

Ek en my man het na ’n epiese fliek gekyk waarin die magte van goed en kwaad teen mekaar geveg het. Die aanstormende leër, gedryf deur haat en woede, het genadeloos opgeruk om chaos in ’n hegte gemeenskap te saai. Op een tydstip het ek my oë met my hande toegehou en gekreun toe ek sien hoe die donker krygers ’n kanon op die muur rig wat ’n stad vol onskuldige vroue en kinders omring het. Die klipmuur, wat die stad moes beskerm, het verbrokkel. Die bose vyand het die gebied binnegeval en alles wat mooi was, begin verwoes. Dit was duidelik dat hierdie versperring, wat deur mensehande gebou is, nie ondeurdringbaar was nie.
Wysheid leer ons dat ’n gedissiplineerde lewe, wat die Woord van God gehoorsaam, bonatuurlike beskerming teen die kwaad bied. Iemand wat nie selfbeheersing het en geen perke stel nie, is kwesbaar en weerloos teen aanvalle. Ons selfsugtige keuses lei tot ’n gebrek aan standvastigheid en skep ’n opening in ons waardeur die vyand ons siel kan binnesluip en die dinge wat ons beskerm, kan afbreek. Wanneer ons onverskillig leef en nie op ons hoede is nie, stel ons ons harte oop vir versoekings en ons gedagtes aan vernietigende denke.
Wanneer ons ons aan die leiding van die Heilige Gees onderwerp en die Woord van God gehoorsaam, plant ons Goddelike Helper die karakter van Christus diep in die grond van ons harte. Elke keer wanneer ons ons Bybel oopmaak en kies om te doen wat God sê, gee ons hierdie saad water en groei ons geestelik sterker. In plaas daarvan om ’n selfgesentreerde lewe te lei wat geen ewigheidswaarde voortbring nie, ontwikkel ons die innerlike krag om nee te sê vir sonde. Ons geloof versterk ons teen die vrees, twyfel en moedeloosheid wat probeer om ons harte binne te dring en die pragtige werk wat God in ons lewens wil doen, te vernietig. Die wysheid van die Woord van God leer ons om waaksaam te wees en gevaar betyds raak te sien, sodat ons aan die waarheid kan vashou wanneer ons onverwagte uitdagings teëkom.
’n Vrou wat haar daarop toelê om die Woord van God te bestudeer en haar aan die leiding van die Heilige Gees onderwerp, sal stresvolle situasies met selfbeheersing hanteer.
- Sy luister graag na wyse raad.
Jakobus 1:19 moedig ons aan om “gewillig te wees om te luister”. Dit beteken dat ons nederig daarna streef om insig te verkry uit die Woord van God en uit die voorbeeld van godvresende mense wat ’n invloed op ons lewens het. In plaas daarvan om plannetjies te maak om onsself te verdedig, spits ons ons daarop toe om wysheid te leer.
- Sy praat nie impulsief of bitsig nie, maar dink mooi na oor wat sy sê.
Spreuke 17:28 sê: “As ‘n dwaas nie praat nie, kan selfs hy aangesien word vir ‘n wyse, en as hy sy mond toehou, vir ‘n verstandige mens.”
Wyse vroue dink mooi voordat hulle praat, bid vir wysheid en kies hulle woorde versigtig. Elke woord wat ons sê, onderwerp ons aan die leiding van die Heilige Gees. Hy leer ons om soos Christus met selfbeheersing te reageer.
- Sy laat die Heilige Gees haar optrede en emosies beheer.
In plaas daarvan om op ’n moeilike dag ons frustrasies op ander uit te haal, kan ons kies om stadig en bedagsaam te reageer. Ons kan ons gevoelens van woede onder die gesag van die almagtige God plaas. Ons kan vertrou dat die Here vir altyd op die troon sit en in beheer is van alles wat ons raak.
Wanneer ons geestelike aanvalle en onverwagte teëspoed beleef, kan ons ons tot God wend en Hom vra om ons te help om met dieselfde selfbeheersing en innerlike krag as ons Verlosser te reageer. In plaas daarvan om in moeilike tye aan negatiewe emosies toe te gee, kan ons kies om ons tot Jesus te wend vir die nederigheid en volharding wat ons so dringend nodig het. Wanneer ons ons aan ons sterke Verlosser oorgee, beskerm Hy ons harte.
’n Vrou wie se lewe goed beskerm is, wend haar tot die Here wanneer alles vir haar te veel raak. Sy vertrou dat die Heilige Gees haar sal bystaan, haar sal ondersteun en haar die krag sal gee om te oorwin. Liewe vriendin, jy kan met vertroue vorentoe gaan, want ons Goddelike Raadsman sal die vrug van selfbeheersing in jou lewe laat groei. Hy sal jou help om staande te bly, selfs wanneer die vyand probeer om deur jou beskermende skild van geloof te breek.




