Namate ek ouer word, raak ek al meer vergeetagtig. Soms kan ek, teen die tyd dat ek die bopunt van die trappe bereik, nie meer onthou wat ek op pad was om te doen nie! Daarom herhaal ek dikwels oor en oor waarna ek op soek is om myself te herinner wat ek besig is om te doen.
Vergeetagtigheid is dwarsdeur die Bybel een van die grootste probleme vir God se volk. Die boek Deuteronomium ─ wat aan God se volk gegee is net voordat hulle die Beloofde Land sou binnegaan ─ bevat herhaaldelik die frase “moenie vergeet nie”. Moses pleit by God se volk om nie die God te vergeet nie wat hulle uit Egipte verlos het, dié land vir hulle gegee het, en vir hulle ‘n doel gegee het ─ om ‘n lig vir die nasies te wees.
Tog weet ons hulle het kort voor lank begin vergeet, vergeet om te rus, om te aanbid, om God se leiding te vertrou, en om hulle kinders van God te leer. Gevolglik het hulle sommer gou weer in die versoeking gekom om God se wet te verontagsaam en selfs ander gode te aanbid. Na talle waarskuwings het dit uiteindelik tot hulle ballingskap gelei omdat God sy volk na Hom wou laat terugkeer.
Om te vergeet wat die Here gedoen het, is nie net ‘n Ou Testamentiese ding nie. Ongelukkig is ons ook maar geneig om te vergeet. Die tweede vers van die ou Halleluja-lied ‘Bring my die ou-ou tyding’ lui:
Bring my die tyding duid’lik,
Dat ek dit kan verstaan;
Vertel my hoe die Heiland
My van die vloek ontslaan.
Bring my die tyding dikwels,
Want ek vergeet so gou;
Lank voor die middaghitte
Smelt reeds die môredou.
Hierdie lied moedig ons aan om te onthou en mekaar te herinner aan God se groot verlossingsverhaal. Net soos ek herhaal om te onthou wat ek moet gaan haal as ek met die trappe opgaan, moet ons gereeld uit God se Woord herinner word wie Hy is en wat Hy alles gedoen en belowe het.
Onthou en Reageer
Ons het oral spieëls in ons huise. Ons kyk daarin om te sien of alles reg lyk terwyl ons regmaak. Stel jou voor jy gaan na ‘n troue toe met ‘n nuwe uitrusting aan. Jy is op die punt om by die deur uit te gaan met jou handsak en gemaklike skoene vir later in jou hand. Jy glimlag in die spieël en sien ‘n stukkie groen groente van jou middagete tussen jou tande vassit. Dit lyk oes. Doen jy iets daaromtrent en verwyder die groen uit jou tande? Of vergeet jy onmiddellik wat jy gesien het en gaan voort met jou dag? Natuurlik gaan jy iets daaromtrent doen!
Jakobus sê iets soortgelyks oor die Woord van God. Jakobus wil hê ons moenie net luister na die Woord van God nie, maar reageer op wat ons hoor. Die Woord van God is soos ‘n spieël. Dit wys God vir ons, en dit wys ons onsself ─ selfs die lelike sondige stukkies! Dit kan nogal pynlik wees, want ons almal wil graag dink ons is wonderlik en goed. Maar namate ons God beter leer ken, leer ons onsself ook beter ken.
Dis goed om die Woord van God te lees en na lesings daaroor te luister, maar ons moet meer doen as net daarna luister. God se Woord moet ons verander. Dit is soos ‘n spieël wat voor ons gehou word, sodat ons die dinge in ons lewe kan sien wat nie is soos God dit bedoel het nie. Ons kan God vra om ons te help, want Hy kan ons verander. Gelukkig is God barmhartig en wys ons nie alles op een slag nie. Mettertyd word ons verander soos meer van die vrug van die Gees in ons lewe gekweek word.
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. (Galasiërs 5:22-23)
Jakobus wil hê ons moet sien dat God se Woord die volmaakte wet van vryheid is. Dit maak vry. Miskien dink jy die konsepte ─ wet en vryheid ─ staan teenoor mekaar, maar dit is nie so nie.
Gestel daar was geen vliegreëls nie en almal kon maar oral vlieg sonder enige lugverkeerbeheer wat die vryheid van vliegtuie beperk! Vryheid om te kom net waar en wanneer jy wil. Kan jy jou die chaos indink van groot en klein vliegtuie wat oraloor rondvlieg, met mekaar bots, en op dieselfde aanloopbane probeer land en vanaf opstyg? Sou jy dit op ‘n vliegtuig waag?
Onthou Sy Getrouheid
Vryheid is nie afwesigheid van die wet nie. Ware vryheid kom wanneer ons binne die grense van God se wet leef. Vliegtuie moet volgens vasgestelde hoogtes en roetes vlieg. Daar is berge en ander vliegtuie wat vermy moet word. Wanneer almal hulle by die hoogtebeperkings hou, is almal veilig.
Ons weet God begeer wat goed is vir ons. Ons weet ook dat Hy nie net hierdie wêreld geskep het nie, maar ook vir ons en almal daarin. God weet wat die beste is vir ons. Hy het die grense daargestel wat die beste is waarbinne ons kan leef.
Wanneer ons foute maak, herinner God se Woord ons om na ons liefdevolle Hemelse Vader te kom vir vergifnis. Maar net soos met ons kinders, hoop ons dat hulle uit hul foute sal leer. Soveel meer begeer ons Hemelse Vader dat ons uit ons foute moet leer en leer om op sy volmaakte weë te vertrou.
Hoe kan ons wys raak en deur God geseën word? Deur ons aandag op God se Woord te vestig, word ons aandag op Christus Jesus gevestig, die Een wat ons red. Dit gee ons vertroue in Hom.
Laat ons dus vroue wees wat nie vergeet wie God is en wat hy gedoen het om ons te red, en waarvoor Hy ons gered het nie. Kom ons bly onsself oor en oor daaraan herinner. Mag ons mooi luister en God vra om ons sondige dele te verander terwyl ons God nederig innooi om in en deur ons lewens te werk.