Skild van Geloof

Skild van Geloof

Terria Moore

God kan beslis nie vir my lief wees nie, want my lewe is ‘n gemors.    

Ek hou aan om sonde te doen. Miskien gaan ek nie hemel toe nie.

Ek voel altyd hartseer en leeg. Miskien het ek nie regtig my lewe aan die Here oorgegee nie.

Die lewe is so swaar vir my. Miskien sorg die Here nie vir my nie.

Het sulke gedagtes al ooit by jou opgekom? By my het dit beslis. Wanneer twyfel en wanhoop my oorval, moet ek myself afvra: “Waarom het ek nie die skild van geloof opgeneem nie?”

“Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer.” – Efesiërs 6:16

Paulus het hierdie brief geskryf terwyl hy in Rome in die tronk was. Terwyl hy aan die Romeinse wagte vasgeketting was, kon hy die soldate se wapenrusting en wapens goed bekyk.

Soos Paulus gelowiges oproep om soldate vir Christus te wees, het hy elke deel van die Romeinse uniform wat hy daagliks gesien het, ingespan. Hy het elke deel van die wapenrusting van God wat gelowiges moet dra om ten volle by geestelike oorlogvoering betrokke te wees, beskryf.

Die skild van die Romeinse soldaat het amper soos ‘n deur gelyk. Volgens geskiedenisboeke is dit ‘n scutum genoem. Dit was ongeveer 120 cm hoog en 76 cm breed en het meer as 9,10 kg geweeg.

Wanneer ons die skild van geloof opneem, is daar geen deel van ons blootgestel aan aanvalle nie. Dit kan as verdedigingswapen gebruik word, om te verdedig en te beskerm, of as aanvalswapen om vyande af te weer of om te stamp.

“Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”  – Hebreërs 11:1

Geloof is die vertroue en oortuiging dat God is wie Hy sê Hy is en dat God sal doen wat sy Woord sê Hy sal doen. Dit is die oortuiging dat God se beloftes in die Bybel alles waar is.

Geloof laat ons vertrou dat ons God wat ons nie kan sien nie, sy belofte van ‘n toekoms wat ons ons nie kan indink nie, sal nakom.

Ek is so dankbaar dat my geloof nie afhang van my of wat ek van myself dink nie. Die Bybel sê geloof is ‘n gawe van God (Efesiërs 2:8–9, 2 Petrus 1:1, Filippense 1:29).

Wanneer ek die skild van geloof opneem, hoef ek nie myself te oortuig dat my geloof groot of sterk genoeg is om enigiets te vermag nie.

Ek moet net glo dat God God is, en dat Hy in staat is om enige vyand te verslaan.

Ek kan bid dat God my in enige en alle omstandighede met die skild sal bewapen. En wanneer ek die skild van geloof opneem, hoef ek net myself te herinner Wie hierdie geveg vir my veg, en bly vertrou wie God is en wat sy Woord sê.

“Maar U, Here, is ‘n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef.” – Psalm 3:4 (AFR53)

Kom ons praat oor waarteen die skild ons beskerm.

Satan rig sy brandpyle van twyfel, teleurstelling en misleiding reguit op ons. Sy doelwit is om ons geloof in God en wat God kan doen, te ondermyn.

Sy brandpyle kom in die vorm van gedagtes wat godslasterlik, vol haat, woede, wellustig, wanhopig, en wraaksugtig is, gevoelens van vrees en angs, en gedagtes wat die outoriteit van God en die Bybel bevraagteken.

Sy brandpyle is baie subtiel maar uiters skadelik. ‘n Gelowige se skild van geloof sal egter, soos ons in die Bybel lees, nie net die vyand se pyle blokkeer nie, maar hulle almal uitblus.

“Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.” – 1 Petrus 5:8–9

My geestelike stryd was nog altyd dat ek getwyfel het of ek vir God waarde het. Ek het altyd gewonder of ek ooit goed genoeg sou kon wees dat God my kan liefhê. Dit is egter in dié stryd dat ek moet onthou om die volle wapenrusting van God aan te trek sodat ek die vyand se pyle kan teëstaan en nie hopeloos in vertwyfeling beland nie.

Wanneer ons God en sy Woord glo en vertrou, sal die satan se brandpyle uitgeblus word in plaas daarvan om ons gedagtes en siel binne te dring.

Soos ons saam deur ons donker, stukkende wêreld stap, moet gelowiges altyd oorgehaal wees om ons skild van geloof op te neem sodat ons kan ondervind presies hoe kragtig en doeltreffend ons geloof in God is.  Vrede en genade vir jou.

Terria

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs