Volkome Gehoorsaamheid

 

Volkome Gehoorsaamheid

Alles wat ek weet van Bybelstories vir kinders het ek by Veggie Tales geleer. Wel, darem nie alles nie, maar ek het as kind nooit Sondagskool toe gegaan nie, daarom het ek geen emosionele band met, of mooi herinneringe van grafiese uitbeeldings op flennieborde, poppekasvertonings, of enige ander kultureel relevante en strokiesagtige formaat wat onderwysers ook al gebruik het om sulke stories aan vyfjariges en jonger oor te dra nie. Terloops, maar nie eintlik ter sake nie, ek het eenkeer lank gelede vir Phil Vischer ontmoet, toe daar nog konferensies vir bloggers was. Hy’s ‘n wonderlike man en dis verskriklik snaaks om die stem van ‘n pratende tamatie uit ‘n volwasse man se mond te hoor kom.

In die regte verhaal van Noag, die een waarin ons vandag dieper gaan delf, wat in Genesis 6-8 voorkom, is daar geen pratende groente nie. Dis die verhaal van ‘n man wat God se guns geniet het en gekies het om vir God “ja” te sê in plaas daarvan om hom deur die wêreld te laat voorskryf wat hy moes doen. Dit herinner ons dat die werk wat God vir ons gee om te doen, hoe ons dien en liefhet en gehoorsaam, ons van die kultuur rondom ons sal onderskei – en dis iets wat ons kan koester.

In plaas daarvan om by die wêreld aan te pas, het Noag God gekies. En God het Noag gekies.

Toe God sy plan aan Noag uiteengesit het, het Hy twee beloftes gemaak. Die wêreld en alles daarop sou deur vloedwater vernietig word, maar God sou vir Noag, sy gesin en twee van elke soort dier op die ark wat Noag moes bou, beskerm. Ons lees vier keer in hierdie deel van Genesis van Noag se volkome gehoorsaamheid aan God (6:22, 7:5, 7:9, 7:16). Omring deur boosheid, het Noag gekies om “ja” te sê vir die opdrag wat God hom gegee het. Al was Noag 600 jaar oud. Al is so iets nog nooit vantevore gedoen nie. In plaas van om te luister na die uitroepe van die wêreld om hom, het Noag gefokus op wat God sê – soos hy al sy lewe lank gedoen het, nie net op daardie oomblik nie. Sy gehoorsaamheid van dag tot dag het hom voorberei op ‘n buitengewone opdrag.

In Layman se Kommentaar van die Ou Testament, wys dr Longman daarop hoe die optekening van die vloed gestruktureer is deur die dae sorgvuldig te tel, net soos in die verhaal van die skepping in Genesis 1.

  • 7 dae wag vir die waters wat kom
  • 40 dae wat die watervlak styg
  • 150 dae wat die oorstroming duur
  • 40 dae wat die watervlak daal
  • 7 dae wag vir die water om te sak
  • Nog 7 dae wag vir die water om heeltemal op te droog

Al was God dalk bedroef oor die sondes van die mensdom, het dit nie sy karakter verander nie. Hy is ‘n God van tweede kanse wat ‘n verhouding met ons begeer. Hy het die een man op aarde gevind wat die uitroepe stilgemaak het van diegene wat vir hom gesê hy is van lotjie getik om ‘n reuseboot op droë grond te bou; ‘n man wat naby genoeg aan God geleef het om sy opdragte te hoor en “ja” gesê het sonder om te weet hoe alles gaan afloop.

God se werk vir ons, die manier hoe Hy ons nooi om sy koninkryk te bou deur ons diens aan ander, kan jou soms ‘n bietjie benoud maak. As jy tans ‘n seisoen beleef waarin God jou uit jou gemaksone gehaal het, vertrou Hom. Hy weet wat aan die ander kant gaan gebeur, hoe alles gaan uitwerk as jy Hom gehoorsaam volg. Diegene rondom jou mag dalk nie verstaan waarom jy op ‘n sekere manier werk, rus, dien en mense liefhet nie. As ons egter in ons  alledaagse, gewone doen en late gehoorsaam is, sal dit ons help om in die klein oomblikkies “ja” te sê sodat ons voorbereid kan wees om, soos Noag, vir God met ons algehele gehoorsaamheid te eer wanneer God groter geleenthede oor ons pad bring.

Leun vandag op ons verse uit Psalm 23. Wanneer ons eie storms kom, kan ons vertroosting vind in die wete dat God ‘n plan gereed het om ons te nooi om te rus en ons na ‘n nuwe plek te lei. Vertrou dat God vloedwater kan vervang met verkwikkende water en die lewende water wat Jesus Christus is. Wanneer storms ons najaag, vind troos in die wete dat God se goedheid en getrouheid ons ook najaag. Selfs in die mees vreesaanjaende omstandighede wanneer alles donker en onbekend voel, kan ons staatmaak op die belofte dat God met ons is, en alles voorsien wat ons nodig het.

Miskien bevind jy jou op ‘n plek wat donker voel terwyl jy sukkel om God se stil stem bo die uitroepe van die wêreld te hoor. Jy voel afgesonder, nie op ‘n manier wat jou spesiaal laat voel nie, maar soos ‘n buitestander. Jy wy jou toe aan die taak wat God aan jou opgedra het, maar die mense om jou verstaan nie, kan nie die waarde daarvan insien nie, begryp nie die betekenis nie. Hou aan.

Jou gehoorsaamheid vandag kan ‘n nuwe geslag bekendstel aan die liefde van ‘n God wat soveel vir sy mense omgee dat Hy nie net tweede kanse bied nie, maar ook sy enigste Seun gestuur het om vir ons te sterf sodat ons vergewe en gered kan word. Dit is die moeitewerd.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse