Sy Naam is Jesus

Sy Naam is Jesus

Grace Ann Hopkins

Wat is waarheid?  

Hierdie vraag is deur Pilatus, die Romeinse goewerneur wat Jesus uitgelewer het om gekruisig te word, gestel. Jesus het pas verklaar die rede waarom Hy na die wêreld toe gekom het, was om oor die waarheid te getuig (Johannes 18:37). Dit is ‘n baie belangrike stelling. In hierdie stelling het Jesus Homself aan Pilatus geopenbaar, of hy daarvan bewus was of nie. Vandag nog, wanneer ons hierdie teks lees, openbaar Jesus Homself aan ons.

Die konsep van waarheid is omvattend. Soms kan ‘n mens jouself dieselfde vraag as Pilatus afvra: wat is waarheid? Daar bestaan ‘n magdom verskillende geloofsoortuigings, opinies, teorieë, stellings en ideologieë. Waarop kan ons ons geloof vestig? Is daar enigiets waarvan ons bo enige twyfel seker kan wees? Dit is belangrik om hierdie onderwerp te bespreek want die waarheid maak ons vry (Johannes 8:32). Indien ons nie weet wat die waarheid aangaande kwessies is nie, sal ons konstant verward en bang wees – en ons is tog vir soveel meer gemaak.

Dink ‘n oomblik na oor hoe jy die hierdie vraag sou beantwoord: wat is waarheid? Ons leef in ‘n wêreld vol misleiding en bedrog. Partykeer het die bedrog om ons so normaal geraak dat ons nie eers agterkom ons word mislei nie. Misleiding kan op die nuus, sosiale media en selfs in die kerk voorkom. Misleiding is oral omdat ons leef in ‘n wêreld wat deur die vyand regeer word (1 Johannes 5:19). Hy is die vader van leuens, en praat nooit die waarheid nie (Johannes 8:44). Hy wil ons besteel, doodmaak en vernietig (Johannes 10:10). Dit is waarom ons die waarheid moet ken.

Ten einde die waarheid te ken, moet ons ‘n gesag hê waarop ons ons lewe kan baseer – iets wat ons in staat stel om te onderskei hoe leuens lyk en klink. Hierdie gesag is die Woord van God, wat die grondslag van alle waarheid is (Johannes 17:17). Die Woord is deur God aan ons gegee. Dit is deur Hom geïnspireer (2 Timoteus 3:16). Die Woord is ‘n magtige wapen wat die strategieë, woorde en taktiek van die vyand oorwin (Efesiërs 6:17). Die Woord openbaar aan ons wie God in Christus Jesus is. Die Woord is Self Christus (Johannes 1:1). Dus, wanneer  ons God ken, ken ons die waarheid. In Johannes 14:6 verklaaar Jesus dat Hy die waarheid is. Sy woorde moet die standaard wees vir alle woorde.

In sy tweede brief vat Petrus, deur die krag van die Gees, ons oorwinningstrategie saam. Kortom is dit dat ons Jesus moet ken (2 Petrus 2:20). Ons moet ons Here en Verlosser Jesus Christus ken om die leuens van die wêreld, die vyand en die vlees te oorwin. Ons moet Jesus ken. Om Jesus te ken, beteken dat ons tyd saam met Hom deurbring. Jesus is die Woord. Daarom moet ons tyd aan die Woord bestee. Ons moet dit op die tafel van ons hart en verstand neerskryf.

Ons moet ook stil raak voor God en Hom toelaat om tot sy verheerliking in ons te werk. As gelowiges het ons deur Christus volle toegang tot God (Efesiërs 3:12). Ons word opgeroep en beveel om sonder ophou in gebed met Hom te kommunikeer (1 Tessalonisense 5:17). Die Bybelse voorbeeld van Daniël inspireer my. Daniël 6:11 vertel ons dat dit sy gebruik en gewoonte was om drie keer per dag op sy knieë te gaan om te bid en God te loof en te dank. Ons sien dat sulke dissipline in God se teenwoordigheid sy wysheid en geloof versterk het. Sê nou ons sou net so gedissiplineerd wees? Wat sou God kon doen met ‘n gewillige en oorgegewe hart? Enigiets.

Al is dit moeilik om standpunt vir die waarheid in te neem in ‘n wêreld wat van God af wil weghardloop, versterk Jesus se woorde ons. In Johannes 16:33 sê Jesus vir ons Hy is ons vrede. Hoewel dit onafwendbaar is dat ons beproewinge op aarde sal ondervind, het Jesus reeds die wêreld vir ons oorwin. Hy het reeds sonde en die dood ter wille van ons oorwin (Kolossense 2:13-15). Ons het die hoop van die hemel om voor te lewe en die genade van God om in te leef. Laat dit die waarheid wees waarop jy staan. Jy is meer as ‘n oorwinnaar as gevolg van Christus en in Christus (Romeine 8:37). Jy het vryheid omdat die Waarheid in die wêreld gekom het om jou te red, en sy naam is Jesus.

 

 

Grace Ann

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs