Veranderd

Veranderd

Julie McIlhatton

Is daar al ooit aan jou ‘n bynaam gegee? Byname kan gegee word as gevolg van iets wat jy gedoen het, die manier hoe jy lyk, wat jou van is of om jou te onderskei van iemand wat dieselfde naam as jy het. Daar word dikwels na Johannes verwys as Johannes die Doper. Dit help ons om hom te onderskei van ander mans met die naam Johannes, veral die dissipel Johannes. Johannes het hierdie bynaam ontvang want hy was bekend daarvoor dat hy mense gedoop het!

In die begin van die Evangelie van Lukas lees ons afwisselend die verhale van Johannes en Jesus. Ons het begin met die voorspelling van Johannes se geboorte, toe die voorspelling van Jesus se geboorte, gevolg deur die geboorte van Johannes, daarna Jesus se geboorte en daarna ‘n blik op Jesus toe Hy 12 jaar oud was. Nou beweeg die verhaal terug na Johannes waar hy ‘n volwassene is wat in die woestyn naby die Jordaanrivier woon.

Johannes het presies gedoen wat Jesaja, die engel Gabriël en Sagaria geprofeteer het hy sou doen! Hy was besig om die weg vir Jesus voor te berei en het vir die mense wat na hom toe gereis het, geleer oor bekering, vergifnis van sondes en om veranderd te leef as ‘n resultaat van vergifnis. Johannes het mense gedoop as ‘n sigbare teken van ‘n interne verandering.

Die mense het die Christus verwag—God se Gekose Een wat reg deur die Ou Testament beloof is. Hulle het begin om te wonder of Johannes die Christus was? Johannes was duidelik met hulle dat hy nie die Christus was nie. Maar Johannes het hulle ook laat weet dat Christus sou kom. Hy sou kragtiger as Johannes wees en met die Heilige Gees en met vuur doop. Johannes het gesê dat hy nie eers werd is om Christus se skoene los te maak nie. Om vuil voete aan te raak was die werk van die laagste dienskneg in ‘n huis en Johannes het nie gedink dat hy waardig was om selfs dit vir Jesus te doen nie.

Johannes het beslis nie verwag om vir Jesus te doop nie! Matteus se vertelling van Jesus se doop sluit in dat Johannes probeer het om Jesus te verhinder om deur hom gedoop te word. Hy het gesê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?” (Matteus 3:14)

Het jy al ooit gewonder waarom Jesus gedoop is? Hy het geen sondes gehad om van te bekeer nie!

In sy doop het Jesus gedemonstreer wat Hy gekom het om te doen. Hy het ons sondes op Homself geneem en ons skuld betaal. Hy is ons verlossing, die Een wat gekom het om ons te red.

In reaksie, is die hemel geopen, die Heilige Gees het op Jesus neergedaal en die Vader het woorde van liefde en verheugdheid gespreek. Wat ‘n sig—ons ongelooflike God, drie-in-een en een-in-drie! God is so wonderlik!

God het ons geskape om in verhouding met Hom te wees net soos die Vader, Seun en Heilige Gees nog altyd in ‘n perfekte verhouding was en is. Ons verhouding met God is egter deur sonde verbreek. Jesus—God die Seun in menslike vlees—het na die aarde gekom om ons te red!

Hoe moet ons in reaksie op hierdie groot geskenk van Jesus van vergifnis van sonde leef? Johannes die Doper vertel vir ons: “Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is” (Lukas 3:8). Na alles wat God vir ons gedoen het, hoe kan ons dieselfde wees? Hoe kan ons voortgaan om op dieselfde manier te leef? Ons kan nie! Ons moet vrug dra in hoe ons leef en die Heilige Gees toelaat om sy vrugte van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing te ontwikkel.

Ons veranderde lewens is ook ‘n getuienis aan ander. Ons kan deel wees van God se plan om mense van elke nasie, taal en stam te red, deur ander die Goeie Nuus te vertel! Johannes het gesien hoe baie lewens deur God verander is en hy het ook die ongelooflike gebeure by Jesus se doop beleef. Vra God om jou woorde en dade te lei terwyl jy daarna streef om Hom te eer deur die krag van die Heilige Gees wat in jou leef!

 “Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met ‘n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.” – Lukas 8:15

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs