Die prag van blywende vrug

Sommige van my kosbaarste herinneringe van my kinderjare, was dié wat ek saam met my pa in die agtertuin deurgebring het.

Elke lente het ons agterplaas geleidelik ontpop met rye groente, rankende wingerd, welige kruie en kleurvolle blomme. My gunstelingplek was wat ons liefdevol die “sonneblomhuis” genoem het. My pa het sonneblomme in ‘n groot reghoek geplant, met net genoeg spasie om tussen hulle deur te stap. As klein dogtertjie het dit vir my gevoel of ek in ‘n ander wêreld instap. Omring deur hoë blomme wat hemelhoog staan, was ek oortuig dat daar nie ‘n meer betowerende plek op aarde was nie.

Terwyl ek net die prag geniet het, het my pa stilweg aandag gegee aan besonderhede waarna ek skaars opgelet het. Hy het geweet watter plante meer water nodig gehad het, watter ekstra stutte moes kry, watter gesnoei moes word en watter net tyd nodig gehad het. Hy het iets verstaan wat ek eers jare later ten volle kon waardeer: gesonde plante dra nie vrugte deur hard te probeer nie. Hulle word vrugtevol omdat iemand goed vir hulle sorg.

Jare later sou ek hierdie gebeure onthou elke keer wanneer ek Galasiërs 5 lees. Dis nie toevallig dat wanneer God ons oor geestelike volwassenheid wil leer, Hy dikwels ons gedagtes rig op tuine, wingerde, lote, sade en vrugte nie.

TITEL

Regdeur die Skrif weerspieël die skepping die hart van sy Skepper en nêrens is dit meer duidelik as wanneer Jesus homself die wynstok noem en ons, sy mense, die lote nie. Vrugte was nog altyd God se taal om ‘n lewe wat diep in Hom gewortel is te beskryf.

Die kerke in Galasië het egter begin om dit te vergeet. Valse leraars het baie gelowiges oortuig dat geestelike volwassenheid verkry kon word deur reëls na te kom en godsdienstige praktyke te volg, eerder as om afhanklik te wees van Christus. Regdeur sy brief herinner Paulus hulle liefdevol, dog ferm, dat vryheid in die evangelie gevind word. Teen die tyd dat ons hoofstuk 5 lees, gee hy hulle nie nog ‘n afmerklysie om te voltooi nie. Hy bied egter iets mooier. “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word” skryf hy, ” dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.” (Galasiërs 5:16).

Wat ‘n verstommende uitnodiging.

Let op wat Paulus nié sê nie. Hy sê nie ons moet liefde fabriseer, op ons tande kners om geduldig te word, of net nog harder probeer om meer selfbeheersd te wees nie. In plaas daarvan verwys hy ons na die Heilige Gees. Die vrugte wat hy beskryf is nie iets wat ons kan fabriseer deur net gedetermineerd te wees nie. Dit is die bewys van ‘n lewe wat oorgegee is aan die transformerende werk van God.

Die ware bron van vrugte

Dalk kan jy, net soos ek, terugkyk op al die seisoene van jou wandel met die Here en herken dat, sonder dat jy dit eers besef het, jy jouself gevra het om voort te bring wat slegs die Heilige Gees kan laat groei. Jy het jou kerk getrou gedien, jou gesin liefgehê, vriende bemoedig, die Woord van God gelees, en opreg verlang om Christus te eer. Iewers langs die pad het jy begin glo dat as jy net harder probeer het, langer gebid het of meer gedissiplineerd was, jy uiteindelik die vrou kon word wat God jou geroep het om te wees. Die probleem was nooit jou begeerte om gehoorsaam te wees nie. Die probleem was om te glo dat vrugte vervaardig kon word in plaas van gekweek word deur in Christus te bly.

Jesus bied aan ons iets heeltemal anders as ons strewe.

In Johannes 15:4 sê Jesus vir sy dissipels: ” Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.” ‘n Loot sukkel nooit om vrugte te dra nie. Dit bly eenvoudig vas aan die bron van lewe. Terwyl voedingstowwe deur die wingerd vloei, begin vrugte natuurlik verskyn. Dieselfde geld vir elke volgeling van Christus.

Wanneer ons naby Jesus bly deur sy Woord, gebed, aanbidding en daaglikse oorgawe, begin die Heilige Gees ons harte verander om meer te lyk soos die Een wat ons liefhet. Liefde vervang selfsugtigheid. Vrede heers in ons harte. Vriendelikheid word ons instink eerder as ons verwagting. Ook selfbeheersing, wat soms onmoontlik voel in ons eie krag, word sigbaar as gevolg van Iemand wat oneindig groter in ons aan die werk is.

Dit beteken egter nie dat groei oornag plaasvind nie.

As ek terugkyk, kan ek nie onthou dat my pa ooit gefrustreerd in die tuin rondgeloop het omdat ‘n tamatieplant nie vrugte gedra het enkele dae nadat dit geplant is nie. Hy het verstaan dat dit gesonde groeityd, getroue sorg en geduldige bewerking verg. Elke dag het hy natgemaak, versorg, onkruid verwyder en vertrou dat lewe stilweg onder die oppervlak groei lank voordat vrugte verskyn het.

Hoe dikwels doen ons hemelse Vader dieselfde met ons

Hy snoei af wat ons groei belemmer, hy voed ons deur sy Woord, Hy oortuig ons sagkens as ons dwaal en gaan voort met die goeie werk wat Hy in ons begin het, al kan ons nog nie alles sien wat Hy vermag nie. Hy jaag nooit die proses aan nie, kyk nie besonderhede mis nie en laat vaar nooit die werk van sy hande nie.

God se transformerende werk in ons harte

Ek hou daarvan hoe Sefanja 3:17 vir ons een van die mees asemrowende kykies na God se hart teenoor sy kinders gee. Die Here is vol vreugde oor jou, is stil-tevrede in sy liefde en jubel en juig oor jou. Watter verstommende genade is dit dat dieselfde God wat geestelike vrugte in ons kweek nie op ‘n afstand staan en wag vir ons om dit uiteindelik “reg te kry” nie. Hy verlustig Hom liefdevol in ons, selfs terwyl Hy ons getrou verander in die gelykenis van sy Seun.‎

Miskien is dit hoekom Paulus hierdie eienskappe die vrug van die Gees noem eerder as die werke van die Gees. Vrugte kan nie geforseer word om te dra nie. Hulle groei stilweg terwyl hul verbind bly aan die bron van lewe. Op dieselfde manier is Christelike karakter nie iets wat ons deur ons eie strewe kan bereik nie. Dis ‘n pragtige bewys van ‘n hart wat in Christus bly.

Die Christelike lewe het nog nooit gegaan oor die strewe om iemand te word wat Jesus uiteindelik sou liefhê nie. Dit gaan altyd daaroor om in die Een te bly wat ons alreeds liefhet. Soos wat ons dag vir dag in pas met sy Gees wandel, vorm Hy geleidelik ons harte totdat ons lewens sy eie begin reflekteer. Die transformasie mag stadiger wees as wat ons verkies, maar dis niks minder as ‘n wonderwerk nie. Elke klein bewys van geduld, sagmoedigheid, getrouheid en selfbeheersing wat groei, is die uiteindelik bewys van Christus wat getrou in ons werk.

Lees weer stadig deur vandag se Skrifgedeelte en vra die Heilige Gees om vir jou te wys watter vrugte nog in jou moet groei. Oordink ook waar Hy jou vra om nader aan Jesus te kom.

Vrugte was immers nog nooit die doelwit nie. Jesus is!

Die pragtige geheimenis van die evangelie is dat hoe nader ons aan Hom beweeg, hoe meer sal ons lewens ‘n ooreenkoms met Syne toon. Eendag, wanneer ons Hom van aangesig tot aangesig sien, sal daardie werk voltooi wees. Mag ons tot dan met vreugde in pas met die Gees wandel en die getroue Tuinier vertrou, wat nooit ophou om skoonheid in die lewe van sy kinders te kweek nie.

Dankie Jesus, dat U my nooit vra om in my eie krag soos U te word nie. Dankie vir die Heilige Gees wat U vir my gee, wat my dag na dag geduldig transformeer terwyl ek in U bly. Leer my om nader aan U te kom, u tydsberekening te vertrou en te onthou dat blywende vrugte altyd groei vanuit ‘n lewe wat aan U oorgegee is. Mag my lewe u prag meer en meer reflekteer en eer aan u Naam bring. Amen.

 

 

Palmer Whiston

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs