Groot Lydensweek Dag 4: ‘n Pragtige Daad

Ons lees vandag Matteus 26:6-16. Hierdie gedeelte verduidelik volgens Matteus wat die Woensdag voor Jesus se kruisiging gebeur het.

Die gekose Skrifgedeelte vir vandag is Matteus 26:6-16 met Matteus 26:13 as ons SOAP-vers.

 

Dit verseker Ek julle:

Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig sal word,

sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ‘n herinnering aan haar.

 

Jesus het geweet wat binnekort met Hom sou gebeur. Hy het saam met sy naaste vriende bymekaar gekom om ‘n maaltyd te deel en om hul geselskap te geniet. Skielik val ‘n albaste fles en die vertrek word stil. Een van die vroue neem haar gebreekte fles en giet duur olie op Jesus se kop uit.

Ons weet uit ander evangelies dat hierdie vrou Maria van Betanië was, die suster van Lasarus en Marta. Dit is dieselfde Maria wat aan Jesus se voete gesit en gretig was om sy woorde te hoor (Lukas 10:38-42). Dit was dieselfde Maria wat voor Jesus se voete neergekniel en gesê het, “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.” Dit was hierdie Maria wie se geween Jesus geweldig bewoë gemaak het in sy gees, Hom ontstel het en laat ween het (Johannes 11:32-35).

Maria het Jesus geken. Sy het gesien hoe Hy magtige dinge in haar lewe doen. Hy het haar met waardigheid behandel en haar die geleentheid gegee om van Hom te leer, iets wat vroue in die eerste eeu gereeld ontken is. Maria het geweet dat Jesus die opstanding en lewe was. Sy het dit nie net geglo vir die einde van dae nie, maar sy het sy opstandingskrag in aksie gesien: Jesus het haar broer uit die dood opgewek (sien Johannes 11:43-44).

Maria het geweet wie Jesus was. Sy het geweet hoe waardevol Hy was. Sy het gesien hoe Hy haar verlos en hoe Hy op onverklaarbare maniere aan haar voorsien. Jesus was meer werd as alles wat sy gehad het. Sy het die albaste fles gebreek en alles wat sy het aan Jesus gegee.

Sy het ‘n pragtige daad vir haar Here gedoen. Sy het Hom met haar lewe geëer omdat Hy haar lewe oor en oor gered het.

Toe die dissipels haar berispe het omdat sy so ‘n duur geskenk gemors het, het Jesus haar optrede verdedig. “Waarom maak julle dit vir die vrou moeilik? Sy het ‘n goeie daad aan My gedoen. Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie” (Matteus 26:10-11).

Maria was lief vir haar Here. Sy het die Here meer liefgehad as haar toekoms, meer as haar hede en meer as haar verlede. Sy het na die Here geluister en geweet wat sy toekoms inhou. Haar toewyding het Jesus meer geseën as wat sy op daardie oomblik kon begryp. Dit was nie ‘n vermorsing nie. Dit was ‘n pragtige eerbewys.

Jesus het dieselfde vir ons gedoen. Hy het ons harte, ons lewens en ons omstandighede verlos. Hy het vir ons verlede, ons hede en ons toekoms voorsien. Mag ons Hom liefhê en eer op dieselfde manier as wat Maria het: met alles wat ons het.

Hoe kan jy vandag vir Jesus eer met alles wat jy het? Prys Hom vandag vir wie Hy is en hoe Hy jou lewe verander het.

*Uittreksels uit hierdie inhoud is oorspronklik gepubliseer in die NET ‘Love God Greatly Bible’ en is geskryf deur Melissa Fuller.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Geen Bybelstudie is gevind nie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse