Groot Lydensweek Dag 7: Wat Die Dood Nie Kon Vashou Nie

Vandag lees ons Matteus 27:62-66. Hierdie gedeelte verduidelik volgens Matteus wat plaasgevind het op die dag na Jesus se kruisiging.

Die gekose Skriflesing vir vandag is Matteus 27:62-66 met Matteus 27:65-66 as ons SOAP-verse.

 

Pilatus antwoord hulle:

“Hier is vir julle ‘n wag; gaan beveilig die graf so goed as julle kan.”

Hulle het toe gegaan en die graf beveilig

deur die klip te verseël en die wag daar te laat bly.

 

Stel jou ‘n oomblik voor. . .

Die man wat jy gevolg het, ‘n man wat jy glo God is, is nou in die hande van die Romeinse amptenare. Tydens sy openbare verhoor skuur jy deur die massa mense om jou Verlosser in die oog te kry, net om Hom gekneus en gehawend te vind. Die skare skree: “Kruisig hom!” Alhoewel niemand fout kan vind by Jesus nie, swig die Romeinse goewerneur, Pilatus. Hy veroordeel Jesus tot die dood en die Romeinse soldate mors nie tyd om Hom weg te neem nie. Jy volg so vinnig as wat jy kan.

Jy kom by die hoofkwartier van die goewerneur aan. Wanneer jy jou oor teen die muur druk, hoor jy die soldate se beledigings. As jy deur ‘n venster loer, sien jy Jesus, heeltemal verneder, voor diegene staan wat Hy gekom het om te red. ‘n Doringkroon sit bo-op sy kop en bloed stroom oor sy gesig. Hou na hou, slag op slag, slaan die Romeine Hom en skree: “Ons groet u, Koning van die Jode!” (Matteus 27:29).

Verwarring rammel deur jou gedagtes. Met jou eie oë het jy gesien hoe Jesus duisende met net ‘n handvol brood en vis voed. Jy was daar toe Hy ‘n dooie man lewend gemaak het en jy het gesien hoe hy uit sy graf loop. Jy was getuie hoe Jesus blindes laat sien en kreupeles die vermoë gee om te loop. Waarom staan Hy net daar?

Vervolgens lei soldate Hom vanaf die hoofkwartier van die goewerneur na ‘n heuwel. Hulle hang Hom aan ‘n kruis. Terwyl hulle sy hande en voete aan die hout vasspyker, steek sy gille van pyn deur jou ore en breek jou hart. Naak en sterwend spreek Jesus sy laaste woorde: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Matteus 27:46). Daarmee blaas Hy sy laaste asem uit.

Totale verslaenheid oorweldig jou. Hy was die Een wat veronderstel was om jou van die dood te red. Hy was die Een wat lewe gebring het. Jy is sonder hoop, verward en hartseer. Jesus is doodgemaak; God het gesterf.

Uiteindelik word Hy van die kruis afgebring, sy liggaam word haastig voorberei, toegedraai in doeke en weggevoer in ‘n graf. Romeinse amptenare vrees dat sy dissipels sy liggaam kan steel, daarom verseël hulle die ingang na sy graf met ‘n groot klip.

Wanneer ons vandag die duisternis van daardie Saterdag tussen Jesus se dood en opstanding onthou, kan ons nadink oor die duisternis van ons lewens sonder Christus. Wanneer ons vandag sit en wag, kan ons groei in ons begrip van die impak van ons sonde. Sonder Jesus sou ons geen hoop, geen toekoms en geen verhouding met God kon hê nie. As gevolg van sy dood word ons sondes bedek en ons skuld betaal. Selfs in die donkerte van hierdie dag kan ons met hoop na die einde van die verhaal kyk!

Vra God om die erns van jou sonde te openbaar. Watter sonde in jou lewe vra Hy van jou om vandag aan Hom oor te gee? Loof God vir die maniere waarop Hy jou verlos het en vra Hom vir die krag om voort te gaan om van sonde weg te draai.

* Uittreksels uit hierdie inhoud is oorspronklik gepubliseer in die NET ‘Love God Greatly Bible’, geskryf deur Karen Millican.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Geen Bybelstudie is gevind nie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse