Onverganklike Skoonheid

Onverganklike Skoonheid

Claire Marshall

Ek het maar onlangs dertig geword. Dit mag dalk vir party mense nie so oud wees nie, maar ek moet erken dit voel asof dit ‘n bietjie gou op my afgekom het. Namate ek ouer word, is daar nuwe dinge wat nou my gedagtes in beslag neem. Ek het agtergekom dat ek baie bewus geraak het van watter nagroom ek “moet” gebruik om my vel ferm te hou. Of ek wonder watter serum ek moet koop vir die sakke onder my oë wat al groter word. Ek het al gewonder, namate ek al meer grys hare sien kop uitsteek, wat ek daaromtrent moet doen – of ek dit maar so moet los of kleur? Ek oorweeg watter oefenprogram ek moet begin volg sodat ek gesonde roetines kan hê. Ek wonder watter modestyl by my ouderdom sal pas wat my darem nie te oud of te jonk laat lyk nie. Danksy die internet, is ek konstant bewus van die druk om op hoogte van hierdie sake te wees voordat dit te laat is, al het ek maar sopas dertig geword!

Om ‘n gesonde leefstyl en gewoontes te hê terwyl jy die liggaam wat God vir jou gegee het versorg, is niks om oor skaam te wees nie. Wanneer dit egter jou hoofdoel is, is daar ‘n ernstige probleem.

Wanneer ek oor hierdie verse in 1 Petrus 3 nadink, raak my gedagtewêreld vir my problematies. Ek besef dat dit vir my baie meer saak maak hoe ek my fisieke self kan verbeter namate ek ouer word, as my geestelike groei.

Vir die vroue in Antieke Rome was hul begeerte om uit te staan deur wat hulle gedra en hoe hulle hulself versier het, ‘n groot versoeking. Petrus waarsku hulle daarteen. Maar is ons nie ook maar vandag geneig om dieselfde te doen nie? In ons geval mag dit dalk nie gevlegte hare of goue juwele  wees nie, maar dit kan net sowel die beste velsorg, haarkleur of klere wees. Ons begeer hierdie dinge ter wille van wat ander sal sien. Ons verskil nie soveel van Antieke Rome nie.

Petrus lê daarop nadruk dat ons versiering verband moet hou met dit wat in ‘n mens se hart verborge is. Wat hiermee bedoel word, is dat die versiering van die hart ook in ‘n geestelike sin nie ter wille van uiterlike voorkoms moet wees nie. Ons kan alte maklik soos ‘n Fariseër behep wees met die “groei” van ons hart om deur ander gesien en beïndruk te word.

Die versiering in 1 Petrus 3 is dat ons harte op persoonlike en private maniere sal groei dat dit tot ‘n saggeaarde en rustige gees sal lei. Dit is iets innerlik wat wel ‘n uitwerking op ons uiterlike voorkoms sal hê, maar dit word nie deur iets uiterlik aangespoor nie.

‘n Saggeaarde en rustige gees is ook nie een wat vertrap kan word en geen stem het nie. In plaas daarvan, rus dit in die Here en vertrou op Hom om in en deur ons te werk terwyl ons groei in daardie verborge plekke wat net deur Christus aangeraak kan word. ‘n Saggeaarde en rustige gees probeer nie presteer of iets bereik nie, maar dit leef vanuit haar Godgegewe identiteit.

Wanneer ons op die verborge persoon van die hart konsentreer, sal daar minder druk en minder prestasie wees, en meer van Christus se karakter, wat vrede en vreugde meebring. Dit sal soveel vryheid bring aan die manier waarop ons as dogters van God leef. Dit moedig nie net ons as individue aan nie, maar ook diegene wat ons teëkom. Wanneer Hy ons grootste skat en vreugde is, word ander aangespoor om hulle harte met sy genade te versier.

Die laaste deel van hierdie verse is vir my die treffendste: “wat in God se oë baie kosbaar is”. Dit is so maklik om ander mense se aandag en respek te begeer. Maar Petrus sê dat ‘n hart wat allereers vir Christus koester, nie net karakter sal bou nie, maar ‘n karakter sal hê wat kosbaar is vir God. Watter groot genade is dit dat ons, selfs in ons sonde, die geleentheid het om nie net deur God raakgesien te word nie, maar ook kosbaar in sy oë te wees. Hierdie genade behoort ons aan te spoor tot ‘n lewe wat ons harte met onverganklike skoonheid versier. Ongeag hoeveel serums my dertigjarige liggaam op die proef stel, eendag sal dit vervaag en vergaan.

‘n Saggeaarde en rustige gees is waarna ek smag om te begeer want dit is ‘n skoonheid wat die eeue sal oorleef deur die genade en liefde van Christus.

Week 3 Uitdaging:

Gebruik hierdie week doelbewus ‘n geestelike gawe wat God jou gegee het om ‘n lukrake daad van vriendelikheid of diens te verrig, of dit nou ‘n klein gebaar is soos om ‘n bemoedigende teks aan iemand van die kerk, ‘n vriend of familielid te stuur of om ‘n paar uur vrywillig te help in ‘n bediening.

Week 3 Leesplan:

Week 3 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse