Skyn waar dit On-wel is

Skyn waar dit On-wel is

Deur Crystal /3 Julie 2020 /In Sy Krag

In die laaste tyd as ek Instagram oopmaak, sien ek ‘n advertensie vir ‘n bepaalde bostuk, ‘n trui met die frase “Alles is wel” wat in reënboogkleure op die voorkant herhaal word. Dis asof die oor en oor sê van die woorde ‘n mens uiteindelik sal laat glo dat dit waar is. Veral die afgelope paar maande het ek al hoe meer bewus geraak van hoe die wêreld alles met treffende frases en slim produkte probeer regmaak.

Rondom daardie tyd het God dit ook op my hart gedruk om te vas van koop. Vinnige aanlynkopies en om in Target te gaan rondloop, het vir my ‘n maklike uitweg geraak om oorweldigende emosies te hanteer. In plaas daarvan om my na God te wend en my in te span om gesond en heel te word, het ek die minder pynlike en ondoeltreffende opsie gekies wat stadigaan ‘n afgod geraak het. Soos wat God saam met my deur daardie tyd gestap het, het die Heilige Gees begin om my oë oop te maak vir die boodskappe wat my vasgevang het.

Die wêreld het geskree: “As jy net DIT kon kry, sal alles wel wees.”

God nooi ons rustig uit om al ons vermoeidheid, ons tekortkominge, ons worstelinge en ons vertwyfeling na Hom te bring en aan sy sorg toe te vertrou. Die waarheid is dat alles nie wel is nie. Maar ons moenie toelaat dat daardie besef in ons pad staan of dit as ‘n verskoning gebruik om tou op te gooi nie. Ons kan kies, soos die mans en vroue van die vroeë kerk, om daaroor bly te wees dat ons die hoop wat ons in Jesus het, aan ander kan meedeel.

Handelinge 5 handel oor hoe belangrik dit is om alles vir Jesus te gee (v. 1-11), die baie tekens en wonders wat deur die apostels in Jerusalem gedoen is (v. 12-16), en hoe die einste apostels gevange geneem, bevry, ondervra, geslaan en vrygelaat is (v. 17-42). Dit was gewis nie ‘n maklike, “alles is wel”-lewe vir die apostels nie. Hulle het maar alte goed besef dat hulle, deur hulle alles vir Jesus te gee, hul lewens op die spel plaas, en tog het hulle geweet dat die geleentheid om die Goeie Nuus mee te deel, die kans werd was.

Wanneer jy bereid is om alles te gee, kan terugslae en opofferings ‘n rede wees om bly te wees.

In vers 34 maak ons kennis met ‘n Fariseër met die naam Gamaliël wat vorige ervaring gebruik het om die raad te oorreed om die apostels se lewens te spaar. Hy het daarop gewys dat, indien hierdie handelinge deur mense beplan was, sou alles skeefloop en op niks uitloop nie. As dit egter regtig van God afkomstig was, sou niks wat hulle doen, God se planne in die wiele kon ry nie. Die raad het ingestem, en hoewel die apostels geslaan is, is hulle lewens gespaar en hulle het weggegaan, “bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly” (Handelinge 5:41).

En hulle het nie opgehou om te onderrig en te verkondig nie.

“En hulle het nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.” Handelinge 5:42

Alles is nie wel nie. Maar, liewe vriendin, dit is juis waar Christene die helderste moet skyn. Met ons harte vol vreugde, wysheid en die krag van die Heilige Gees, trotseer ons dit wat on-wel is met genade en die Goeie Nuus van Jesus Christus. Moenie ophou om dit waartoe God jou geroep het, na te streef nie. Wat die wêreld nodig het, is nie nog ‘n kitsoplossing of oulike bostuk nie, maar dat ons ander sal help om God groots lief te hê.

Crystal

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse