Ons Bron Van Krag

Ons Bron Van Krag

Julie McIlhatton

Ek het onlangs vir ‘n groep tieners gevra of hulle dink ‘n Christen se lewe is makliker en het minder probleme. Sonder om te aarsel het een van hulle geantwoord: “Ja!” Ongelukkig is dit nie die geval nie. Ek het die geleentheid gebruik om die waarheid te deel dat ons almal moeilike dae beleef en ek het vir hulle voorbeelde uit my eie lewe gegee. Ek het hulle gewaarsku dat die Bybel selfs vir ons sê dat om ‘n Christen te wees, die lewe moeiliker kan maak. Kyk wat het met Jesus gebeur!

Terwyl ek na hulle gedempte gesigte gekyk het, het ek bygevoeg: “Maar, ons wandel nie alleen deur enige van daardie dae nie – Christene wandel met God.” Soos Psalm 23:4 sê: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.”

Daar is so baie in hierdie wêreld wat ons kan lei tot smart en weeklag. Dit is nie verkeerd dat ons so reageer nie. Ons hoef nie ons pyn te verdoesel nie en die Psalms kan ons help om eerlik oor ons gevoelens te wees. Hierdie wêreld is nie soos dit moet wees nie. En tog weeklaag ons nie sonder hoop nie, ons weeklaag nie sonder geloof nie. Ons ken die Here.

Vandag se Psalm wys ons dat die Here pyn, vrees en frustrasie verstaan. Jesus het die eerste vers van hierdie Psalm aangehaal toe Hy aan die kruis gehang het. Elke woord sou ongelooflik pynlik vir Hom gewees het – en dit beteken dat Hy doelbewus gekies het om hierdie Psalm aan te haal. Hy wou die gedagtes van diegene wat naby gestaan het, gelei het na die res van die woorde van hierdie Skrifgedeelte.

In die verlede het ek ‘n speletjie by die werk gespeel waar ek probeer het om ‘n liedjie in ander mense se gedagtes in te bring. Ek sou saggies neurie of ‘n sin uit ‘n liedjie in ‘n gesprek met iemand aanhaal en kyk hoe lank dit neem vir die ander persoon om die liedjie te begin sing! Dit het ons gehelp om deur eentonige dae te kom, want die woorde van die liedjies wat ons goed ken, haak gewoonlik vas in ons gedagtes.

Die Psalms was liedere wat aan die Jode bekend was. Hulle sou vinnig herken het dat Jesus Psalm 22 aangehaal het en hulle sou die res van die Psalm geken het. Trouens, in Markus 15:33-36, nadat Jesus die eerste lyntjie van hierdie Psalm aangehaal het, het hulle Hom iets gegee om te drink, verwysende na Psalm 22:16.

Hierdie Psalm wys ons dat Jesus geweet het hoe dit voel om beledig, verag, beledig en gespot te word. Daar is so baie ongelooflike akkurate verwysings oor wat met Jesus aan die kruis gebeur het, selfs die verdeling van sy klere deur te loot! Tog eindig hierdie Psalm nie in wanhoop nie. Van die woorde in vers 22 af: “U het my gebed verhoor!” verander die hele Psalm van rigting. God is die Redder van dié wat na Hom toe uitroep, wat die Here erken en na Hom toe draai. Die Here is tereg geloof en gedien. Hy is die Koning wat oor alle nasies regeer. Ons sien mense van elke volk wat Hom dien en ander vertel van alles wat Hy gedoen het. Die laaste vers van Psalm 22 sê: “Dié sal dan aan die volk wat nog gebore moet word van hierdie verlossingsdaad getuig: die Here het dit gedoen.” Jesus het dit gedoen. Dit is volbring (sien Johannes 19:30), ons Redder het in ons plek gesterf.

Daar is so baie in hierdie wêreld waaroor ons kan weeklaag. Dinge gebeur en ons verstaan nie hoekom nie. Ons bevraagteken hoe so baie pyn en euwel kan bestaan. Tog is ons bewus van die Here se nabyheid, Hy is nie ver van ons af nie en Hy is die Bron van ons krag (Psalm 22:20). Hy verstaan ons pyn en Hy wandel met ons. Ons weet dat God nie die lyding van die verdruktes ignoreer nie. Ons kan ons liefdevolle God wat ons nie behandel soos wat ons dade verdien nie, saam vier en aanbid. Ons wandel met God.

As jy vandag tyd het, lees Markus 15:21-39 en staan verwonderd oor hoe dit met Psalm 22 verband hou. Alhoewel hierdie Psalm deur Dawid geskryf is honderde jare voor Jesus aan die kruis gehang het, is dit gebruik om diegene rondom Hom—en vir ons—te wys op alles wat Hy daar vir ons gedoen het.

As gelowiges sal ons dae nie altyd gelukkige, tevrede dae wees nie. Ons sal dae vol vrae, pyn en weeklaag hê. Dis gedurende daardie tye wanneer ons dikwels so baie leer oor God se goedertierenheid en genade. Baie van die Psalms is gevul met eerlikheid en pyn, maar hulle dui ook aan dat God die Bron van ons krag is. Dit is in orde om eerlik met God te wees en toe te laat dat sy Woord jou herinner aan sy liefde vir jou soos Hy saam met jou wandel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse