Waarskuwingstekens

Waarskuwingstekens

Ek dink nie daar is ‘n meer akkurate beskrywing as hierdie aanhaling oor vriendskap nie: “Wys my jou vriende en ek wys jou jou toekoms.”

Vriendskap is ‘n baie ernstige saak.

Ons belê in opvoeding (of word aangemoedig om dit na te jaag) in hierdie lewe. Dit sluit onder andere dinge in soos werksopleiding, die speel van ‘n musiek-instrument, fiksheid-opleiding, motorbestuur-lesse, voorhuwelikse raadgewing ens. Maar vir iets so belangrik soos vriendskap, word ons eintlik maar van ‘n jong ouderdom af oorgelaat om dit vir onsself uit te werk. Ek onthou hoe ek as kind van die kleuterskool af gekom het en my ouers vertel het oor my nuwe “beste vriendin.” Teen die tyd dat ek dinge gehoor het soos: “Kies jou vriende versigtig”, was dit al ses of sewe jaar nadat ek reeds self my vriende gekies het. En daardie kies was gebaseer op baie oppervlakkige kwalifikasies.

Die persone met wie ons tyd spandeer, ‘n oor gee om na te luister, toelaat om in ons lewens in te spreek, sal beslis ‘n impak op ons lewens hê.

In 1 Korintiërs 15:33 word ‘n baie duidelike en sterk waarskuwing gegee: “Moet julle nie langer laat mislei nie. Slegte geselskap bederf goeie sedes.”

Die Korintiërs was beïnvloed deur ongelowiges wat hulle omgepraat het om wêreldse plesiere na te jaag, omdat hulle self nie geglo het dat daar ‘n hemel was om na uit te sien nie.

Ons moet leef met die ewigheid in gedagte, anders gaan ons ons erfenis inruil vir dít wat op daardie oomblik goed voel en lyk.

As ‘n enkelma, wat twee jong kinders grootmaak, weeg die gewig van moederskap swaar op my hart. Al lyk en voel dit of ek hierdie alleen doen, is die Here naby en maak Hy alles moontlik. Deur die hartseer van owerspel, wat tot egskeiding en enkelmoederskap gelei het, kan ek eerlik sê dat daardie hartseer oomblikke my ‘n meer gefokusde en sterk mamma gemaak het. Ek maak my kinders deesdae anders groot en my oë is gevestig op die ewigheid soos nog nooit vantevore nie.

Terwyl ek deur die egskeiding gegaan het, het ek harde lesse oor vriendskap geleer. Ek het vinnig geleer wie regtig ‘n vriend was en wie net daar was vir al die verkeerde redes. Ek het dié gevind wat langs my baklei het vir geregtigheid en eer en dié wat nie dapper genoeg was vir die stryd nie. In sommige gevalle was ek selfs geskok oor hoe dit alles uitgewerk het.  Die “vriende” wat ek gedink het by my sal staan tot die einde, het dit nie naastenby gemaak nie. Tog het die Here die perfekte vriende aan my toegewys wat saam met my deur die diep waters gegaan het.

Wat ek van vriendskap geleer het in hierdie afgelope paar jare, is presies wat ek nou aan my jong kinders leer. As ouers het ons ‘n enorme verantwoordelikheid om om kinders te leer oor vriendskap.  As ons  dit nie doen nie, gaan die wêreld hulle leer. (Die Bybel is baie duidelik hieroor).

Die wêreld is vol versoekings en die Here sien ons vriendskappe met die dinge van die wêreld as owerspel. Ons moet getrou wees aan ons verhouding met God.

Help die vroue in jou lewe jou in die rigting van die weë van die Here? Is dít wat hulle praat bemoedigend en lewensgewend? Sal hulle jou agternajaag en rekenskap van jou eis as jy van die pad wil afdwaal? Sal hulle baklei langs jou? Is hulle lydsaam?

Hierdie is belangrike vrae wat jy jouself moet afvra. Ek moedig jou aan vandag om ‘n opname te maak van al die mense aan wie jy ‘n sitplek in die voorste ry van jou lewe gegee het. Sommige van hulle moet dalk na die balkon geskuif word. Ek gee jou toestemming om die verhoudings in jou lewe te herrangskik en om Goddelike verhoudings in jou lewe voorrang te gee. Net omdat jy al vir twintig jaar vriende met iemand is, gee hulle nie die kwalifikasie om in jou lewe in te spreek nie.

As jy in die modder gaan rol, gaan jy vuil raak.  Dit is ‘n feit.

Ons moet ons vriende met wysheid kies.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse