hy het nie God se perspektief nodig gehad om God se hart te vertrou nie. Hoe dikwels put ons onsself uit om te probeer om vrae te beantwoord wat net God kan beantwoord?

Hoekom het dit gebeur?

Hoekom is die gebed nie beantwoord nie?

Hoekom floreer almal terwyl ek vashaak?

Josef herinner ons daaraan dat ons nooit veronderstel was om die rol van God te vervul nie. Ons hoef nie elke hoofstuk te verstaan om die Outeur te vertrou nie. Dis wat Bybelse geduld is. Geduld is nie maar net om te wag dat God optree nie. Dis om Hom voortdurend te vertrou terwyl Hy ‘n verhaal skryf wat jy nog nie kan sien nie.

Jare ná daardie gebroke verlowing kan ek terugkyk en God se goedhartigheid verweef sien deur daardie seisoen, op maniere wat ek my nooit sou kon voorstel nie. As alles volgens my planne verloop het, sou ek so baie van wat God vir my voorberei het gemis het.

Miskien was die grootste geskenk nie maar net die ander soort lewe wat Hy uiteindelik vir my gegee het nie. Dit was om te ontdek dat Hy betroubaar was lank voordat ek kon verstaan wat Hy besig was om te doen.

Miskien kyk jy vandag na jou onvoltooide hoofstuk. Dalk is dit ‘n verhouding wat beëindig is, ‘n diagnose wat jy nie verwag het nie, ‘n verlange wat nog nie vervul is nie, of ‘n gebed wat jy al vir jare lank bid.

As dit jy is, onthou vir Josef. Onthou die karakter van God. Onthou dat die vers waarvoor ons so lief is, gekom het na jare van getroue gewag. Onthou dat God in elke hoofstuk aan die werk was — selfs dié wat Josef nie verstaan het nie. Onthou ook dat net omdat jy nog nie kan sien wat God besig is om te doen nie, nie beteken dat Hy nie besig is om iets moois te doen nie.

Jy leef dalk nog nie in jou Genesis 50 hoofstuk nie. Jy is dalk nog iewers tussen die put en die paleis. Dieselfde God wat egter getrou was in elke hoofstuk van Josef se verhaal, werk ook getrou in joune. Sy planne is altyd op tyd. Al neem sy plan langer as wat jy verwag het, geld dit nie ook vir sy goedertierenheid nie.

Week 3 Leesplan

 

Week 3 Memoriseervers

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs