Toevlug vir die Oordeelsdag

Watter emosies en gedagtes kom by jou op wanneer jy aan God se oordeel dink? Miskien is jy omring deur geweldige lyding of die voorspoed van die goddelose, en jou hart smag dat God se oordeel oor die aarde moet kom. Of dalk voel jy oorweldig deur jou eie sondigheid en vrees jy die dag van die Here. Jy wonder hoe jy ooit voor sy heiligheid sal kan staan en die ewige lewe kan ontvang. Ek dink alle mense kan smag na die dag wanneer God se oordeel voltrek word, terwyl hulle terselfdertyd wonder of hulle persoonlik gereed is vir daardie dag. Joël 3 skets ‘n aangrypende prentjie van hierdie oordeelsdag, maar wys ook dat die Here ‘n toevlug is vir die wat op Hom vertrou.

Oordeel deur Ballingskap

Die onmiddellike konteks van Joël 3 is die herstel van Juda en Jerusalem. Die volk is vroeër in ballingskap weggevoer na Babilon (sien 1 Konings 25), omdat hulle vir honderde jare nie na die Here geluister het nie. Ondanks hul sondigheid en die gevolglike ballingskap het God steeds getrou gebly aan sy volk. Deur die oordeel oor die nasies in Joël 3 is die volk herstel.

Vir jare het die Babiloniërs as oorwinnaars oor God se mense geheers, maar na ‘n lang tyd het Yahweh oorlog verklaar (Joël 3:9). Hierdie tema herhaal regdeur die Bybel: God bring redding vir die wat in Hom vertrou deur oordeel. Volgens Joël 3:16 sal die wat aan Yahweh behoort veilig wees in Hom, want Hy is hul toevlug en vesting op die dag van oordeel. Daarteenoor sal die wat nie aan God behoort nie, nie veilig wees nie, maar verwoesting en verlatenheid ervaar (Joël 3:19).

God se Komende Oordeel

As ons verder kyk, sien ons dat Joël 3 ook ‘n breër prent van die laaste dae uitbeeld, wanneer die volle en finale oordeel uit die hemel kom. Alle mense sal in die laagte van beslissing staan (Joël 3:14) terwyl die Here brul uit Sion (Joel 3:16) en oordeel oor almal uitspreek. God word verheerlik wanneer sy mense toevlug by Hom vind, selfs terwyl Hy sy regverdige oordeel oor die hele wêreld voltrek.

Psalm 2 gebruik soortgelyke taal en beelde as Joël 3, waar die Psalmdigter die Here se oordeel oor die konings van die aarde beskryf. Die konings sal soos ‘n pottebakker se kruik stukkend geslaan word, terwyl Christus, die Koning van konings, die hele aarde as sy besitting ontvang (Psalm 2:8-9). Die psalmdigter waarsku die wat nog onseker of teen God gekant is om hulle aan die Messias, Jesus Christus te onderwerp sodat hulle toevlug in Hom kan vind op die dag van oordeel.

Veilig te Midde van Oordeel

As jy jou geloof in Christus geplaas het, dan is die Here jou toevlug op die dag van oordeel. ‘n Duideliker beeld van hierdie oordeel word in Openbaring 18 gesien, waar Johannes die finale val van Babilon, die stad van die mens, beskryf. Hier sien ons hoe die handelaars van die aarde huil en treur, want die groot stad sal in een enkele dag verwoes word (Openbaring 18:11). Die goeie nuus is dat die wat in Christus is, met ‘n groot stem uit die hemel sal uitroep: “Prys die Here! Die oorwinning, die heerlikheid en die mag behoort aan onse God! Regverdig en reg is sy oordele, want Hy het die oordeel voltrek” (Openbaring 19:1-2).

Terwyl ons na hierdie dag smag, wat moet ons doen? Wend jou tot Jesus en skuil by Hom. Wanneer jy teen sonde stry, kyk na Christus, want Hy is jou voorbeeld van volmaaktheid. Wanneer jy moeg voel, skuil by Christus, want Hy is jou krag. Wanneer jy onverdiende seëninge ontvang, verberg jouself in Christus, want Hy is die Gewer van alle goeie dinge. Wanneer jy die oordeelsdag vrees, kyk na Hom, want Hy is jou redding. “Die Naam van die Here is ‘n sterk vesting; die regverdige vind daar skuiling” (Spreuke 18:10).

 

 

Jenna Rea

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs