My stiefdogter hou daarvan om die storie te vertel van hoe haar pa, nadat sy geval het tydens ‘n sokkerwedstryd by haar hoërskool, vir haar gesê het sy moenie bekommerd wees oor die pyn in haar arm wat nie wou weggaan nie. Hy het haar verseker dat dit net gekneus was en dat sy binne ‘n paar dae beter sou voel. Sy het egter nie.
‘n Week later het hulle saam in die ongevalle departement gesit en ‘n x-straal het duidelik gewys wat die menslike oog nie kon sien nie. Die x-straal het die problematiese disintegrasie gewys wat onder die oppervlak van haar vel weggesteek was. Haar been was gebreek en sou nie sonder mediese hulp genees nie.
Die teoloog Warren Wiersbe het hierdie gedeelte in Romeine 3 “‘n x-straal ondersoek van die verlore sondaar van kop tot tone” genoem. Jy sien, op die oppervlak mag ons dink dat ons net ‘n paar klein goedjies het wat nie so problematies is nie, om aan te werk, maar dit is ‘n leuen. Dit is ‘n leuen uit die diepte van die hel wat die vyand van ons siele wil hê ons moet glo.
Die vyand van ons siele vertel ons dat “alles in orde” is met ons. Ons het mos nie iemand vermoor nie en ons probeer soveel as wat ons kan om vriendelik teenoor almal te wees. Ons word wel elke nou en dan ‘n bietjie kwaad en vereis uit selfsug dat dinge op ons manier gedoen moet word, maar dis mos nie wie ons werklik is nie, nê?
Liewe vriend en vriendin, God sien ons harte duideliker as wat ons dit sien. Sonde het ons siele en gees deurdrenk as ‘n onsigbare en tog dodelike gif. Wanneer ons harte wat met sonde gesatureer is gesien word deur die lens van God se Woord as standaard, word die korrupsie duidelik sigbaar:
- Ons gedagtes het nie begrip van wat waarlik reg is nie. Dit beteken dat ons nie verstaan waarom ons werklik bestaan nie. Ons droom groot drome en het ons eie agendas, maar die waarheid is dat ons deur ‘n heilige God geskape is. Ons oorhoofse doel moet wees om Hom te ken en Hom bekend te maak.
“Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?” (Jeremia 17:9)
“…Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie.” (Romeine 8:7)
- Ons harte streef nie na dít wat heilig is en volg nie vir God alleen nie. Ons “draai” voortdurend weg van ons Eerste Liefde, wie waardig is van al ons aanbidding en ons jaag dít wat waardeloos is na.
“Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister.” (Romeine 1:20-21)
“Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dit is die dinge wat die mense onrein maak. Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery.” (Matteus 15:18-19)
- Ons wil is ‘n slaaf van sonde. In ons gevalle, sondige toestand, gee ons oor aan ons vleeslike begeertes en kan ons nie heelhartig dít wat goed is, nastreef nie.
“Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.” (Romeine 7:18-19)
“Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.” (Matteus 26:41)
Vriende, ons sonde mag dalk nie deur ander raakgesien word nie, maar die dood is ‘n feit as geen aksie geneem word om hierdie totale verdorwenheid aan te spreek nie. Gelukkig het die Herder van ons siele gekom om ons te red. As gevolg van Christus se offer aan die kruis, kan ons genesende verlossing ontvang deur sy bloed wat vir ons gestort is.
As ons na Jesus draai en ons behoefte aan vergifnis bely, was Hy ons skoon van al ons sondes. Almal wat Christus as Here aanneem, kan vandag jubel omdat Hy al ons oortredings vergewe het. Ons kan die Goeie Nuus deel dat sy genade ons vir ewig verlos het.