‘n Onvernietigbare Koninkryk
Lyli Dunbar
Ek het in my strandstoel gesit en kyk hoe twee jong meisies besig was om ‘n groot koninkryk in die sand te bou. Hulle het saam gewerk om emmers sand te vul en dit net reg te plaas om ‘n glorieryke struktuur op te rig. Toe hulle klaar was, het die twee argitekte teruggestaan en geglimlag vir hul meesterstuk.
Maar die grootsheid het nie lank geduur nie. Julle sien, hulle fondasie was gevestig op poeieragtige stof. Nie lank daarna nie het die branders ingestroom en die struktuur wat hulle met trots opgerig het, uitgewis. In plaas van skoonheid, was die finale effek gebrokenheid en wanorde.
Ek moet hierdie beeld onthou as ek bang word wanneer ek die ywerige monumente sien wat gebou is deur diegene wat God teëstaan. Soms lyk hierdie vestings van rebellie onoorkoomlik, en ek begin die leuen glo dat die bose seëvier.
Die koninkryke van hierdie wêreld kan lyk soos diere wat alles verslind wat heilig en reg is, maar hulle arogante praal sal weggevee word soos kastele in die sand. God sit tot in alle ewigheid op die troon, en Hy sien alles en weet alles. Niks wat op aarde gedoen word, ontgaan sy aandag nie.
Vriendin, as jy oorweldig is deur tirannieke boosheid in hierdie wêreld, neem jou oë weg van die vernietigende onderdrukking van die mens en plaas jou oë stewig op jou almagtige God:
- Vind vertroosting omdat Hy op die troon sit. Jou God is nie verras of onkant gevang deur die bose nie. Hy rus in totale beheer.
- Let op dat sy klere wit is soos sneeu, en sy hare wit soos wol. Jou Hemelse Vader beliggaam wysheid en heiligheid. Hy bestaan buite die grense van tyd en ruimte, en Hy onderhou sy hele skepping.
- Staan in verwondering, want vlamme van vuur omsingel sy koninklike prag met wiele wat almal brand. As ons Regverdige Regter, is God altyd aan die werk om sy goddelike plan van verlossing uit te voer.
- Vind vreugde in sy toewyding tot geregtigheid wanneer die boeke oopgemaak word. God hou rekord van elke daad van boosheid, en Hy sal handel met diegene wat opstandig en onberouvol bly.
- Buig in aanbidding saam met die duisende der duisende wat Hom met oorgawe dien. Eendag sal ons triomfantelik voor Hom staan met ‘n skare gelowiges om die Koning van die Konings te eer.
- Wees bly omdat jou Verlosser, die Seun van die mens, in sy teenwoordigheid gelei word en alle gesag, heerlikheid en soewereine mag gegee word. Jesus het vlees geword, ‘n sondelose lewe gelei, aan die kruis gesterf en die dood oorwin om die oorwinning te verseker.
Wees verseker: Die heerskappy van Koning Jesus sal nooit eindig nie. Op ‘n bewolkte dag kan jy met groot hoop na die hemel opkyk en weet dat die lug enige oomblik kan open en Christus uit die hemel sal neerdaal om alles eens en vir altyd reg te stel.
Die Almagtige se koninkryk sal alle teenstand oorwin en onvernietigbaar staan vir alle ewigheid. Hy heers oor alles. Laat daardie waarheid soos ‘n golf oor jou spoel en al jou vrees uitwis. God wen op die ou end.
Week 5 Uitdaging:
Identifiseer een huidige sonde waarmee jy worstel. Verbind jou daaraan toe om daagliks te bid en te vra dat God jou genade en krag sal gee. Vra die Heilige Gees om jou te help om teen versoeking en sonde te veg. Reik ook uit na ‘n vriend of mentor wat jy vertrou, deel jou stryd en vra vir hul gebede en bemoediging.
Week 5 Leesplan:
Week 5 Memoriseervers: