Gee God Volle Toegang
Melinda Choi
Jy kan alles hê wat jy nodig het. Jou huwelik verbrokkel; jy kan alles hê wat jy nodig het. Onvrugbaarheid breek jou hart; jy kan alles hê wat jy nodig het. Werk is besig om jou gees te verpletter; jy kan alles hê wat jy nodig het. Hartseer oorweldig jou siel; jy kan alles hê wat jy nodig het. As ons Jesus Christus as ons Here en Verlosser aanneem en die gawe van die Heilige Gees ontvang, DAN het ons toegang tot alles wat ons nodig het. Maar, net omdat ons die Heilige Gees het, beteken dit nie dat ons outomaties deur die Gees lewe nie. Dit is ‘n keuse. Dit is ‘n dag tot dag, situasie vir situasie, oomblik vir oomblik keuse.
Romeine 8:11 sê dat dieselfde Gees “deur wie Jesus uit die dood opgewek is, IN JULLE WOON”. Tog, skokkend, leef ons as Christene dikwels steeds asof ons nie die Gees van God in ons het nie. Voordat ons gered is, het ons nie opsies nie. Ons vlees is ons natuurlike reaksie op alles in die lewe. As Christene het ons twee opsies. Ons kan voortgaan om ‘n lewe te lei wat deur ons vlees beheer word, of ons kan ons lewe leef oorgegee aan en bemagtig deur die Heilige Gees. Dit is ‘n lewenslange stryd, ‘n daaglikse inspanning en bepaling van ons siel, waar ons óf kan kies om te lewe deur sy goddelike krag óf deur ons eie bose begeertes.
Ek sê dikwels dat die oomblik wat ons Jesus as ons Here en Verlosser aanneem, ons ten volle oorgegee is, ons harte voor Hom blootgelê, geen area van ons lewens van Hom weerhou nie. Maar ‘n oomblik later neem ons die meeste daarvan terug. En ons begin op daardie lewenslange reis om alles wat ons is aan sy sorg en beheer toe te vertrou.
Ons lewens is soos ‘n huis. Tydens bekering swaai ons die voordeur wawyd oop en gee ons Jesus volle toegang. Maar dan, onmiddelik, beperk ons Hom tot een kamer. Ons wil nie hê Hy moet die deure oopmaak tot mishandeling, verwerping, mislukking, verlies, siekte, eensaamheid, vrees, ensovoorts, nie. Ons dink ons kan daardie dinge op ons eie hanteer. Maar, ons kan nie. Jy kan nie. Ek kan nie.
Die geslote kamer in my lewe was onvrugbaarheid. Vandat ek ‘n klein dogtertjie was, wou ek ‘n mamma word. En ek wou baie kinders hê, ten minste sewe. Maar op die ouderdom van 19 is ek gediagnoseer met ernstige Polisistiese Ovariale Sindroom, met geen ovulasie of menstruasie nie, moontlike vroeë menopouse, en ‘n sist die grootte van ‘n pomelo wat een van my Fallopiusbuise vernietig het. Ek was klinies ‘onvrugbaar’.
Toe ek na vier jaar van getroude lewe swanger raak, was ek verheug. Maar na twee verwoestende miskrame het my vreugde vinnig in pyn verander. Ek het nogal kwaad geword vir God. Ek het Hom weggestoot, maar sy goedheid het my teruggetrek na Hom toe. Terwyl ek na aanbiddingsmusiek geluister het en sy Woord gelees het, het Hy my herinner aan sy beloftes, dat Hy “ons geskep het en ons ken”, “altyd met ons is”, en “aan al ons behoeftes voldoen”. Sy beloftes het die ankers vir my moeë siel geword. Tog was ek vreesbevange om my begeerte na kinders aan Hom toe te vertrou. Ek het die leuen geglo dat as ek die begeertes van my hart aan Hom oorgee, ek dit nooit sal kry nie.
Ek was verslaaf aan my eie ‘bose begeertes’. Maar om kinders te hê is nie ‘n bose begeerte nie, reg? Natuurlik nie! Trouens, God beveel ons om vrugbaar te wees en te vermeerder. Maar wanneer ons iets, enigiets, meer begeer as wat ons die wil van God begeer, dan is ons verslaaf aan daardie begeertes … hoe onskuldig hulle ook al mag wees. Die oomblik toe ek God toegelaat het om by my aan te sluit in die kamer gemerk “Onvrugbaarheid”, het alles verander. Terwyl ek deur die krag van die Heilige Gees gewandel het, God se Woord gehoorsaam en my wil oorgegee het, het God my gewys wie Hy is. Soos ek sy beloftes vertrou het, het my kennis van Hom gegroei. Sy “heerlikheid en goedheid” het my omstandighede oorskadu.
Wat weerhou ons daarvan om God in elke kamer van ons lewe in te laat? Ek glo dat ons diep binne nie glo dat God is wie Hy sê Hy is nie. Wanneer ons weier om die beloftes van God te vertrou, versuim ons eintlik om die karakter van God te vertrou. Dit is presies wat Satan wil hê. Hy wil hê dat ons die karakter van God moet bevraagteken en betwyfel. Hy wil hê dat ons deur die wêreld korrup moet bly en aan ons eie bose begeertes verslaaf moet wees. Satan het dieselfde aan Eva gedoen. Eva het Satan toegelaat om haar te mislei om te dink dat God iets goeds van haar weerhou. Sy het die karakter van God betwyfel. Sy het gedink haar manier is beter as God s’n. Sy het gedink sy kan kennis verkry sonder God. Sy was verkeerd. Dit is deur ons kennis van God dat ons toegang het tot “alles wat ons nodig het vir lewe en godsaligheid”.
God wil hê ons moet vry wees. Hy wil vir ons wys wie Hy is en wat Hy kan doen. Hy wil hê ons moet deelneem aan sy goddelike natuur. Hoe sal ons Hom ken as ons Hom nie soek nie? Om een of ander rede dink ons om in intimiteit met God te groei, is een of ander duistere geheimsinnige truuk. Dit is nie. Dit is eintlik redelik eenvoudig. Dit is dieselfde as om ‘n vriend op te soek. Deur hulle te kontak, tyd saam met hulle deur te bring en ons geheime en drome aan hulle toe te vertrou, bou intimiteit, vertroue en diepe gemeenskap. Dieselfde is waar met God. Soos ons tyd saam met Hom in gebed deurbring, van Hom uit SY Woord leer, en Hom toevertrou met die dieptes van ons harte, groei ons in intimiteit met God. Sulke intimiteit laat ons toe om ‘n toenemende kennis van Jesus se heerlikheid en uitnemendheid te hê.
Hy openbaar Homself aan ons terwyl ons onsself aan Hom oorgee. Soos ons die deure van ons harte oopmaak en sy Heilige Gees in elke vertrek, elke kas, elke verborge spleet inlaat, groei ons in ons kennis van Hom, en het ons deel aan sy goddelike natuur wat ons bemagtig om te wil en op te tree volgens sy goeie plan. Voordat ek God in die verborge kamer van my hart ingelaat het, het ek van God geweet. Nou ken ek God. Waarvoor wag jy? Laat God inkom. Swaai die deure wyd oop en sien dat die Here goed is!
Melinda
Week 5 Uitdaging
Fokus hierdie week op die waarheid dat God reeds alles voorsien het wat jy nodig het vir ‘n goddeike lewe. Identifiseer dan ‘n area in jou lewe waar jy dalk in jou krag streef, eerder as om op God se Goddelike krag staat te maak. Skryf dit neer en bid daaroor. Soek in die Bybel vir beloftes of waarhede wat tot daardie area spreek. Neem dan ‘n oomblik om dit aan God oor te gee en vertrou op sy krag om jou toe te rus en te onderhou.
Week 5 Leesplan
Week 5 Memoriseervers