
Ons Missieverklaring
Terria Moore

Hoekom is jy hier?
Waartoe het God jou geroep?
Wie het God jou geroep om na uit te reik?
Wat is jou missieverklaring?
Vir gelowiges is dit noodsaaklik om te weet dat ons dink en optree in ooreenstemming met God se Woord. God het ons geroep om sy verteenwoordigers te wees. Die Heilige Gees stel ons in staat om met God se outoriteit in hierdie wêreld op te tree. Watter wonderlike en oorweldigende realiteit is dit nie!
Die Bybel maak een van die rolle wat ons as gelowiges moet vervul terwyl ons hier op die aarde is, bekend. Die primêre rol wat aan ons almal toegeken is, is om die boodskap van verlossing te verkondig en uit te dra.
God het sy Seun, Jesus Christus gestuur om vir die sondes van die ganse mensdom te sterf. Jesus het die sonde en dood oorwin toe Hy volgens die Skrif drie dae na sy kruisiging uit die dood opgestaan het. Wanneer ons glo in wat Jesus volbring het, wanneer ons bely en ons van ons sonde bekeer, wanneer ons Jesus ons Here en Verlosser maak, ontvang ons verlossing. Jesus wis die skeiding tussen God en ons vir ewig en altyd uit. Dit is die Goeie Nuus!
So baie mense in hierdie wêreld sukkel en kry swaar. Hulle het die boodskap wat ons het, broodnodig: die boodskap van hoop; die boodskap van verlossing; die boodskap van Christus.
“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.” – Lukas 4:18-19
Hierdie verse maak Jesus sy missieverklaring uit. Jesus verklaar met sy eerste openbare bekendmaking aan die godsdienstige leiers wie Hy is en wat God Hom opgedra het om te doen.
God het Jesus gesalf om al hierdie take geestelik sowel as liggaamlik te vervul. Hy het gekom om die geestelike en liggaamlike skade wat sonde aangerig het, te herstel.
Jesus is gesalf om die evangelie te verkondig aan dié wat arm van gees is. Om arm van gees te wees beteken om te erken en te verstaan dat ons absoluut niks van waarde het om aan God te bied nie. Vanweë ons sonde is ons geestelik dolleeg en kan ons niks doen om onsself te verlos nie. Sodra ons verlossing ontvang, word ons met die Heilige Gees vervul.
Jesus is gesalf om die gebrokenes van hart te genees. Ek weet hierdie frase is nie in alle vertalings van die Bybel in die boek Lukas nie, maar dit kom wel voor in die 1953-vertaling in Jesaja 61:1. Ons almal was al gebroke van hart, en Jesus het gekom om ons te troos en in ons hartseer by te staan. [Die 1953-vertaling van Lukas 4:18 sê: “Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees”]
Jesus is gesalf om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word. Hy gee vir ons vryheid en bevryding van geestelike slawerny aan sonde. In Christus is ons vrygemaak.
Jesus is gesalf om blindes te laat sien. Hy het blindes fisiek genees, maar nog belangriker, Hy het gekom om diegene wat geestelik deur Satan verblind is, te laat sien.
Jesus is gesalf om onderdruktes vry te maak. Diegene wat deur die lewe mishandel, verpletter, oor die hoof gesien en afgebreek is, maak Jesus vry.
Jesus is gesalf om die genadejaar van die Here aan te kondig. Dit is ‘n verwysing na die Joodse Jubeljaar. Dit was ‘n jaar waarin alle skulde afgeskryf is en alle grond aan die oorspronklike eienaar teruggegee is. Almal kon van voor af ‘n splinternuwe begin maak.
Dit is wat ons in Jesus ontvang. Hy maak alles nuut. Sodra ons gered is, is ons ‘n nuwe skepping in Christus. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is in Jesus te vind.
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” – Matteus 11:28
Hoekom is jy hier?
Wat is jou missieverklaring?
Ons het elkeen talente wat God in ons geplaas het. Hy begeer dat ons daardie talente vir die koninkryk van God sal aanwend. Alles wat ons doen, moet Hom verheerlik!
Alles wat God in ons geplaas het is met die doel om na die behoeftes van diegene om ons wat swaarkry, om te sien. Dit is sodat ons hoop kan gee aan ‘n sterwende wêreld. Die tyd is nou!
Hoe kan ons vir jou bid in jou strewe om jou missie vir God uit te voer?
Vrede en genade vir jou,

Week 2 Uitdaging:
Hierdie week se memoriseervers fokus op wat Jesus kom doen het: verkondig die evangelie aan armes, verkondig vrylating aan die gevangenes, gee sig aan blindes, bevry die onderdruktes en verkondig die genadejaar van die Here. Terwyl jy hierdie week die Woord bestudeer, vind voorbeelde van hoe Jesus elkeen van hierdie dinge gedoen het, beide in die Evangelie van Lukas en in jou eie lewe.
Week 2 Leesplan:

Week 2 Memoriseervers:
