Vertrou op die Here
Krista Taylor
Vertrou volkome op die Here.
…met jou hele hart, in alles wat jy doen…
Daar was ‘n tyd verlede jaar toe ons familie deur ‘n vuurdoop is. Ons woon langs die oorlog in die Oekraïne en my man was baie nou betrokke by die humanitêre hulplewering. Met daardie realiteit het vrae gekom soos: “Kan ek na die pakhuis in Rivne gaan? Kan ek die pastoor in Lviv gaan besoek?” Hierdie stede is in die weste van die Oekraïne geleē, naby die grens met Pole, ver weg van die frontlinies van die oorlog af.
En tog bly die waarheid, die hele Oekraïne word aangeval. My geloof is getoets. Sou ek my eie begrip van wat dit beteken om my man veilig te hou, vertrou? Sou ek hom ontmoedig, oorreed of verbied om humanitêre hulp te neem na diegene wat dit benodig het, omdat ek bang was? Of sou ek vertrou dat God die getal van ons jare bepaal het en net God alleen kon hom veilig hou?
Nie lank nadat my man ‘n rusperiode geneem het van die vervoer van humanitêre hulp, het hy ‘n beroerte gehad. Dit was ‘n totale verrassing vir ons familie, want hy is relatief jonk en gesond.
Dit was nog ‘n groot toets vir my geloof. Sou ek in vrees leef dat nog ‘n beroerte tot sy dood kan lei en my as ‘n enkelma van vyf kinders laat? Sou ek elke dag bekommerd wees oor wat die toekoms inhou? Mees belangrik, sou ek God met my hele hart vertrou?
Dit is normaal om ons geliefdes te wil beskerm. En ek glo dit is ons Godgegewe rol om wysheid te gebruik in hoe ons leef. Ons moet onsself nie gewilliglik in gevaar stel nie. Daar is egter tye in die lewe wanneer menslike wysheid nie genoeg is nie, wanneer daar meer op die spel is en net God se wysheid voldoende is. Dit was die geval vir ons met beide die oorlog in die Oekraïne en in my hart met my man se beroerte.
Op die ou end het ons besluit dat hy na Wes Oekraïne toe kan gaan, solank daar geen dreigende aanval of gevaar is nie, die reise kort is en nie meer as drie ure van die grens met Poland af is nie. In die diepste dele van my hart moes ek erken dat God alleen vir ons lewe gegee het en Hy ken die getal van ons jare. Ek kon Hom vertrou met my man se lewe en nie elke dag in vrees lewe dat Hy sal sterf nie.
Ja, my man kan sterf in ‘n missielaanval of van nog ‘n beroerte. Die waarheid is dat hy ook in ‘n motorongeluk kan sterf of van enige ander onvoorsiene gebeurtenis. God is soewerein en Hy is ook my vertroue waardig. Omdat ek Hom oor die jare diep leer ken het, weet ek ook dat ek Hom kan vertrou. Sy karakter, sy beloftes, sy planne vir my toekoms, is ALLES vertrouenswaardig.
Ek het gedurende hierdie dae wat ek na die hospitaal toe en terug gery het, oor en oor geluister na die woorde van ‘n liedjie van Michael W. Smith, genaamd: Sovereign Over Us.
Watter stryd jy ookal in die gesig staar, of dit konflik met ‘n kollega, ‘n vriend of ‘n geliefde is, of dit is om ‘n geliefde in sorg te laat opneem – Hy is met jou. Bid. Vra God vir sy wysheid vir die besluite wat jy moet neem en besluit om Hom met jou hele hart te vertrou en nie op jou eie insigte staat te maak nie. God was met Daniël en sy vriende in die brandende oond en God is met jou in watter vuur jy ookal in is.