Volg Christus na
Ebos Aifuobhokhan
Ek is die ma van ‘n 14 maande oue seuntjie. ‘n Paar weke gelede het ek my oorfone ingehad terwyl ek na iets geluister het en my seun het op my skoot gesit. Wat daarna gebeur het, was so verbasend. Hy het die gehoorstuk uit een van my ore gehaal en dit in sy oor gedruk. Ek was verbysterd! Ek het begin wonder: “Wie het hom dit geleer?” Hy het dit so doeltreffend gedoen. Toe besef ek: hy het oor tyd my en sy pa met ons oorfone in ons ore gesien terwyl ons na iets geluister het. Omdat hy altyd by ons is, beskou hy ons as rolmodelle. Hy het ons gekopieer. Hy het ons nageboots!
Dit was vir my so treffend. Wat as ek met verloop van tyd die verkeerde ding gedoen het? Hy sou dit ook maklik nageboots het.
Die apostel Paulus moedig ons vandag in die boek wat aan die Efesiërs geskryf is, aan om God, wat ons Vader is, na te volg. As ons sê ons is kinders van God, dan moet ons Jesus navolg in alles wat ons doen en oral waar ons gaan. Daar behoort nie af-en-aan seisoene te wees nie. In alles moet ons Christus navolg.
Ons leef in ‘n wêreld waar alles geoorloof is. Mense noem hulself Christene, maar hul lewens lyk niks soos Christus nie. Alles wat hulle doen is uit karakter met die persoon van Jesus. Hulle is onvriendelik, roekeloos, moeilik, opgaarders, en meer. Jesus het nie enige van hierdie kenmerke vertoon nie. As ons nie versigtig is nie, kan dit baie maklik wees om soos die wêreld te begin lyk.
Jesus het sy lewe opgeoffer sodat almal wat in Hom glo, met die Vader versoen kan word. Hierdie tipe opoffering is moeilik om onsself in te dink, veral omdat ons nooit liefde soos hierdie in ons lewens of in ons wêreld sien nie. Mense is net geneig om gaaf te wees solank hulle voordeel kan trek. Onmiddelik nadat hul behoeftes bevredig is, gooi hulle sonder nadenke, ‘n persoon weg. Vriendelike woorde is skaars. Almal het hulself as die enigste prioriteit, hulle klim oor enige iemand om te kry wat hulle wil hê. Mense neem skaars ‘n oomblik om te ontdek hoe dit werklik met ‘n persoon gaan.
Dit behoort egter nie vir ons dieselfde te wees nie. Ons is kinders van God. Ons lewens moet oorloop van die liefde van God. As ‘n glimlag nodig is, moet dit op ons gesigte gevind word. As ‘n drukkie nodig is, moet dit in ons arms gevind word. As ‘n vriendelike woord nodig is, moet dit op ons lippe gevind word. Dit beteken nie dat ons nie self hierdie behoeftes het nie, maar soos
Christus, moet ons doel wees om daagliks die lig en lewe van Christus te laat skyn.
Ons volg nie God se bevele omdat ons ‘n klop op die skouer wil hê nie. Ons doen dit omdat dit is wat eer aan ons Vader gee en dit is hoe Hy wil hê dat sy kinders moet lewe. Ons is sy lig!
Onsuiwerhede van enige aard pas nie by heiliges nie. God beskou ons as heiliges, kinders wat afgesonder is vir sy eer. Ons moet aan die wêreld wys wat dit beteken om as kinders van God te lewe.
Ons het die Heilige Gees, gestuur deur die Vader, wat ons help om teen die subtiele of blatante versoekings van die duiwel te veg. In hierdie oomblikke van versoeking spoor die Heilige Gees ons aan om nie vir die slenterplanne te val nie en om vas te hou aan die waarheid van God se Woord. Die Heilige Gees is altyd teenwoordig om die werke van die duisternis te ontbloot, sodat ons nie ten prooi val nie.
Sy hulp is altyd vir ons almal beskikbaar, sodat ons werklik, as die dierbare kinders wat ons is, navolgers van ons Vader kan wees.
Staan sterk, kop omhoog, ken op, met die septer van koninklikes in jou hand. En, met die hulp van die Heilige Gees, kies om daagliks te lewe as die kind van die Koning van die Konings wat jy is.
Seëninge