‘n Skoon Gewete

‘n Skoon Gewete

Deur Julie / 3 Augustus 2020 / In Sy Krag

Niks onstel my meer as ‘n onrein gewete nie. Dit kan keer dat ek nie aan die slaap kan raak nie of dit maak my in die middel van die nag wakker. Daardie malende, sieklike gevoel van my gewete. Dit sê gereeld vir my dat ‘n verhouding met ‘n ander verbreek is. Soms kan dit oor klein onbelangrike dinge gaan, soos wanneer ek praat voordat ek dink. Ander kere kan dit meer ernstig wees, soos wanneer ek met opset gepraat het om ‘n ander persoon seer te maak of toe ek gekies het om Christus te ontken, hetsy in woorde of my gebrek daaraan.

Ek hou baie van die beskrywing in 1 Samuel 24:5, “daarna het Dawid se gewete hom gepla omdat hy ‘n stuk van Saul se kleed afgesny het” (klem bygevoeg). Dit was ook my ervaring – my gewete pla my! Dit is ‘n goeie ding want God lei my om aksie te neem. Wanneer ons kan bid, optree en die probleem oplos, herstel die Here my vreugde in Hom. Maar daar is tye wanneer ‘n oplossing nie moontlik is nie. Dit is iets waarmee ek worstel. Ek het geleer dat sodra mens gedoen het wat jy kan om vrede te maak, daar tye is wat ons vergifnis by die Here moet soek en dit by Hom moet los. Romeine 12:18vsê, “As dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.”

Paulus praat in hierdie hoofstuk van ‘n skoon gewete en daar is twee areas waar sy gewete skoon is:

  • By God
  • By ander

Paulus het geweet dat sy verhouding met God nie op sy goedheid en optrede gebaseer was nie, maar te danke aan God, wat deur Christus se dood en opstanding ingegryp het om hom te red. Paul het egter ook geweet dat hoe hy leef en optree belangrik was. Paulus het Timoteus hiervan gewaarsku in 1 Timoteus 1:19 “hou vas aan die geloof en behou ‘n goeie gewete. Omdat sommige hulle gewete onderdruk het, het hulle geloof skipbreuk gely.” Dit is beide ‘n aanmoediging en ‘n waarskuwing vir ons almal.

Wat beteken dit om met ‘n skoon gewete teenoor ander te leef? Dit is meer as om te probeer goed leef en goed te doen vir ander. Paulus het hoop gehad in God – hy het geweet die toekoms is veilig – dat daar ‘n opstanding sou wees. Dood is nie die einde nie. Paulus wou deur sy lewe en woorde seker maak dat die mense rondom hom die geleentheid kry om van die Here Jesus te hoor en Hom te leer ken.

Ons het ‘n voorbeeld hiervan toe Paulus met Felix en sy vrou Drusilla gepraat het. Felix het die mag gehad om Paulus wat onregverdig aangehou word, vry te laat, soos opgemerk word deur die bevelvoerder wat Paulus na Felix gestuur het. “Dit blyk dat hulle hom aankla oor twispunte in verband met hulle wet, maar dat hy niks gedoen het wat die dood of tronkstraf verdien nie” (Handelinge 23:29).

Paulus het ‘n keuse gehad om die waarheid oor Christus te praat of om sy vrylating te verkry deur omkoopgeld te betaal. Paulus was nie bang vir die nagevolge nie en het die waarheid gepraat oor Christus. Sy woorde het selfs veroorsaak dat Felix bang was toe Paulus direk gepraat het oor die sondige aard van sy verhouding met Drusilla, wat sy derde vrou was wat hy aangemoedig het om van haar man te skei om met hom te trou.

Twee jaar lank het Felix en Paulus gereeld gepraat. Mens sou na al daardie tyd verwag het toe Felix van werk verander, dat hy die onreverdige gevangenisstraf van Paulus sou laat eindig, maar in plaas daarvan het hy ‘n guns aan die Jode gedoen en hom in die tronk gelaat vir die volgende goeweneur. Die lewe is nie altyd regverdig nie. Paulus het gedoen wat reg was, hy het nie omkoopgeld betaal nie en het tyd spandeer aan getuienis teenoor Felix. Felix het geïntresseerd gelyk maar was op die einde ongeaffekteer.

Al doen ons die regte ding, kry ons nie altyd die resultate wat ons wil hê nie. Ons is geroep om getrou te wees aan God, ongeag die uitkoms, om ons gewete met God en met ander skoon te hou. Die hoop – die seker toekoms – wat ons in God het, behoort ons daaglikse lewens te verander want ons bekommer ons minder oor die dinge wat belangrik is vir die wêreld en dink meer aan wat ewig sal duur. Soos die sendeling Jim Elliot geskryf het, “Hy is geen dwaas wat prysgee wat hy nie kan hou nie, om te verdien wat hy nie kan verloor nie.”

  • Het jy ‘n skoon gewete voor God? Indien nie, praat met Hom daaroor. Soek en ontvang sy vergifnis.
  • Het jy ‘n skoon gewete voor ander? As jy aan iemand kan dink waaroor jou gewete nie skoon is nie, praat met God daaroor. Oorweeg watter aksie nodig is. Probeer om dit op te los terwyl dit onder jou beheer is.
  • Wys jou woorde en dade ander na Christus? Leef jy op ‘n manier wat getrou is aan God en Sy Woord?

Neem vandag tyd om ons wonderlike God te prys, wat ons gewete skoonmaak van al ons groot sondeskuld. Leef in vryheid. Deel die goeie nuus met ander. Soek eers die koningkryk van God. Dan sal jy ook kan sê, “my hoop is in God en my gewete is skoon voor Hom en ander.”

Week 6 Uitdaging

Paulus was vol vertroue dat God hom sou aanhou help en verlos wanneer hy dit nodig gehad het. Maak hierdie week ‘n lys van belangrike maniere waarop God aan jou getrou was. Sit daardie lys êrens waar jy dit elke dag kan sien.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse