Ware Rus

Ware Rus

Deur Brittany / 2 Desember 2020 / Ewige Verbond

In 2020 is rus ‘n gekompliseerde idee. Daar was so baie onstuimigheid, gepaard met afsondering en krisis om elke hoek, en die idee van rus blyk amper onmoontlik te wees. En tog, soos ons Advent vier, kan ek vandag nie aan ‘n beter Skrifgedeelte dink om dieper in te delf nie. Indien jy nog nie die verse oor die Sabbat gelees het nie, wil ek jou aanmoedig om ‘n paar oomblikke te neem om die Skrifgedeeltes vir vandag te lees voordat jy hierdie blog lees (Eksodus 31:12-17 en Markus 2:23-3:6).

John Ortberg sê die volgende oor hedendaagse Christene: “Vir baie van ons is die groot gevaar nie dat ons ons geloof sal opgee nie. Die gevaar is dat ons so afgelei en gejaagd en besig gehou sal word dat ons tevrede sal wees met ‘n afgewaterde weergawe daarvan. Ons sal ons lewens net op die oppervlak leef, in plaas van om dit werklik te leef.”

Wanneer ek vandag se verse lees, sien ek hoe God se goeie ontwerp vir heiligheid en rus, hierdie idee wat Ortberg verduidelik wat so algemeen in ons wêreld is, direk bestry. Die Bybel pleit met ons om die Sabbat te hou omdat dit vir ons heilig is, en nogtans worstel die meeste mense wat ek ken met ware, lewensgewende rus.

Ek is nie seker wat jy dink wanneer jy die woord “Sabbat” hoor of lees nie, maar tydens Jesus se dae was die beoefening van Shabat – die Hebreeuse woord vir Sabbat – nie net hoogs aanbeveel nie, dit was ‘n deel van hulle wette en gebruike. God se volk het een dag ‘n week Sabbat gevier en doelbewus rus gekies. Hulle het nie gewerk nie. Hulle het nie kos gemaak nie. Hulle het ‘n oorvloed van reëls en wette gehoorsaam wat bepaal het wat hulle kon en wat hulle nie kon doen nie.

Soos jy jou kon indink, was die Fariseërs waarvan ons lees in die Evangelie van Markus (die godsdienstige leiers van daardie tyd wat reëls nagevolg het) baie goed met kennis van die wette en om dit te volg, maar daardie kennis en gehoorsaamheid het nie oorgegaan tot ‘n veranderde hart nie. Toe Jesus en die dissipels nie heeltemal volgens die Fariseërs se verwagtinge geleef het nie, het hulle die kans aangegryp om hulle te vang en te bewys dat hulle nie die Wet behoorlik gevolg het nie.

Maar Jesus, die Here van die Sabbat (soos ons hierdie week in ons verse gelees het), het nie gekom om die wet of die profete ongeldig te maak nie, maar om hule hulle volle betekenis te laat kry (Matteus 5:17).

In Matteus 11:28-30 sê Hy: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” En net ‘n paar verse later, in hoofstuk 12 sê dit: “Die Seun van die mens is immers Here oor die sabbat.” (Dit klink baie soos ons gedeelte in Markus, nê?!).

Die Sabbat is nie ‘n lys van dogmatiese moets en moenies nie. Dit is nie ‘n ritueel uit die verlede wat mense wat kerk toe gaan volg nie. Soos die gedeelte in Markus sê: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie.” Dit is ‘n houding wat streef na ware, lewensgewende rus, wat net in Christus gevind kan word. Die is die erkenning en belydenis dat ons sterflike mense is wat staatmaak op ‘n ewige en heilige God – ‘n heilige God wat Homself klein gemaak het, in die vorm van ‘n klein babatjie, om te kom en die hele mensdom te verlos.

Hierdie verse wat ons vandag lees, wys ons dat ons uiterste rus, ons ware en beter Sabbat in Christus alleen te vinde is. Wat beteken dit vir ons tydens hierdie Adventseisoen?

St. Augustine van Hippo het dit so gestel: “U het ons vir Uself gemaak en ons hart is rusteloos totdat dit in U rus.” Eugene Peterson sê in Die Boodskap dat ons die “ongeforseerde ritmes van genade moet leer.”

Vriendinne, soos ek hier bo genoem het, 2020 was ‘n omtrent ‘n jaar! Soos ons die viering van die geboorte van ons Verlosser afwag, kom ons rig ons harte om rus te vind in daardie baba in die krip. Laat ons die ongeforseerde ritmes van genade en rus in ‘n soewereine en goeie God leer, want ons weet dat die baba in die krip opgegroei het in ‘n man wat gewilliglik sy lewe neergelê het vir die herstel van die hele mensdom.

Wanneer die wêreld swaar voel en wanneer lyding nader, nader ons tot die ware en beter Sabbat. Wanneer krisis en hartseer en gebrokenheid ons omring, kyk die mense van God verwagtend na sy terugkoms. Ons vier Advent en ons hoop ten spyte van swaarkry, want ons weet dat ons ‘n onveranderlike God dien in ‘n veranderlike wêreld. Tydens hierdie Kersseisoen, kom ons onthou dat Christus, die beloofde Messias, gekom het om ‘n gebroke wêreld te verlos. In die God-kind wat in ‘n krip lê, vind ons nie net ons verlossing nie, maar ons vind ons Sabbat, ons ware rus.

Brittany

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse