‘n Vaste en Seker Hoop

Wat Seker is

Ons leef in onseker tye. Dit voel asof ons elke keer as ons na die nuus kyk, hoor van skokkende, hartseer, amper ongelooflike dinge wat reg oor ons wêreld gebeur.

Daar is ‘n ou gesegde dat niks in hierdie wêreld seker is nie, behalwe die dood en belasting. Daar steek dalk so ‘n bietjie waarheid in want ons gaan beslis met albei te doen kry. Gelukkig is daar vir Jesus se volgelinge ‘n vaste en seker hoop dat hierdie lewe nie al is wat daar is nie. Die dood is nie die einde nie maar ‘n poort na soveel meer.

‘n Paar jaar gelede was ek en my man uiters bevoorreg om vir ‘n paar maande in Jerusalem by ‘Die Tuingraf’ ─ die terrein waar Jesus se dood en opstanding plaasgevind het ─ te werk. Sommige geskiedkundiges beweer dat die graf op ‘n ander plek was, maar dis nie ter sake nie. Die hoofsaak is dat die graf, waar dit ook al mag wees, leeg is. Halleluja!

Jesus het nie dood gebly nie. Inteendeel, deur die opstanding het Hy die sonde, dood en hel vir ewig oorwin.

Baie Skrifgedeeltes is pragtig in klip rondom die tuingraf gegraveer, en my gunsteling is uit Romeine 1. In hierdie hoofstuk verklaar die apostel Paulus dat Jesus Christus se opstanding uit die dood kragdadig bevestig dat Hy die Seun van God is (1:4).

Dat ‘n God vir sy mense sal sterf om die straf vir hulle sonde te dra, is ondenkbaar. Watter hoop sou ons hê as ons ‘n God aanbid het wat dood is? Ons geloof sou vergeefs wees, en ons sou nog steeds in ons sondes wees (1 Korintiërs 15:13-14).

 

Die Waarborg van die Opstanding   

Jesus se opstanding het die Ou Testamentiese profesie vervul en bevestig tegelyk sy goddelike en menslike natuur as die Seun van God, met finale mag oor die dood, ons grootste vyand. Omdat Hy leef, sal ons ook leef (Johannes 14:19). Die dood het nie meer die laaste sê in ons lewens nie (Romeine 6:10-11).

Dít is die onwankelbare fondament waarop ons geloof berus wanneer ons op Jesus vertrou, die Een wat sy lewe vir ons gegee en weer opgestaan het. Dit is die evangelie waarop ons staan. Paulus skryf in sy brief aan die gelowiges in Korinte dat hy wil hê hulle, en ons, moet altyd onthou “die belangrikste…is dít: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte (1 Korintiërs 15:3-4).

Ons het nie net die verklaring van Jesus se opstanding wat in die Skrif opgeteken is nie, maar ons het ook ooggetuieverslae van diegene aan wie Hy verskyn het. Honderde mense het getuig dat hulle die opgestane Messias teëgekom het (1 Korintiërs 15:6).

Jesus se opstanding is ‘n waarborg vir almal wat Hom volg dat ons ook weer gaan opstaan. Dit is nie net ‘n vaste en seker hoop vir die toekoms nie. Dit is ‘n hoop wat ons leefwyse vandag en elke dag vorm totdat Hy terugkeer of ons huis toe laat kom.

Opstandingshoop is lewend en gee ons krag in swaarkrytye (1 Petrus 1). Dit is ‘n hoop wat die angel uit die dood haal, want ons treur nie soos ander mense wat sonder hoop is nie (1 Tessalonisense 4:13). Natuurlik treur ons nog steeds. Ons voel die pyn van skeiding en die hartseer van ‘n aardse afskeid van ons geliefdes intens. Uieindelik het ons die versekering dat ons pyn en droefheid tydelik, maar ons hoop ewig is.

 

Hoop in Lewe en die Dood  

Ons predikant verklaar by elke begrafnis vir die gelowiges: “Die graf herinner ons aan die kortstondigheid van die lewe, terwyl die opstanding ons herinner aan die kortstondigheid van die dood.” Halleluja!

Ons opgestane Verlosser gee ons hoop in die lewe en die dood. As volgelinge van Christus berus ons hoop op sy opstanding. Dit is nie bloot ‘n soort hoop wat soos ‘n versekeringspolis eers in werking tree wanneer ons self te sterwe kom nie. Die opstanding is fundamenteel noodsaaklik vir ons daaglikse geloof.

Opstandingshoop en die seker wete dat daar ‘n dag gaan kom wanneer ons nie meer met sonde sal worstel of siekte, dood, pyn of trane sal ervaar nie, is die vaste fondament vir gelowiges. Dit word veral vandag deur ons vervolgde broers en susters dwarsoor die wêreld beleef en verstaan. Hulle bly vasstaan ondanks die risiko van gevangenisstraf, die dood, onreg, wrede aanvalle, ontvoerings, of om uit hulle familie verban te word. Die opgestane Verlosser, die Here Self, staan hulle in hulle donkerste tye by. Hy laat die lig skyn van die belofte van opstandingskrag en die troos dat hulle vir ewig ‘n heerlikheid gaan ervaar wat alles wat hulle tans moet verduur, verreweg sal oortref.

Ons kan ook vol vertroue wees dat, ongeag waarvoor ons vandag te staan kom ─ teleurstellings, die gevreesde diagnose, die pyn van verlies, die vreugdes, die seëninge, die lyding, die hartseer, die beste dae, en die slegste tye ─ God werk in ons en is besig om ons verhaal te skryf met die begin en einde, die voortsetting en voltooiing in Hom. Hy het ons die opstandingslewe en ewige hoop gegee. Dit is ons s’n, en word net in Jesus gevind.

C.S. Lewis vat dit pragtig saam in sy laaste boek in die reeks Kronieke van Narnia, Die Laaste Geveg. Hy skryf: “Hul hele lewe in hierdie wêreld…was net die voorblad en die titelbladsy. Uiteindelik begin hulle nou met die eerste hoofstuk van die Groot Verhaal wat niemand op aarde al ooit gelees het nie, wat vir ewig aanhou en waarin elke hoofstuk beter is as die vorige een.”

Ons het hoop vir nou en hoop vir die nog onbekende want Jesus leef! Ons Verlosser het die sonde, dood en hel oorwin en vir ons die oorwinning van die belofte van die ewige lewe saam met Hom behaal.

Onthou julle dat ek melding gemaak het van ons diens by die Tuingraf? Besoekers het van oral oor in die wêreld gekom. Terwyl hulle in die tuin aanbid het, het ons elke dag Bill en Gloria Gaither se woorde in soveel verskillende tale aangehoor.

Die hoop wat ons het as gevolg van ons opgestane Verlosser laat ons tot lofprysing en aanbidding oorgaan en verklaar:

“Omdat Hy leef, sien ek kans vir môre,

Omdat Hy leef, is daar geen vrees;

Omdat ek weet, ja ek weet Hy hou die toekoms,

Die lewe is die moeite werd

Omdat Hy leef!”

 

Dus, liewe susters, laat ons bly wees en vasstaan op opstandingshoop.

Katie

 

 

 

Katie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs