God se Geopenbaarde Woord
Prys God dat sy Woord nooit faal nie, maar altyd die doel bereik waarvoor dit gestuur is. Daardie doel is om ons geloof in Jesus te bewerkstellig (Jesaja 55:10-11; Johannes 6:29). Dit is belangrik om God te dank vir sy Woord, want dit is ’n gawe, as’t ware ‘n geskenk. Daardeur het Hy Homself sonder huiwering of vertraging ten volle aan ons geopenbaar. Ons hoef nie na God te soek nie. Hy het Homself reeds aan ons bekend gemaak. Deur die ware Woord van die Here word ons vrygemaak (Johannes 8:32).
Ek juig daaroor dat die Woord van God nooit verander nie (Jesaja 40:8). Dit was relevant duisende jare gelede en dit is vandag relevant; dit ontmoet ons waar ons is en rus ons toe met die waarheid waarop ons ons lewens moet bou. Trouens, wanneer ons die Woord van God lees, trek ons die uiters noodsaaklike gordel van waarheid aan, die eerste stuk wapenrusting wat ons beveel word om daagliks aan te trek (Efesiërs 6:14).
Die Here is so goedgunstig om vir ons sy goddelike wysheid, wat die Woord van God is, te gee. Die Gees van God gebruik die Woord van God om ons te lei en te rig. God se Woord is genoeg om aan ons waarheid te voorsien vir elke aspek van die lewe (Psalm 19:7-10). In die eerste plek verskaf die Woord van God ons wysheid vir redding (2 Timoteus 3:15). Deur die gawe van sy Woord het God aan alle mense die weg na Homself geopenbaar – dit is deur geloof in sy Seun, Jesus.
God se Groot Liefde
Hoe meer ek verlossing bestudeer, hoe meer dank ek God. Hy is so goed, genadig, opofferend en vriendelik. Die manier waarop Hy ons as mense lief het, is pragtig en asembenewend.
Om gered te word beteken om geregverdig te word, of regverdig verklaar te word voor God. Romeine 5 sê vir ons dat ons deur ons geloof regverdig verklaar word. Galasiërs 2 herhaal hierdie waarheid op ‘n pragtige manier en verduidelik dat ons deur die getrouheid van Jesus Christus regverdig verklaar word. Op ons eie sal ons nooit by God kan uitkom nie. Ten spyte van ons pogings en selfs ons goeie werke, sonder Christus, bly ons geskei van God. Maar wanneer ons ontrou is, is Jesus getrou. Hy was gehoorsaam aan God tot die dood toe, selfs die dood aan ‘n kruis (Filippense 2:8). Alhoewel sondeloos, het Hy gewilliglik die straf van sonde namens ons aanvaar, sodat ons regverdig gemaak kon word.
Jesus het die werk gedoen. Jesus het dit moontlik gemaak. Nou kan ons leef, bly en staan in God se onuitputbare genade (Galasiërs 2:16). Prys Jesus!
God se Redding en Belofte
Vriend, jy kan ten volle verseker wees van ‘n huidige lewe en ewige lewe saam met jou Here en Verlosser, Jesus Christus, deur jou geloof in Hom te plaas. Terwyl jy nog ‘n sondaar was, het Hy vir jou gesterf (Romeine 5:8). Daar is niks wat jy hoef te doen om die liefde van Christus te verdien nie. Hy het jou reeds lief en Hy het jou nog altyd liefgehad. As jy in sy Naam glo, word jy verseël met sy Gees en geregverdig van alle sonde – dié in die verlede, die hede en die toekoms (Efesiërs 1:13-14). Jy is ten volle bedek deur die bloed van Jesus. Jy staan nie meer in sonde nie. Jy staan in genade.
Waar jy jouself ook al nou bevind, weet dat God nie klaar is nie. Hy is wakker en aan die werk in die wêreld en in jou lewe. Hy het ‘n doel vir jou lewe. Hy het jou geskep om Hom te ken en om sy ambassadeur te wees. Soek Hom met jou hele hart en jy sal Hom vind (Jeremia 29:13). Verklaar elke dag die waarheid van sy Woord oor jou lewe. As gevolg van Jesus staan jy nie meer in jou verlede, jou sonde, jou vrese of jou foute nie.
Jy is gered en jy staan in God se genade.
Grace Ann
Week 5 Uitdaging:
Die hele Skrif is deur God geïnspireer (2 Timoteus 3:16). Die memorisering van die Skrif help om God se Woorde op ons harte te skryf sodat ons krag, leiding en vrede in elke seisoen van die lewe kan vind. Begin elke dag deur die memoriseerverse vir hierdie studie te oefen. Maak dit ‘n speletjie en geniet dit!
Week 5 Leesplan:
Week 5 Memoriseervers: