Sy Karakter Gee My Vertroue

Sy Karakter Gee My Vertroue

Grace Ann Hopkins

Ek onthou hoe ek as kind saam met my pa op ‘n pa-en-dogter-kamp gegaan het. Een van die aktiwiteite was om saam teen ‘n dubbele klimpaal uit te klim. As jy dit nog nooit gedoen het nie, dit is ‘n hoë houtpaal met metaalhake van onder tot bo om op te trap terwyl jy klim. Twee mense klim hierdie houtpaal een vir een uit en staan dan saam op ‘n klein platformpie bo-aan die paal. Dan tel jy tot drie en dan spring albei gelyk van die platform af en hoop die veiligheidsharnas sal jou beskerm. Die doel is dat albei persone ‘n sweefstok ‘n paar voet weg, moet vasgryp en hulle ‘n keer of wat daaraan moet optrek.  

Toe hierdie uitdaging hom voorgedoen het, was ek aanvanklik bang. Om die waarheid te sê, ek is nogal bang vir hoogtes! As kind het tuimeltreine my nooit aangestaan nie hoewel ek mal was oor die atmosfeer van ‘n pretpark. Al was ek ‘n bietjie benoud, het ek aan hierdie klimaktiwiteit deelgeneem omdat ek geweet het ek sou nie alleen wees nie. Pappa sou by my wees. Al was ek bang, al het ek nie geweet hoe my volgende trappies teen daardie wankelrige paal uit sou lyk nie, het ek ‘n bonatuurlike vertroue gehad omdat ek geweet het wie my pa is. Ek het geweet as ek val, sou Pappa agter my wees om my te vang. Ek het geweet al sou ek aan myself twyfel, sou Pappa daar wees om my te help om dapper te wees. Ek het geweet as ek wou tou opgooi, sou Pappa daar wees om my tot bo te dra. Ek het geweet ek kon vol vertroue wees omdat Pappa by my was.

Miskien het jy ‘n pa soos myne, of miskien het jy ‘n pa soos myne gehad, wat jou met hom in die omtrek onstuitbaar laat voel het, en het jy met jou hele hart geglo dat jy saam met Pappa enigiets kan doen. Miskien was jou pa kleintyd nie eintlik in die prentjie nie, en weet jy nie hoe dit is om ‘n aardse pa te hê wat jou geliefd en bemoedig laat voel nie. Ek wil egter hê jy moet weet, vriendin, maak nie saak hoe dit vir jou gelyk het toe jy grootgeword het nie, jy het nog altyd ‘n Hemelse Vader gehad wat die mees volmaakte weergawe is van enige aardse pa wat jy ooit kon teëkom. Van die begin van die skepping af was sy doel om jou aan te neem. Hy het hierdie doel deur Christus Jesus bereik toe Hy sy enigste Seun vir jou prysgegee het sodat jy vir ewig by Hom kan wees (Efesiërs 3:11, Johannes 3:16).

As jy Jesus Christus as jou Here en Verlosser aangeneem het, kan jy nou enige tyd van die dag met vrymoedigheid en vertroue na God toe gaan, en Hy nooi jou uit om na Hom toe te kom en jou hart voor Hom uit te stort. As gevolg van Christus se bloed het jy ‘n Vader en Beste Vriend in God. Jy kan met vrymoedigheid en vertroue na die troon van God gaan omrede van wat Jesus vir jou gedoen het. Dit word met deernis gebed genoem.

Miskien het jy opgehou om met vrymoedigheid in gebed na God toe te kom, of miskien kom jy glad nie meer in gebed na sy troonkamer nie. Ek is so jammer as dit vir jou voel asof jou omstandighede jou soos reuse omring, jou versmoor, jou vreugde steel, jou vrede smoor, jou verhoudings verwoes en jou lewe wegneem. Miskien is dit waarom jy vertroue verloor het, of het jy dalk jy vergeet wie jou Vader is? Kan ek jou sommer nou herinner wie Hy is?

Hy is die Een wat jou Syne noem en verheug is daaroor. Hy is die Een wat saam met jou huil omdat Hy weet hoe dit is om menslik te wees. Hy is die Een wat belowe om altyd aan jou sy te wees, die Een wie se liefde groter is as jou sondes, en die Een wat alles gegee het sodat jy kan weet hoe innig jy liefgehê word.

Op daardie klimpaal, selfs al het ek nie geweet wat volgende gaan gebeur nie, het ek geweet ek kan vertroue hê omdat my pappa elke tree by my is. Jy kan ook hierdie vertroue hê terwyl jy die lewe aanpak. Al weet jy nie wat volgende gaan gebeur nie, kan jy elke dag met vertroue ingaan omdat God jou Helper is, wat jou nooit sal verlaat of in die steek laat nie, wat vir jou is, vir jou sal voorsien en wat jou liefhet, ongeag wat. As jy op die klimpaal van die lewe is en bang om die geloofsprong te waag, onthou Wie langs jou staan: die Magtige Krygsman wat kan red, Een wat vol vreugde is oor jou, stil-tevrede in sy liefde en jubel en juig oor jou (Sefanja 3:17).

Wanneer ons ons fokus verskuif na wie ons God is, in plaas van hoe ons omstandighede lyk, is daar oorvloedige lewe, onbeskryflike vreugde en oorweldigende vrede. God is vol vreugde oor elke detail van sy geliefde se lewe, en jy is daardie geliefde.

My gebed is dat, wanneer ons bid, ons die regte siening van die karakter van ons Abba, Vader God, sal hê. Sy karakter is die rede waarom ons met vertroue na Hom toe kan gaan. Ons kan met vrymoedigheid en vertroue en sonder twyfel bid, omdat ons weet wie ons Vader is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse