Soek eers die Koninkryk van God

Emily Hope

Maak staat op Hom bo alles.

My gunsteling tyd van die jaar is herfs. In my grootword-jare het ons as gesin jaarliks na die berge gereis om die kleurvolle blareprag te bewonder. Ons het die dag deurgebring deur berg op te stap en wanneer ons die piek bereik, het ‘n see van rooi, geel en oranje in al die bome ons asem weg geslaan. Soms was die kleure so helder dat dit ons oë seer gemaak het.

Ek is so dankbaar dat seisoene betroubaar is. Ek hoef nooit te wonder herfs volgende jaar sy opwagting sal maak of nie. God voorsien alles wat die bome nodig het vir die blare om die volgende jaar weer af te val, te groei en van kleur verander.

Hoewel dinge soos seisoene betroubaar is, weet ons dat die lewe nie altyd so is nie. Dinge verander, of ons dit nou wil hê of nie.

Tydens die skryf van hierdie blog is omstandighede baie onseker in my lewe. Oorlog het in die Midde-Ooste uitgebreek. Ek en my man probeer om met ‘n gesin te begin. Ons moet uitpluis waar God wil hê ons ons gesin moet vestig. Ek sien nie my familie baie gereeld nie, want hulle bly aan die ander kant van hierdie land.

Ek hou daarvan om te dink dat ek nie bekommerd is nie en om vir myself te sê dat dinge buite my beheer my nie hinder nie. Maar die werklikheid is dat ek myself wel bekommer. Ek kan maklik vasgevang raak deur die dinge wat wel buite my beheer is.

Dis in sulke oomblikke wat die vyand my wil laat glo dat daar geen hoop is nie. Hy wil hê ek moet glo dat ek my omstandighede self moet beheer, want God is nie in staat om dit te beheer nie. Dit is heeltemal onwaar.

Matteus herinner ons daaraan dat God ongetwyfeld in beheer is. En daarom hoef ons nie bekommerd te wees nie. In plaas daarvan kan ons onsself afsonder en God se koninkryk soek in alles wat ons doen en met alles wat ons is. Wanneer ons dit doen, kan ons gerus wees in die wete dat Hy presies sal voorsien wat ons nodig het.

God sien.

God weet.

God gee om.

God sien.

Net soos God sien wat die diere en plante benodig om te oorleef, sien en voorsien God presies wat ons nodig het. Meer as om bloot te oorleef, voorsien God vir ons geestelike florering, al is dit in seisoene.

In tye van bekommernis moet ek myself eerstens herinner aan wie God is – sy karakter. God is goed. Hy is liefdevol, regverdig, geduldig, soewerein, vriendelik, almagtig, alwetend en getrou. Om te fokus op wie Hy is, help my om my oë van myself af te haal en te fokus op die Een wat alles sien, en baie beter sien as ek self.

Wanneer ons geestelik afgesonder is, kan ons ons oë op die Skepper en ons Hemelse Vader rig met die wete dat Hy sal sorg vir alles wat ons nodig het. Dis dalk nie noodwendig wat ons wil hê nie, maar presies wat ons nodig het. Soms weet ons nie eers wat ons nodig het nie, maar God, in sy goedheid, voorsien voortdurend.

God weet.

God sien nie net nie, Hy weet ook. Bekommernis het die geneigdheid om ons te laat dink dat ons alleen is. God sê egter vir ons dat ons sy geliefde kinders is (1 Johannes 3:1). Niks is buite sy bereik nie. Niks vang Hom onkant nie.

In plaas daarvan om bekommerd te wees, kan ons ons versoeke, ons vrese en ons bekommernisse na Hom neem (Filippense 4:6). Hy wil graag van ons hoor. Paulus gaan voort deur vir ons in Filippense 4:7 te sê dat wanneer ons ons besorgde versoeke tot God rig, “die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, julle harte en sinne sal bewaar in Christus Jesus”.

Gebed is die teenmiddel vir bekommernis.

 God gee om.

 Wat meer is, is dat ons alsiende, alwetende God omgee. Dit is nie ‘n sorg wat sy oorsprong uit verpligting of jammerte het nie, maar blywende sorg uit sy diepe liefde.

Jesus Christus weet hoe dit is om mens te wees. Hy het baie van dieselfde vreugdes, seerkry en swaarkry van hierdie lewe ervaar. Die skrywer van Hebreërs sê vir ons dat Jesus in staat is om met ons swakheid medelye te hê; daarom kan ons “vol vertroue die troon van genade nader om barmhartigheid te ontvang en genade te vind wanneer ons ook al hulp nodig het” (Hebreërs 4:15-16).

Matteus 6:34 sê: ” Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis.” Hoewel dit ‘n opdrag vir gelowiges is, is dit gewortel in die waarheid dat God reeds al die dae van ons lewe bepaal het. Sy voorsiening is nie afhanklik van wat ek kan lewer nie. Hy laat alles gebeur vir ons beswil en sy eer.

Wanneer dinge buite beheer voel of as die einde van ‘n lang, moeilike seisoen ver weg lyk, weet dat jy ‘n Verlosser het wat voor jou uit gaan, agter jou in kom en by jou is deur elke dag.

As gelowiges wat hulle geloof in Jesus geplaas het, het ons die opdrag om sy koninkryk bo alles na te streef. Ons streef nie net na geregtigheid wanneer dinge maklik is en goed gaan nie, ons streef daarna bo alles.

Matteus 24:35 sê vir ons: “Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.” Ons hoef nie bekommerd te wees oor die wêreld nie, want God het belowe dat Hy deur gelowiges iets beter bou wat vir die ewigheid sal hou.

Die wêreld kan vir ons sê dat bekommernis ‘n deel van die lewe is of dat ons vir onsself kan voorsien as ons hard genoeg werk, maar ons kan onsself afsonder van die weë van die wêreld, terwyl ons in ons Verlosser rus. Wanneer ons ons dae in sy beheer toevertrou, maak dit ons vry om ons naaste lief te hê, die evangelie te deel, die liggaam van Christus te dien, om die koninkryk te bevorder tot aan die eindes van die aarde. Die wêreld se onsekerheid sal ons nie aftrek nie. Ons kan ons oë bestendig en gefokus hou op die een wat Soewerein is.

Emily

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs