Swaarkry Kweek Hoop

Swaarkry Kweek Hoop

“Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”

Romeine 5:3-5

Terwyl ek vandag se SOAP-vers gelees het, het hierdie vers waar Jesus sy dissipels bemoedig het, in my gedagtes opgekom:

“Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In hierdie wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” – Johannes 16:33

Liewe vriendin, jy gaan nie deur ‘n tyd van lyding as ‘n mislukking nie! Nee! Jy is daar as ‘n oorwinnaar. ‘n Oorwinning is aan jou gebring deur die Een wat jou liefhet, die Een wat nie verslaan kan word nie.

Hierdie woorde gee my soveel vreugde en hoop; hoop om aan te hou om God te vertrou tydens die moeilike tye wat ek ervaar.

Dit is baie makliker om ons te verheug, omdat ons huidige situasie ons nie kan vernietig nie. Inteendeel, dit louter en suiwer ons en produseer die vrug van die Gees in ons. Deur die proses van lyding word die vermoë om te wag, en om geduldig te wag, in ons gekweek. Ons word daarvan bevry om wispelturig te wees en ons ontvang die vermoë om te volhard en om getrou aan God en sy Woord te bly, ongeag ons lewensomstandighede. Die vermoë om God te glo en op Hom en vir Hom te wag deur wat ookal op ons pad kom, word in ons gekweek met elke beproewing wat ons in die gesig staar.

Lyding kweek hoop; ‘n hoop wat veroorsaak dat ons eg bly en met God bly wandel, ongeag van wat ons deurgaan. ‘n Hoop wat ons verseker dat ons reeds oorwinnaars is.

Vir my is die beste van dit alles dat die hoop in God nie teleurstel nie. Maak nie saak hoe erg die storm is nie, God is altyd in beheer. Jesus was vol vertroue terwyl Hy in die boot was toe die storm op die see gewoed het, omdat Hy die krag van God geken het.

Die hoop wat ons win deur ons tye van swaarkry stel nie teleur nie. Nee, hierdie hoop is seker en betroubaar. Hierdie hoop is gevestig, gewortel en geanker in Jesus, die outeur en voleinder van ons geloof, wat vir die vreugde wat voor Hom was, die kruis verduur het en sit aan die regterhand van die troon van God.

Hierdie hoop kom direk van die liefde van ons Vader. Hy het ons lief en is met ons in elke storm. Hierdie liefde is deur sy Gees uitgestort en vloei oor in ons harte in. Ons kan daarvan seker wees. Hierdie hoop stel nie teleur nie as gevolg van die liefde van die Vader wat in ons harte leef wanneer ons ons geloof in Jesus plaas.

Lyding is ‘n brug, nie ‘n eindpunt nie. Ons lyding moet hoop kweek, hoop in God en nie in die verandering van ons omstandighede nie. Ons hoop word geskep en vernuwe wanneer ons ons oë vestig op Jesus, wanneer ons konstant voed op die beloftes van God.

Shalom, liewe vriendin.

Week 1 Uitdaging:

Ons sal ons studie begin deur te fokus op die aard van hoop. Wat is die dinge waarop jy daagliks hoop? Wat is die langtermyn dinge waarop jy hoop? Waar is jou ewige hoop te vinde?

Week 1 Leesplan:

Week 1 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse