Meer as Genoeg

Meer as Genoeg

Katie Shott

Wanneer was die laaste keer wat jy deur Jesus verras is?

Hierdie vraag is onlangs in ons Bybelstudiegroep gevra en dit het ons laat dink dat ons, dalk selfs onbewustelik, op beperkte wyses aan God gedink het in terme van wat Hy kan doen, hoe Hy sal werk of hoe Hy ons gebede kan beantwoord.

Dink net as ons in tyd kan teruggaan en daardie selfde vraag aan Jesus se dissipels kan vra in die vroeë dae van hul roeping om Hom te volg. Ek dink hulle antwoord sal wees: “Vandag!”

Kom ons herinner onsself aan die ongelooflike verandering in hul daaglikse lewens en die wonderbaarlike dinge waarvan hulle getuies was nadat hulle deur Jesus gekies en geroep is. Hulle het gesien hoe ‘n melaatse genees is, ‘n verlamde man genees en vergewe is, dooies opgewek is, ‘n storm gestil is, duiwels uitgedryf is, menigte mense genees is en ‘n koninkryk wat anders en kontra-kultureel is, deur gelykenisse verkondig en oordink is!

Hierdie is net ‘n paar van die gebeurtenisse wat ons tot dusver in ons studie van die Evangelie van Lukas bestudeer het. Is ons deur Jesus verras? Deur wie Hy is, wat Hy leer, hoe Hy die onmoontlike kan doen, hoe Hy die Een is wat sien en ken en omgee? Of het ons so bekend geword met hierdie gedeeltes van die Skrif en die wonderbare dinge waarvan hulle vertel, dat hulle hul wonder verloor het?

Die apostels was saam met Jesus terwyl Hy baie ongelooflike dinge gesê en gedoen het, maar nou is hulle uitgestuur in sy krag en outoriteit, as Jesus se verteenwoordigers, om die siekes te genees en die Goeie Nuus van Jesus se koninkryk te verkondig. Hulle het onderrig ontvang om met min te reis, as ‘n herinnering aan hul absolute afhanklikheid van God en alleenlik sy voorsiening van alles wat hulle benodig.

Is dit nie vir ons ook ‘n groot les onderwyl ons God dien en uitreik na ander nie? Ons moet onthou dat niks deur ons menslike pogings, in ons eie krag of uit ons eie hulpbronne bereik word nie, maar soos Paulus sê, dat alles wat in sy naam en vir ewige waarde gedoen word, “uit Hom en deur Hom en tot Hom” is (Romeine 11:36). Watter taak ookal voor ons lê, maak nie saak hoe oorweldigend of hoe moeilik die taak van die bediening met tye mag voel nie: Jesus is meer as genoeg.

Lukas vertel ons dat die dissipels teruggekom het van hule avonture in die bediening en alles aan Jesus vertel het (Lukas 9:10). Ons kan onsself net indink hoe opgewonde en entoesiasties hulle was! Dit is interessant om te sien wat Jesus hier doen—Hy neem hulle saam met Hom om privaat weg te kom om te rus.

Hoe belangrik is dit nie vir elkeen van ons ook om, te midde van ons besige skedules en al die eise wat ons beleef, te kies om tyd te maak vir daardie sabbatsrus wat net Jesus kan gee. Die tyd alleen saam met Hom vul ons, herstel ons en gee ons weer energie. Ek onthou die wyse woorde van ‘n ouer dominee wat gesê het dat ons “uitmekaar gehaal” moet word sodat ons nie “uitmekaar val” nie!

Die skares het Jesus en sy dissipels gevolg en ons barmhartige Verlosser was nie geïrriteerd of gefrustreerd deur die onderbreking nie. Inteendeel, Hy het hulle verwelkom, die siekes genees en, terwyl Hy gepraat het oor die koninkryk van God, hul grootste behoefte aangespreek.

Die vertelling van wat volgende gebeur het, is so goed bekend. Die ‘Vermeerdering van die Brood’ kom in al vier die Evangelies voor en is ‘n verhaal wat selfs die jongste kind kan onthou. Kom ons laat onsself toe om deur Jesus verras te word terwyl ons die besonderhede van hierdie ongelooflike wonderwerk oordink.

Hulle was in ‘n afgeleë plek, dit het laat begin word, die mense het die hele dag aandagtig na elke woord van Jesus geluister, maar nou was hulle besig om moeg en honger te word. Die dissipels was nie lelik toe hulle vir Jesus gevra het om hulle weg te stuur nie; hulle het eerder besorgdheid op ‘n praktiese manier gewys. Jesus het egter barmhartigheid betoon en weereens bewys hoe Hy meer kan doen as wat enige iemand kan vra of hom of haar kan indink! Toe Jesus die dissipels gevra het om die mense iets te gee om te eet, het Hy hulle herinner dat hulle alles wat hulle benodig, in Hom het.

Die vyf brode en twee visse wat hulle gekry het was ‘n goeie hoeveelheid vir ‘n piekniek vir een mens, definitief nie vir vyfduisend nie! Is enige iets te moeilik vir die Here? Hy is magtig om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink! Jesus het die brood en visse geneem, sy Vader gedank, dit gebreek en dit alles aan sy dissipels gegee om daardie groot skare te voed. Hoe ongelooflik is dit nie om te lees dat almal geëet het  totdat hulle versadig was en dat daar twaalf mandjies vol oorgebly het nie! Daar was meer as genoeg!

Dit is ons God.

Hy neem onmoontlike situasies en werk vir ons beswil en vir sy glorie.    

In ons desperate en moeilike omstandighede wys Hy sy Goddelike krag.

Hy vermenigvuldig ons beperkte hulpbronne om sy doel te bereik.

Ons moet nie wonder hoe Hy sal werk of wat Hy kan doen of nie doen nie. Ongeag watter omstandighede jy jouself in bevind of watter probleme jy ookal in die gesig staar, Hy is meer as genoeg vir dit alles. Liewe vriendin, ek bid dat jy vandag deur Jesus verras sal word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse