Vertrou God se Plan tydens Beproewings

Het jy al ooit iets gedoen waaroor jy onmiddellik spyt was? Iewers in my laerskooljare het ek toegelaat dat een van my vriendinne my wiskunde huiswerk afskryf. Ons onderwyser het my vriendin uitgevang met ons altwee se huiswerk by haar. In die gang het ons albei ‘n deeglike skrobbering gekry omdat ons oneerlik was. Ek onthou baie goed hoe verleë, skaam en verdedigend ek gevoel het. Toe my vriendin my gevra het om my huiswerk af te skryf, het ek dit toegelaat omdat ek haar guns wou wen. Ek het geweet dit is verkeerd, maar ek was meer bekommerd oor wat my vriendin van my sou dink indien ek sou weier. As ek terugdink aan die gebeurtenis, was dit God se plan dat ons onderwyser ons uitgevang het sodat ek herinner kon word dat dit beter is om God as die mens na te volg.

In die boek Ester sien ons die verhaal van die bose hofamptenaar, Haman – iemand wat aangedryf  was deur haat en selfsug. Toe Mordegai geweier het om voor Haman te buig, het Haman probeer om die Jode uit te roei. Ester, ‘n Jodin, het na die koning gegaan en by hom gepleit om haar mense te red en ook om Haman as die bron van die bose komplot te openbaar. Die koning het Ester se pleidooi positief ontvang en hy het haar versoek goedgekeur. Haman is toe, ironies genoeg, gehang aan dieselfde galg wat hy vir Mordegai laat oprig het. Die koning het Mordegai  se status verhoog én die Jode is toegelaat om hulself te verdedig. Só het God vir Mordegai en Ester gebruik om sy volk te bevry.

Haman het net voor sy dood vir Ester gesmeek om hom te red. In Spreuke 26:27 is geskryf dat “Wie ‘n gat vir ‘n ander grawe, val self daarin; die klippe wat hy gooi, sal na hom toe terugkom.” Haman het vir homself ‘n gat gegrawe met sy bose planne teen die Jode, en hy het die hoogste prys daarvoor betaal.

As jy die boek Ester lees, wonder jy hoekom God se volk deur hierdie beproewings moes gaan. Ons verstaan nie altyd God se soewereine plan nie, maar ons kan altyd op God se perfekte karakter vertrou. Dit is God wat oordeel (Psalm 75:7-8). Die Here laat die hulpeloses weer opstaan, maar die goddeloses verneder Hy tot in die grond. (Psalm 147:6). Ons word dalk gedryf deur sondigheid en selfsug, maar God se motivering is altyd liefde (1 Johannes 4:16).  Ons verstaan nie altyd sy plan nie, maar ons moet op Hom vertrou dat Hy nog steeds alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet en bestem is om aan die beeld van sy Seun gelykvormig te wees (Romeine 8:28-29).

As ons gehoorsame navolgers van God is, sal ons lewenspad vreugdevol wees. Ons is egter ook in staat tot sonde, net soos Haman, maar deur God se genade het Hy die perfekte Offer gestuur om vir al ons sondes te betaal. Jesus Christus is ons hoop en verlossing, en Hy was nog die hele tyd deel van God se plan. Wanneer ons sondig, is God nog steeds daar en beskou Hy ons as sy geredde kinders wat deel is van sy familie deur die bloed van Jesus. Mede-gelowige, laat ons vandag juig omdat God vir ons ‘n beter lewe gee deur ‘n ewige verhouding met Hom!

Jayci

Week 6 Uitdaging:

Ons leef in ‘n wêreld wat honger na hoop. Bid hierdie week en vra God om jou iemand te wys wat bemoedig moet word met die hoop wat net Jesus kan bied. Bemoedig daardie persoon met ‘n boodskap, ‘n kaartjie of ‘n kuiertjie. Somtyds moet ons net daaraan herinner word dat ons nie alleen is in ons stryd nie.

Week 6 Leesplan:

Week 6 Memoriseervers:

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs