Met Jou Hele Wese
Melinda Choi
God se Geregverdigde Jaloesie
“Die Here jou God is ‘n jaloerse God by jou” (Deuterononium 6:15). Die eerste keer toe ek dit lees, was ek nogal verbaas. Kan God jaloers wees? Is jaloesie dan nie sleg nie? By mense dui ons jaloesie daarop dat ons ontevrede is met wat ons het en wil hê wat ander het. Maar by God is dit anders. God is regverdig en heilig. Sy jaloesie is vir ons. Want God wil ons almal hê. Dit is wat Hy bedoel waar Hy in Deuteronomium 6:5 sê: “Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel, met al jou krag.” Hy wil hê dat ons Hom bo alles anders moet liefhê en dat elke deel van ons volkome aan Hom oorgegee moet wees.
Daar is baie gode (met ‘n klein “g”) in die lewe wat ons aandag aflei en ons toewyding en gehoorsaamheid weg van Jesus af trek. Ongeag of dit ‘n persoon, ding of idee is, ons kan dit maklik aanbid asof dit God is. Hoewel dit op elke grootmens van toepassing is, is ons kinders selfs nog meer kwesbaar. Hulle kry daagliks met hierdie afgode te doen, letterlik elke oomblik terwyl hulle wakker is. Selfone, geld, gerief, seks, vermaak, identiteit, sosiale media en beïnvloeders, om maar net ‘n paar te noem. Dit lyk of hulle net nie daarvan kan wegkom nie.
Leef die Woord van God Uit
Te midde van die stryd om ons harte, het God ‘n roete vir ouers uitgelê om op koers te bly. Dit is hoe ons die Woord van God aan ons kinders bring. Dit moet “in jou gedagtes bly”. Ons moet dit “inskerp by [ons] kinders” en “met hulle daaroor praat as [ons] in [ons] huis is en as [ons] op pad is, as [ons] gaan slaap en as [ons] opstaan” (Deuteronomium 6:6-7).
Dit is nie voorstelle nie. Dit is gebooie, en ek sien twee waarhede daarin. Eerstens moet ons God se Woord persoonlik ken om God se Woord uit te leef. Hoe kan ons ons kinders iets leer as ons dit nie self ken nie? Hulle sal net soveel van ons leer as wat ons persoonlik van God en sy Woord weet. Ons grootste verantwoordelikheid as Christenouers is dus om Jesus eers te leer ken. Dan moet ons deur die krag van die Heilige Gees leef, sodat ons oorgegee en in nederige gehoorsaamheid aan die Woord van God kan wandel. Dit is hoe ons toegerus sal wees om ons kinders te leer wat God ons geleer het. Dit wil nie sê ons moet absoluut alles weet voordat ons ons kinders leer nie. Dit is eerder ‘n geval van terwyl ons leer, kan ons ander leer.
Leef die Skrif Prakties Uit
Ek het dit eers regtig besef die jaar toe ek ons vyf kinders tuis onderrig het. Ek het geweet dit sou baie geduld van my verg, en daarom het Jakobus 1:19 my vers vir daardie jaar geword: “Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.” Ek het nogal gedink ek vaar heel goed, totdat my dogter halfpad deur die jaar eendag sê: ”Mamma, hoekom is jy heeltyd so knorrig?” Ek was geskok, ‘n bietjie seergemaak, en wou eerlikwaar net myself verdedig. Maar toe besef ek dit is ‘n geleentheid om God se Woord in aksie te leer. Ek het nederig om verskoning gevra en eerlik teenoor haar erken dat ek van Jesus afhanklik was om my elke oomblik van elke dag te help. “Ek ook, Mamma. Ek ook,” het haar soet stemmetjie geantwoord. Ons het saam gebid dat ons elkeen sou leer hoe om die Woord van God nog meer te gehoorsaam. Hoe anders sou daardie oomblik gewees het as ek gereageer het soos ek voel, in plaas van op die manier wat God se Gees in my, my gelei het. Daardie vinnige besluite om die Woord van God te gehoorsaam en daarvolgens op te tree of om op menslike instink te reageer, is die beste onderrigtye van ouerskap.
Wandel saam met Ons Kinders
Tweedens vereis elkeen van die gebooie in Deuteronium 6:6-7 intieme omgang met ons kinders in hulle daaglikse lewe. Ek het persoonlik ontdek dat die diepste geestelike insig in die skynbaar alledaagse oomblikke kan plaasvind. Vir elkeen van ons kinders is dit ‘n bietjie anders. Een hou daarvan om haar teen my aan te vly en my tot in die fynste besonderhede van haar dag te vertel. ‘n Ander een hou daarvan om lang ente te gaan stap waar ons nie oogkontak hoef te maak nie, maar die diepste gedagtes van haar hart kom vanself uit. Nog een vra diep vrae nadat sy dit vanselfsprekend met Jesus bespreek het, en net bevestiging van haar gevolgtrekkings soek. Die een seun hou daarvan om vroeg soggens te gesels en vrae te vra wat sy ouderdom jare vooruit is, terwyl die ander seun tot laatnag by my sit terwyl hy oor die waarheid nadink.
Ek dink dit is wat die skrywer van Deuteronomium daarby bedoel om ons kinders te leer. Die waarheid van God se Woord moet ons harte aanraak, voorop in ons gedagtes gehou word, en natuurlik in die dag-tot-dag-oomblikke van die lewe uitgestort word. Laat ons selfs nie eens die alledaagse oomblikke verspil nie, want elkeen is ‘n geleentheid om ons kinders te leer hoe hulle moet leef (Spreuke 22:6). Die doel daarvan om hierdie gebooie te gehoorsaam, is immers om die Here ons God met alles wat ons is lief te hê.
Dat Dit Met Jou Goed Mag Gaan
Ons het egter nog nie die “waarom” van hierdie gedeelte bespreek nie. As jou kinders enigsins soos myne is, sal hulle altyd wil weet “Hoekom”? Om heeltemal eerlik te wees, is dit die uitroep van my hart ook wanneer God my beveel om iets te doen. “Hoekom, Here? Hoekom ek?” God beantwoord daardie vraag so subtiel in die gedeelte dat ons dit amper kan mislees. “Jy moet luister…kom dit nougeset na dat dit met jou goed mag gaan” (Deuteronomium 6:3). Ons hoor die opdraggedeeltes van hierdie verklaring, “Luister” en “kom dit nougeset na”. Maar het jy die “hoekom”-deel gesnap? Dit is dat dit met jou goed mag gaan.
Die vaagheid van hierdie belofte laat in der waarheid ruimte vir God om “goed gaan” in die individuele lewens van ‘n ieder en elk van sy kinders te definieer. Hierdie is nie ‘n een-grootte-vir-almal-belofte nie want God se planne vir elkeen van ons is verskillend. Ons goeie God ken ons persoonlik en seën ons daarom individueel. Die goedheid wat aan ons, as gelowiges, beloof word, is uiteindelik om eendag vir ewig saam met ons Verlosser te wees. Deur God se Woord kan ons ons goeie God ken en vertrou en in ooreenstemming met sy weë leef. Mag ons gekenmerk word deur ‘n lewenswyse wat die woorde van die Skrif uitleef en aan ons kinders demonstreer dat ‘n lewe met Christus beter is as enigiets wat hierdie wêreld ons kan bied.
Melinda