Sterk in die Krag van God

Sterk in die Krag van God

Victoria Monet Aguas

Word wakker. Oeg, nog nie. Goed, nou is dit regtig tyd om op te staan. Trek aan. Kry die kinders aangetrek. Maak ontbyt. Pak kosblikke. Snoepgoed in rugsakke. Sokkies en skoene. Kry die kinders in die motor.

‘n Dag (of selfs net ‘n oggend) as ouer is volgepak met hope om te doen en baie onderbrekings tussendeur. Ek het agtergekom wanneer ek al die verantwoordelikhede van moederskap in eie krag probeer vermag, kan ek dalk ‘n kort rukkie daarmee volhou. Gou-gou raak ek verstrooid, gedaan en oorweldig.

Om ‘n lewe van krag te lei wil nie sê dat ek my kinders altyd betyds by die skool kry of dat ek nooit saans vergeet om my kinders te laat tande borsel nie. Die kenmerk van ‘n lewe van krag as Christus-volgeling is eerder om elke dag te volhard om in Christus gewortel te bly en daagliks dieper in Hom gewortel te raak

Maar hoe raak ons werklik meer afhanklik van God? 2 Petrus 1:3 lig drie maniere uit om by God krag te soek.

‘Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.”

 God is Magtig

 “Sy Goddelike krag…”

 Deur sy mag het Hy die wêreld geskep, lig geskep deur die bestaan daarvan te verklaar, en die komplekse liggame van mense uit stof en ‘n rib gevorm. Deur sy mag het Jesus die storms laat bedaar, gestremdes genees, en na drie dae in ‘n graf uit die dood opgestaan. En, deur sy mag het God ons gered. Hy het ons uit die dood na die lewe oorgebring, uit ‘n lewe gekenmerk deur selfsug, na ‘n lewe gekenmerk deur ‘n lewe vir Christus.

Ons kan elke dag op God staatmaak vir krag want Hy is magtig. Ons vertrou nie op ‘n God wat niks kan doen omtrent ons situasie nie. Maar ons vertrou ‘n God wat al die mag het om iets te doen en, in sy wysheid, sal doen wat die beste is vir ons. Hy het nie net die mag om ons omstandighede te verander nie (wat dikwels eintlik is wat ons verander wil hê) maar die mag om ons harte (wat dikwels verandering nodig het) te verander.

Elke dag kan ons op God staatmaak vir fisiese, emosionele, verstandelike en geestelike krag want Hy is magtig om dit aan ons te gee. Ons kan ons laste op Hom werp want Hy kan dit dra. Ons kan Hom vertrou om ons harte te verander want Hy het dit reeds gedoen, en Hy sal dit aanhou doen

God Gee Ons Alles Wat Ons Nodig Het 

 “…het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien…”

 Hy gebruik sy mag om ons onthalwe, tot ons beswil, en gee ons alles wat ons nodig het. Jesus se gebed in Matteus 6 kom by my op: “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (vers 11). Wat ons ook al elke dag nodig het om te lewe en Hom te volg, voorsien Hy vir ons.

Ek het ‘n moeilike geboorte met my eersteling gehad wat op ‘n noodkeiser uitgeloop het. As gevolg daarvan moes die hele middelste deel van my liggaam nie net herstel van die nege maande wat dit die lewe van my baba gedra het nie, maar ook van ‘n groot operasie.

Tydens my herstel het ek gesukkel om regop te kom uit ‘n lêposisie en op te staan uit ‘n sitposisie. Die senuwees in my rug het erg geprotesteer wanneer ek my baba vasgehou het terwyl ek gestaan het. Ek het baie kort, eenvoudige gebede gebid: “Here, gee my krag om op te staan” of “Gee my net nou krag.”

God het elke keer my gebede verhoor en my die krag gegee om te sit en op te staan, om weer te probeer borsvoed, en om wakker te word om borsmelk te pomp selfs wanneer dit gevoel het of ek niks meer oorhet nie. Hy het my nie net die fisiese krag gegee nie, maar ook die emosionele en geestelike krag omdat ek geweet het dat Hy in daardie weerlose oomblikke by my was.

God gee ons alles wat ons nodig het. Hy gee ons ons daaglikse brood. Ons hoef nie te voel asof ons die hele las van moederskap alleen en in ons eie krag moet dra nie. God is vir ons. Ons hoef net op Hom te vertrou en Hom te vra vir wat ons elke oomblik van elke dag nodig het.

God Het Ons Na Hom Toe Geroep

 “…wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.”

 Bowenal kan ons op God vir krag staatmaak omdat Hy ons na Hom toe geroep het. Ons is Syne, en Hy behoort aan ons.

As ma moet ek soveel vir ander omgee dat ek soms wens iemand wil my ook so versorg. Ek wil in die bed lê, TV kyk en ‘n ma hê wat vir my ‘n koppie tee maak wanneer ek erge maandstondpyne het. Ek wil hê my pa moet my dra as my bene moeg gestap is. Ek wil hê my ouma moet my papbak soggens vol plaatkoekies en nartjies maak.

As volwassenes, veral volwassenes wat vir ons eie kinders verantwoordelik is, word ons nie meer so versorg as toe ons kinders was nie. En tog is ons nog steeds God se kinders.

As ons hemelse Vader voorsien Hy heeldag op sovele maniere, klein en groot — skoon drinkwater, werk en inkomste, ‘n woonplek, klere om te dra, reën en sonskyn wat plante laat groei sodat ons kos kan hê, goeie gesprekke met vriende, teer oomblikke met ons kinders, ‘n pragtige dag vir gesinsuitstappies, en wilde blomme wat in die gras uitspruit.

Ons kan ons krag put uit die wete dat ons na Hom geroep is. As ons na Hom geroep word, is ons sy kinders en Hy is ons hemelse Vader.

Al het ons kinders met baie behoeftes, en bestee ons baie van ons tyd daaraan om hulle te versorg, sorg God vir ons want ons is sy kinders. En omdat Hy die God van almal en alles is, sorg Hy ook vir ons kinders.

Deur die loop van ons dag, terwyl ons doeke omruil, kinders skool toe karwei, hulle help met skoolwerk en kosmaak, kan ons God vra wat ons nodig het. Het ons krag nodig om iets gedoen te kry? Wysheid vir ‘n gesprek met ‘n kind? Sy vrede en teenwoordigheid wanneer ons oorweldig en angstig voel?

Ons kan ons bekommernisse, worstelinge, behoeftes en gevoelens aan Hom voorlê en met Hom daaroor praat. Wanneer ons dit doen, onthou ons dat Hy die mag het om ons harte, en selfs ons omstandighede te verander, en uiteindelik sal doen wat die beste vir ons is. Hy sal ons gee wat ons nodig het (miskien nie altyd wat ons wil hê nie), omdat ons na Hom geroep is. Ons is sy kinders. Hy is ons Vader en Hy wil goed vir ons sorg.

Wanneer ons hierdie gewoonte beoefen om elke dag na God toe te kom, groei ons wortels dieper in Hom. Hoe sterker ons wortels word, hoe beter kan ons die onvoorspelbare getye van moederskap weerstaan. En, in plaas daarvan om moederskap te hanteer vanuit ‘n plek van verstrooidheid en uitputting, kan ons vorentoe beur, en gefokus en sterk bly in die krag van God.

Victoria

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs