Vas is ‘n Manier om te Wag

Vas is ‘n Manier om te Wag

Petra Stoneman

“Daar sal ‘n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word en dan, in daardie dae, sal hulle vas.”

Ons SOAP-vers van vandag vind plaas toe Jesus tyd in Levi se huis deurgebring het. Levi was ‘n tollenaar wat deur Jesus geroep is om Hom te volg. Levi het Jesus en sy dissipels na sy huis genooi vir ‘n feesmaal. Die Fariseers en veral die  skrifgeleerdes onder hulle het Jesus beskuldig dat Hy nie die wet volg nie, omdat Hy met sondaars geëet het.

Merk Jesus se goedgunstigheid en geduld op. Daar is beslis tye toe Hy strenger opgetree het teenoor die Fariseërs en hul behoefte om perfek te lyk, en waar Hy die ware, sondige toestand van hul harte geopenbaar het. Hier blyk dit of Hy egter goedgunstiglik, alhoewel steeds stil, met respek en outoriteit gereageer het.

“Daar sal ‘n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word en dan, in daardie dae, sal hulle vas.” – Lukas 5:35

Jesus het geweet dat sy dissipels vreugde en presies wat hulle nodig het, in sy teenwoordigheid sal hê terwyl Hy op aarde was, saam met hulle gewandel het en hulle geleer het. Hy het geweet dat dae sal kom, veral na sy hemelvaart, wanneer hulle bemoediging, voeding en troos van ‘n ander aard nodig sal hê – en dat Hy nie meer tasbaar aan hulle sy sal wees nie. Hy het geweet hulle harte sal met smart en moedeloosheid gevul wees en Hy het geweet hoe hierdie wêreld is – dat dit ons dikwels moeg en afgemat laat en ons daarvan weglei om ons oë op die ewigheid gefokus te hou.

Ons leef nou in die tyd waarvan Jesus gepraat het: die dae van die bruidegom se afwesigheid. Ons kan nie meer in die vlees langs Jesus Christus wandel nie. Ons kan nie meer die soom van sy kleed raak om genees te word nie. Vir diegene van ons wat in Jesus as Verlosser glo, ons het die teenwoordigheid van sy Gees altyd met ons, inderdaad in ons. Al wat ons moet doen is om gefokus te bly, nie ons sig weg te neem nie, en sterk te staan.

Hoe doen ons dit?

Daar is baie verskillende maniere, insluitende om daagliks die Bybel te lees, om saam met ander Christene bymekaar te kom en om tyd in gebed deur te bring. Maar nog ‘n ander een is om te vas.

Deur te vas, gee ons ons fisiese behoeftes op vir ‘n periode van tyd, om ons geestelike sintuie te verskerp. Deur te vas ontvang ons God se Woord en hoor ons sy stem duideliker – daar is geen aardse afleidings om ons weg te hou nie. Deur te vas herken ons ons behoefte vir geestelike voeding wat net van die Here af kan kom. In hierdie daad sê ons essensieël: “Hier is ek, Here. praat, U dienskneg luister.”

Op ‘n manier is vas om te wag. Wag op die Here te midde van ‘n belofte wat gedeeltelik vervul is en tog wat nog moet plaasvind. Want Christus het gekom in ‘n stal en gesterf vir ons sonde aan die kruis. As gevolg van daardie waarheid kan ons jubel! Maar ons wag ook vir sy beloofde wederkoms.

Hierdie is ‘n aktiewe soort wag. Ons sit nie net terug en wag passief vir dinge om met ons te gebeur nie. Deur te vas wil ons aktief wag vir die vervulling van die belofte wat kom, die ewigheid wat ons weet dat ons voor leef, selfs in die hier en nou.

Henri Nouwen het spesifiek geskryf oor vas en dit met wag verbind. “Aktiewe wag beteken om ten volle teenwoordig te wees in die oomblik, met die oortuiging dat iets gebeur waar jy is en dat jy vir dit teenwoordig wil wees.”

Later skryf hy: “Diegene wat teenwoordig is in die oomblik kan hoor wanneer God praat. Hulle is waaksaam, bedag op die stem wat kom en praat met sy diensknegte wat luister. Gee aandag.”

Vas help ons om presies dit te doen: om aandag te gee.

Kom ons wees vroue wat leef met die ewigheid voor oë en gebruik die geestelike dissipline van vas met die doel om meer bedag te wees in die tyd wat ons wag.

Die Here kom weer. Laat ons gereed wees.

Petra

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse