‘n Voorbeeld om Na te Volg

‘n Voorbeeld om Na te Volg

Lyli Dunbar

“Dit is nie my skuld nie.” Hierdie frase het my gedagtes by baie geleenthede gevul wanneer ek gevoel het ek was onregerdig beskuldig of gekritiseer. Die onregverdigheid van die situasie oorweldig my met hartseer, en ek wil skree.

Soms doen ons alles reg, maar die lewe loop verskiklik verkeerd. Ons motiewe word bevraagteken. Ons onbaatsugtige optrede word verdraai. Ons liefde vir Jesus word die onderwerp van bespotting. Mense wat ons gedink het aan ons kant sou wees, fluister agter ons rug, of hulle spreek woedend hul misnoeë uit en probeer ons vrede steel.

Miskien het die einste persoon wat jy gedink het jou verdediger sou wees, in jou teëstander verander. Jy voel kwesbaar en verlate. Die gewig van veroordeling oorweldig jou siel.

Vriendin, jy is nie alleen nie. Jou Verlosser weet presies wat jy ervaar. Hy het die sonde van die hele mensdom gedra terwyl Hy aan die kruis gehang het. Niemand het meer vervolging as Jesus in die gesig gestaar nie. Hy het ’n volmaakte lewe gelei, en arrogante mense wat hulle moes bekeer, het eerder woedend en met veroordeling teenoor Hom gereageer.

Luister hoe Jesus ons leer hoe om ’n onregverdige bewering aan te spreek:

“Jesus is voor die goewerneur gebring en dié vra Hom: “Is jy die koning van die Jode?” Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.” Op die beskuldigings van die priesterhoofde en die familiehoofde het Hy niks geantwoord nie. Toe sê Pilatus vir Hom: “Hoor jy nie waarvan hulle jou alles beskuldig nie?” Maar Jesus het hom op geen enkele woord ’n antwoord gegee nie, sodat die goewerneur baie verbaas was. (Matteus 27:11-14)

In plaas daarvan om in opstand te kom, het Jesus selfbeheersing geopenbaar. Hy het nie toegelaat dat die teëstander Hom in sonde lok nie. Hy het nie aan ’n debat deelgeneem nie. Hy het sy lewe openlik laat spreek van sy toewyding aan God en Hy het sy mond toegehou.

Jesus het nie sy beskuldigers geantwoord nie, want Hy was ten volle daartoe verbind om ’n hoër roeping te gehoorsaam. Hy was gedryf deur sy liefde vir die Vader. Hy het verstaan dat die lyding wat Hy op die punt was om te verduur, uiteindelik tot ons redding sou lei. Sy nederige onderwerping aan die kruis was ons genesing.

Mense mag ons karakter beswadder en ons verwerp, maar God sal ons nooit verlaat nie. Hy regeer die wêreld met geregtigheid en genade, en Hy sal uiteindelik alles herstel wat die vyand vernietig het en volle verlossing bring.

Mag ons vandag die voorbeeld van Jesus volg terwyl ons met moeilike mense omgaan wat Sy genade nodig het. In plaas daaqrvan om te skree: “Dit is nie regverdig nie,” kom ons bid in stilte vir hulle redding en rus in die wete dat ons ’n Verlosser het wat heers oor alles wat ons aangaan.

Vriendin, jy en ek kan stil vertrou dat God vir ons veg wanneer ons onregverdige lyding ervaar. Ons Hemelse Vader wat ons in sy liefdevolle hande vashou, laat ons nooit tevergeefs ly nie. Hy sal altyd die glorie ontvang wanneer ons kies om Hom nederig te gehoorsaam. Hy is die Herder en beskermer van ons siele en sy goedheid en getrouheid sal al die dae van ons lewens by ons bly.

Lyli

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse