Die Stryd Is Gewen

Die Stryd Is Gewen

Emily Hope

Ek hou niks van bangmaakflieks nie. Van die paar wat ek al gekyk het, was ek die hele tyd op die punt van my stoel vasgenael omdat ek gevaar om elke hoek en draai sien, en dan maak die mense ook nog dom en gevaarlike keuses. Ek hou nie daarvan om so angstig te voel nie, oorgehaal op enigiets om te gebeur of nie.

‘n Mens kan maklik hierdie gedeelte lees en dink dat ons met vrees en bewing Satan se aanvalle moet afwag. Ek dink nie dit is wat Petrus bedoel het nie. Ja, ons moenie naïef wees nie. Satan is op soek na prooi om gelowiges te probeer weerhou om God te aanbid, in hulle geloof te groei, en Jesus met hulle omstandighede en alledaagse lewe te vertrou. Maar hy is nie teen Jesus opgewasse nie. Om die waarheid te sê, hy is reeds verslaan.

Bewus daarvan, hoe lyk dit om nugter en waaksaam te wees? Hoe staan ons die vyand teen en bly ons standvastig in ons geloof? Dit is gewigtige vrae.

Ken jou vyand.

Die eerste stap, soos vroeër genoem, is om te weet wie jou vyand is en hoe hy te werk gaan. Satan is die teenstander. Hy is ‘n leuenaar (Johannes 8:44). Sy taktiek het nog nie sedert die Tuin van Eden  verander nie (Genesis 3). Hy wil twyfel, verwarring, selfvoldaanheid en sonde veroorsaak. Hy wil verhoed dat soveel mense as moontlik Jesus leer ken. Hy weet wanneer ons op ons kwesbaarste is en ook wanneer dit goed gaan. Hy is meedoënloos.

In tye van pyn, swaarkry, twyfel en versoeking kan dit soms moeilik wees om te onderskei tussen die waarhede van God en die leuens van die vyand. Die goeie nuus is dat God vir ons ‘n manier gegee het om Satan se leuens te beveg: sy Woord. Ek vra myself dikwels af: “Klink dit soos God se stem? Strook dit met wie God sê Hy is en met sy karakter soos dit in die Skrif staan?” Indien dit steeds moeilik is om vas te stel wat waar is, het God sy Heilige Gees vir ons gegee. Die Heilige Gees wat die Gees van die Waarheid is (Johannes 16:13), woon in medegelowiges. Jy kan bid vir sy hulp en God se hulp. God sal nie ontsteld wees of onkant betrap word deur jou versoek nie. Hy luister graag na sy kinders en wil hulle help. Jy kan jou ook tot God se mense wend. Praat met ‘n vertroude, gelowige vriendin. Vra haar of dit wat jy voel, dink of glo met God of Satan ooreenstem.

Ken jou Verlosser.

Die tweede stap is om jou Verlosser te ken en te weet hoe Hy te werk gaan. Hoewel dit die tweede stap is, is dit uiters belangrik. Jesus is die Seun van God (1 Johannes 5:20). In Hom is lig en lewe, en is daar geen duisternis nie (Johannes 1:4). Hy is die uitstraling van God se heerlikheid en die presiese ewebeeld van sy wese (Hebreërs 1:3). Hy sit aan die regterhand van die Vader, wat beteken dat sy verlossingswerk vir ons, om die sonde te oorwin, afgehandel is (Hebreërs 1:3). Jesus is groter as enigiets wat die vyand aan ons kan doen.

Jesus sê ons moet na Hom toe kom wanneer ons uitgeput en oorlaai is, en Hy sal ons rus gee (Matteus 11:28). Dit sluit ook die tye in wanneer ons moeg is vir versoekings, twyfel en geestelike aanvalle. Ons kan met vrymoedigheid na ons Verlosser toe kom want Hy verstaan wat dit is om versoek te word. Net Hy het die satan vierkant in die oë gekyk en nie gesondig nie (Hebreërs 4:15). Hy kan ons deur die geestelike stryd lei. Hy is ‘n magtige dog sagmoedige Redder (Matteus 11:29).

Gee jou dae oor aan Jesus.

Die derde stap is om jou dae aan Jesus oor te gee. Wanneer jy ‘n Christen word, oorhandig jy al jou dae aan Jesus. Daarmee erken jy dat jy nie meer in beheer is nie, en dat jy onder die leierskap en wil van ‘n nuwe meester staan. Soos ons vroeër gesien het, is dit nie ‘n harde, kwaai meester nie. Nee, Jesus is ‘n liefdevolle en vriendelike meester. Hy vra ons om meer soos Hy te wees, nie uit selfsugtige trots nie, maar omdat die lewe in Hom gevind kan word.

Wanneer jy jou lewe aan Jesus oorgee, het jy ‘n nuwe meester! Jy word nie meer deur die vleeslike weë, die weë van die vyand beheer nie (Romeine 6:6). Jy word nou deur die Heilige Gees beheer. Jy is vry om Christus se weë te kies – wat tot voorspoed lei – bo die weë van jou verlede of van die wêreld, wat op pyn en die dood uitloop (Romeine 6:11). Ek wens ek kon vir jou sê dat dit ‘n eenmalige ding is, en dat alles daarna volmaak is, maar dit is nie. Wanneer jy jou lewe aan Christus gegee het, kom die Heilige Gees in jou woon. Loof die Here! Jy het egter steeds jou sondige natuur, wat beteken dat jy daagliks die dinge wat teen die Christelike lewenswyse indruis, moet doodmaak (Romeine 6:12-14). Weer eens, jy is nie alleen nie. Die Heilige Gees is gewillig en wag om jou deur jou dae te lei (Galasiërs 5:16).

Word bemoedig deur gelowiges dwarsoor die wêreld.

Die vierde stap is om te leer by, en aangemoedig te word deur gelowiges dwarsoor die wêreld. Ek weet nie van jou nie, maar ek dink dikwels dat ek al een is wat sekere goed ervaar of deurgemaak het. Dit is altyd so bemoedigend om te hoor van iemand anders dat hulle verstaan wat ek deurmaak en ook al daar was. Ons het mekaar se bemoediging nodig.

Toe Jesus na die hemel opgevaar het, het Hy ons nie alleen agtergelaat nie. Hy het sy Woord, sy Gees en sy mense aan ons nagelaat. Ons het die Kerk, wat bestaan uit alle mense wat deur geloof in Jesus gered is. Ons is bedoel om mekaar aan te moedig, mekaar te ondersteun en vir mekaar te bid. Petrus sê dat dit ons help om waaksaam en nugter te bly wanneer ons die verhale van ander gelowiges regoor die wêreld hoor. Dit is een van die redes waarom ek so dankbaar is vir die bediening van Love God Greatly. Ek word altyd bemoedig wanneer ek hoor wat die Here in en deur die ander taalvertakkings doen en hoe vroue oor die wêreld heen in hulle geloof volhard. Dit versterk my en gee my die krag om ook aan te hou.

Wees getrou.

Die laaste stap is om getrou te wees. Dit klink dalk eenvoudig, maar dit het ewige implikasies. God soek nie volmaaktheid nie. Hy verlang ons getrouheid. God is deeglik bewus van al ons weë. Hy weet dat ons dit nie sal regkry nie. Daarom het Hy vir ons hulp gestuur. Ons is nie veronderstel om genoeg energie of krag bymekaar te skraap om hierdie lewe op ons eie te leef nie. Ons werk is om Hom elke dag getrou te soek, onsself te verloën en ons kruis op te neem, deur die Gees te bid, en in nederige onderdanigheid te leef. Deur sulke gehoorsaamheid kan ons volhard tot die einde toe waar ons ‘n liefdevolle hemelse Vader het wat op ons wag.

Om waaksaam en nugterdenkend te wees is ‘n daaglikse balans. Dit is om te besef dat ons met die satan ‘n stryd voer (Efesiërs 6:12), maar hy het nie die laaste sê nie. Inteendeel, ons word deur die Heilige Gees wat in ons woon, bemagtig om ons dae konstant biddend te bly en op Hom te vertrou om ons te lei, te oortuig, te bemoedig en te help om meer soos Jesus te wees. Jy is nie alleen in hierdie oorlog nie. Die stryd is reeds gewen. Jy kan jou na jou Verlosser, Jesus Christus wend en in Hom rus vind. Hy is by jou en hou jou veilig.

 

 

Emily

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse