Onbeperkte Liefde

Onbeperkte Liefde

Deur Crystal / 2 September 2020 / Ken Die Liefde

Het jy ooit iets oor liefdestale gelees, of daaroor nagedink hoe jy verkies om liefde te ontvang? Toe ek en my man ons voorhuwelikse berading ontvang het, het ons ‘n toets afgelê om te bepaal wat ons liefdestale is. Ek verseker jou, oor die afgelope veertien jaar van getroude lewe, het die uitslag in die kol geblyk te wees. En absoluut teenoorgesteld.

Ek is ‘n “geskenke” en “woorde van bevestiging” persoon, terwyl hy ‘n ou vir “fisieke aanraking” en “dade van diensbaarheid” is. Hy verwonder hom terwyl ek lewe gee aan verjaarsdae en spesiale geskenkdae, terwyl ek agteroorsit en my verstom hoe hy en ons dogter voortdurend teen mekaar nestel. ‘n Taak soos om die skottelgoedwasser uit te pak, is vir my net iets wat gedoen moet word. Vir hom is iets soos vullis buitentoe dra of om tuis te kom in ‘n skoon kombuis, ‘n liefdesdaad.

Ons agtjarige dogter se hoofliefdestaal is klaarblyklik “gehaltetyd”; sy vertel herhaaldelik vir ons hoe sy dit geniet as ons drie saam iets nuuts of prettigs doen. Om ander mense waarlik lief te hê, beteken om nie net woorde te gebruik nie, maar ook met ons dade die liefde van ons wonderlike God wat weet hoe om ons volkome lief te hê, na te volg.

Ons verse in 1 Johannes herinner ons dat ons nie net liefhet deur die woorde wat ons sê nie, maar deur ons dade en die waarheid wat ons glo. Johannes skryf hierdie brief om gelowiges terug te bring na die grondslag van geloof. Sy fokus is waarheid, nie opinie nie, en hy maak sy leser weereens bedag op die belangrikste opdrag wat Jesus vir ons gegee het: om God en ander lief te hê.

Johannes spreek sy gehoor aan as “liewe kinders”, ‘n sinsnede wat hy sewe keer in sy brief gebruik. Dit is nie neerhalend bedoel nie, maar liefderyk en laat ‘n mens dink aan die omgekeerde koninkryk van God waar die nederiges verhoog sal word. In Lukas 10:21 jubel Jesus deur die Heilige Gees dit uit dat God dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan klein kindertjies bekend maak. In Markus 10:14 vermaan Jesus sy dissipels om kindertjies toe te laat om na Hom toe te kom, want die koninkryk van God behoort aan hulle. Johannes skryf met die teerheid en eerlikheid van ‘n pa aan sy kinders, of ‘n leraar aan sy gemeente.

Wanneer ons ons lewens aan Christus oorgegee het en glo dat Hy alleen die Redder vir die wêreld is, is ons in staat om in gehoorsaamheid aan Hom te leef. Namate ons in ons geloof gevestig raak, vloei ons begeerte om Hom te behaag en sy opdragte te gehoorsaam voort uit ons liefde vir Hom. As ons besef hoe lief Hy ons het, is ons in staat om vir ons medegelowiges en die wêreld om ons lief te wees en om te gee. Geloof in Christus, gehoorsaamheid aan sy opdragte en liefde vir ander is almal hoofaspekte van ons lewe saam met Christus. Ons vertroue neem toe namate ons nader aan Hom groei en voortdurend ons lewens en harte aan Hom oorgee.

Ons sal aan ons liefde as Christene uitgeken word. ‘n Liefde wat nie deur liefdestale of persoonlikheidstoetse beperk word nie, maar kom uit die oorvloed van ‘n hart wat nou met Jesus verbind is. As ons geloof deur gehoorsaamheid aan God in dade oorgaan, is die uitvloeisel liefde.  Ons het lief omdat Hy ons eerste liefgehad het, en as ons God se voorbeeld navolg, kan ons ander waarlik liefhê en hulle in ‘n dieper verhouding intrek met die Een wat ons liefgehad het toe ons nog ‘n liederlike deurmekaarspul was.

Crystal

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse