‘n God Wat Red

‘n God Wat Red

Ek weet nie van jou nie, maar in my geloofsreis het ek al deur ‘n verskeidenheid van seisoene gegaan. Ek het vrugbare seisoene beleef en ek het ook seisoene van lyding geken, waar ek nie gedink het dat God dit sou kon verlos nie. En tog is dit presies wat Hy gedoen het. Ek het snags alleen op my knieë in my slaapkamer gekniel en God gesmeek vir ‘n deurbraak. En al  beantwoord God nie altyd ons gebede presies op die manier waarop ons wil hê dat Hy dit moet doen nie, is dit sy aard om te red.

Dit is wat ons vandag in hierdie verse sien.

Hier in Genesis is Abram op ‘n deurslaggewende oomblik. Sy lewe is nie wat hy verwag het dit sou wees nie. Hy het gedink hy sou op hierdie stadium van sy lewe kinders hê, en meer spesifiek, hy het gedink hy sou ‘n erfgenaam hê. Kan jy jou indink om te worstel met die smart van onvrugbaarheid, maar ook met die realiteit dat jy nie ‘n erfgenaam het om jou lewenswerk, jou nalatenskap voort te sit nie? Dit is waar Abram in hoofstuk 15 is.

Maar God.

God, wat ryk is in barmhartigheid en standvastige liefde, het ‘n verlossingsplan vir Abram se lewe. En daardie plan sou nie slegs ‘n impak op Abram se familie hê nie, maar dit was ‘n verlossingsplan vir ons almal.

God het ‘n verbond met Abram gesluit dat sy nageslag so talryk sou wees as die sterre in die hemel, en nie net dit nie, Hy het ook ‘n verlossingsplan vir hulle. My kinders sing steeds vandag die gewilde liedjie “Vader Abraham” terwyl hulle deur ons huis loop. As jy nie hierdie lied ken nie, ‘n deel daarvan klink so:

“Vader Abraham het baie seuns

Baie seuns het Vader Abraham

Ek is een van hul en so ook jy

Kom sing saam en wees bly!

Kyk links…”

As jy een van my kinders is, hardloop jy nou in die kombuis rond en kyk jy links en swaai jy jou regterarm – en miskien tref jy per ongeluk ‘n boetie of ‘n sussie terwyl jy dit doen.

Wat ek hiermee wil sê is dat ons uit die bloedlyn van Abram, die bloedlyn van Dawid kry. En uit die bloedlyn van Dawid kry ons Jesus, ons beloofde Messias. En in Christus word ons almal kinders van God. Omdat Abram in God geglo het, het God hom vrygespreek, en ook vir ons.

Romeine 4 stel dit so: “Hy [Abraham] het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek. Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word (klem my eie).

Abraham het in God geglo. Hy het vertrou dat alles wat God gesê het sal gebeur, tot verwesenliking sou kom. En as gevolg van sy getrouheid, is diegene wat in Christus glo, geregverdig en gered. En vandag, in ons leeftyd, word aan ons ook ‘n keuse gegee. Sal ons glo dat God sê wie Hy is? Hou ons vas aan die nuwe verbond wat Hy ons deur Jesus Christus gegee het? Of sal ons wees soos die klein kindertjies in Efesiërs 4:14 wat “soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer”?

Elkeen van ons het die keuse, maar ek en my huis, ons sal voortgaan om vas te hou aan die beloftes van God en glo dat Hy eendag weer gaan kom. En wanneer Hy weer kom, sal Hy elke traan van ons oë afvee, want Hy is wie Hy sê Hy is: ‘n God wat Red.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse