Om Jesus te Ken is om God te Ken

Om Jesus te Ken is om God te Ken

Kelli Trontel

Sosiale media het verandering en ook verwarring in ons samelewing geskep. Ons kan mense “volg” wat ons inspireer, terwyl tegnologie ons die vermoë gee om deur ’n skerm wat ons in ons agtersak hou, te kyk hoe lewens ontvou. Met verloop van tyd, soos ons na al die video’s en foto’s kyk, kan ons dalk voel dat ons hierdie inspirerende mense wat ons volg, ken. Dit is wys om af en toe ’n tree terug te neem om die realiteit en ons verhouding daarmee te herevalueer, en onsself af te vra wat werklik en waar is en wat nie. Dit is gevaarlik maklik om ’n valse opinie te skep oor mense wat ons nie ken nie.

Dieselfde kan en moet geld vir ons verhouding met Christus. Het ons kennis van Hom gegroei van die eerste keer af dat ons die Goeie Nuus gehoor het? Is alles wat ons van Hom weet gebaseer op wat ander ons vertel het, of het ons eienaarskap van ons geloof geneem en ’n ware en persoonlike verhouding met Hom ontwikkel? Ken ons Hom? Het ons geloof ’n toeskouersport geword? Het ons tevrede geraak met die basiese beginsels van wie Jesus is en wat Hy gedoen het, terwyl ons die grootste avontuur van om doelgerig saam met Hom en vir Hom te leef, misgeloop het?

Jesus het geweet dat die mense in die tempel verward was. Toe Hy in Johannes 7:28 uitgeroep het: “Julle ken my en waar ek vandaan kom,” was dit ’n strategiese woordkeuse. Hulle het dalk geweet waar Hy gebore is en dalk selfs lede van sy familie geken het, maar Jesus was baie duidelik daaroor dat Hy van God gestuur is. Daar was soveel meer aan Hom as om Jesus van Nasaret te wees. Hy het vir hulle gesê dat hulle God nie ken nie; hoe skokkend vir die Jode wat trots was daarop dat hulle God werklik ken.

Jesus het ’n paar keer in hierdie twee kort verse genoem dat hy deur God gestuur is (Johannes 7:28-29). Hy was ’n God-mens op ’n missie. Hy het onder die volle gesag van God opgetree. Hy het alles oorgedra wat die Vader vir Hom gesê het, en toe hulle Jesus en sy leer verwerp het, het die mense God ook verwerp. Om deur God gestuur te word, het beteken dat Jesus se bestaan begin het voor sy geboorte deur die maagd, Maria. Hy het saam met God bestaan voordat Hy aarde toe gestuur is. “Maar Ek ken Hom, want Ek het van Hom afgekom en Hy het My gestuur” (Johannes 7:29).

Dit is hoekom dit so belangrik is dat ons die waarheid oor Jesus glo. Om Jesus te ken, moet ons sy getuienis ken en verstaan. Ons kan Hom net intiem ken deur kwaliteit tyd saam met Hom deur te bring. Is jou doel in die lewe om God te ken en Hom bekend te maak? Indien wel, spandeer tyd in die Woord en bid gereeld. Bid dat die Here jou oë sal oopmaak om Hom te sien en Hom te ken. Ons kan God slegs deur sy Seun, Jesus, ken.

Dit is teleurstellend as ons besef dat ons daardie persoon op sosiale media glad nie geken het nie – wanneer hulle iets doen of sê wat nie strook met wat ons gedink het ons van hulle weet nie. Dit is egter selfs meer tragies wanneer iemand Jesus verwerp, maar glo dat hulle God ken.

Dit is onmoontlik om God te ken en sy Seun te verloën.

Ewige lewe word in Chistus alleen gevind.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse