Geduldige en sagmoedige leierskap

Vir elf jaar was ek ‘n onderwyseres in ‘n openbare skool. As daar nou een beroep is wat jou geduld tot die uiterste beproef, is dit die onderwys. Jy sal dikwels twyfel of jy ‘n onderwyser moes geword het. Vir tien van daardie jare, het ek graad 5-leerders onderrig (10- en 11- jariges). In my laaste jaar het ek hoërskool leerders onderrig. Laat ek dit nou duidelik stel: ek is baie dankbaar vir alles wat die Here my geleer het terwyl ek graad 5-leerders onderrig het, want my geduld was op unieke maniere beproef terwyl ek hoërskoolleerders onderrig het.

Wat beproef jou geduld? Is dit jou huismense wat vuil skottelgoed in die wasbak los? Jou kinders wat nie na jou luister nie? Stadige bestuurders voor jou wanneer jy haastig is? Al hierdie dinge? Ek glo dat sonde vir ons lê en wag as ons geduldbarometer aan die lae kant is. Ongeduld veroorsaak uitbarstings, wat tot spyt lei. Wat my betref; ongeduld trek my nader aan die Here. In sulke oomblikke het ek sy hulp dringend nodig.

Kyk na die Here as jy in leierskap is

In Numeri 12:3 lees ons van ‘n man genaamd Moses, wat ‘n “uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde” was. ‘n Ander woord wat ons vir “nederig” kan gebruik is “sagmoedig”. Wanneer jy die verhale in die Bybel lees van Moses, sal jy agterkom dat hy baie dapper dinge gedoen het. Hy het teen magtige heersers opgestaan, gesien hoe God die Rooisee voor die Israeliete oopbreek, en tallose ander wonderwerke wat deur hom deur die krag van God plaasgevind het.

Moses se sagmoedige leierskap is teenoorgesteld van hoe ons dikwels leierskap beskou van hulle wat in ons tyd aan bewind is. Dit lyk of die luidkeelste, sterkste, rykste en mees geleerde mense magsposisies beklee en om sagmoedig te wees glad nie is hoe ‘n sterk leier beskou word nie.

Dis egter nie hoe God sterk leierskap beskou nie. Die Bybel beklemtoon leiers soos Moses, Abraham, Dawid, Petrus, Paulus en natuurlik Jesus. Deur hierdie voorbeelde sien ons hoe ons moet reageer, of nie reageer, in moeilike situasies nie. Was hierdie leiers perfek? Nee, glad nie. Hulle het God egter toegelaat om hulle te leer en te gebruik om geslagte van gelowiges te help sien hoe ware sagmoedigheid lyk. Soms het hulle misluk, soms was hulle suksesvol. Deur dit alles het hulle egter altyd na die Here gekyk as die enigste Een wat hulle kon red.

Soek die Here se hart

Daar was baie kere toe ek min geduld met sommige van my leerders gehad het. Ek het gesukkel om ‘n verhouding met hulle op te bou. Ek het nie daarna uitgesien om hulle in my klas te hê nie. Meestal was hulle die oorsaak van my gebrek aan sagmoedigheid. In die vyfde jaar het God dit my regtig op die hart gedruk om vir dié leerders te begin bid wat my so gefrustreer het. Ek het begin om vir die Here te vra: “Vader, hoe kan ek uitreik na hulle? Wat kan ek doen om ‘n verhouding met hulle te begin bou, tot so ‘n mate dat ek daarna sal uitsien om hulle elke dag te sien?” En weet jy wat die Here gedoen het? Hy het geleenthede geskep waar ek hulle beter kon leer ken, hul huislewe, waarvan hulle hou of nie hou nie. Gou-gou was dit die leerders vir wie dit vir my moeilik was om totsiens te sê aan die einde van die jaar. Dit was net omdat ek die Here in nederigheid gevra het om my te help. Hy het daardie kinders liefgehad en ek wou hulle ook liefhê.

Wie of wat beproef jou sagmoedigheid? Het jy al die Here gevra om jou te help? Het jy tyd ingeruim om die lewe vanuit ‘n ander perspektief te beskou? Ek wil jou uitdaag om oor daardie areas van jou lewe te bid; daar waar jy die meeste ongeduldig is, en kyk wat die Here kan doen met jou nederige ingesteldheid.

Week 5 Leesplan

Week 5 Memoriseervers

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs