Maar God
Melinda Choi
Deur God se Groot Genade
MAAR GOD! Net voor Efesiërs 2:4 sê Paulus vir ons dat ons dood was as gevolg van ons oortredinge. Ons was kinders van die toorn. Ons het geen hoop gehad nie. MAAR GOD “ryk in barmhartigheid”. MAAR GOD deur “sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het”. MAAR GOD “al was ons dood as gevolg van oortredinge, het Hy ons saam met Christus lewend gemaak” (Efesiërs 2:5).
Ons het geen hoop gehad nie. Ons was geestelik dood. Ons het toorn en ewige skeiding van God verdien. En tog, teen alle menslike rede en begrip, het God ‘n pad terug na Homself gemaak. God het neergebuig na ons toe en ons nie net met Homself versoen deur Jesus Christus nie, maar “Hy het ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee” (Efesiërs 2:6). Dit beteken dat ons ewige plek by Hom is. Ons was bestem vir ewige toorn, en nou is ons bestem vir ewige intimiteit en gemeenskap met God self. Dit is verstommend! Uit genade is ons gered!
Om Genade te Gee Wanneer Dit Onmoontlik Lyk
Ek het Jesus as my Here en Verlosser aangeneem op die ouderdom van 13. Dit was eers in my laat 30’s dat ek God se genade teenoor my verstaan het. Natuurlik het ek die konsep van sy genade verstaan en geweet ek ervaar dit as sy verloste dogter. Maar, toe ek my kinderjare seksuele misbruiker van aangesig tot aangesig vergewe het, was ek OORSTROOM met die kennis van God se genade teenoor my.
Alhoewel ek lankal my misbruiker vergewe het, het God, skynbaar vanuit nêrens, my hart begin roer om uit te reik en die genade en barmhartigheid van Jesus Christus aan te bied. Ek het geen idee gehad hoe om te begin nie, maar God het stap vir stap ‘n pad gemaak. Ek kon sy telefoonnommer kry, en ek het die Here belowe ek sal bel. ‘n Week later was ek besig om die laaste afronding te doen aan ‘n pleegsorghuis wat ek opgeknap het, toe God sê: “Bel nou!”
Ek was doodbang, maar ek het gehoorsaam. Terwyl ek alleen in die pleegsorghuis gestaan het wat God my gehelp het om van verwoesting na skoonheid te neem, het ek die een gebel wat my hart verwoes het. Hy het ingestem om my die volgende dag te ontmoet. Weereens was ek doodbang. Ek het nie geweet hoe hy sou reageer nie. Wat as hy die misbruik ontken of my selfs daarvoor probeer blameer het? Soveel vrese en pyne het opgewel, MAAR GOD het aangehou om my vorentoe te dring.
Genade Onverdiend
Christus het ons opgesoek “al was ons dood as gevolg van ons oortredinge” (Efesiërs 2:5). Christus het my aangespoor om my misbruiker te soek terwyl hy dood was in sy sonde. Die oomblik toe ek hom gesien het, was ek gevul met deernis wat net van die Heilige Gees kan kom. Ek het hom omhels en gesê: “Jou sonde is anders as myne, maar ons is albei sondaars voor God. Ek vergewe jou. God wil hê jy moet vry wees van skuld en skande. Hy het jou lief en wil hê jy moet die genade en barmhartigheid van Jesus ervaar.” In trane het hy gesê: “Ek verdien dit nie.”
Nie een van ons verdien dit nie. Nie een van ons verdien die genade en barmhartigheid van God nie. Nie een van ons verdien die goedheid van God nie. Nie een van ons verdien om deur Jesus Christus met God versoen te word nie. MAAR GOD! Ons was dood weens ons eie sonde. MAAR GOD! Hy het ons opgesoek. Hy het die weg gebaan. Hy het ons skuld en skande op Hom geneem. Hy het ons “saam met Christus lewend gemaak” (Efesiërs 2:5).
Genade Uitgeleef
Hy het nie net daar gestop nie. Hy het “ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee” (Efesiërs 2:6). Ons is sy kinders. Ons is sy skeppingswerk, en Hy het “goeie dade” vir ons om te doen (Efesiërs 2:10).
Vang jy dit? God het “goeie dade” vir ons om te doen. Ons het die onbegryplike voorreg om saam met ons Vader God te werk. Wanneer ons ons wil vir syne oorgee, sal ons die lewe met ‘n ewige perspektief begin leef. Dit is die avontuur van die lewe. Ons ontdek wat God reeds vir ons voorberei het om te doen. Wat ‘n vreugde en verligting!
Ek het altyd gedroom daarvan dat ek eendag ‘n ma sal wees. Ek is egter klinies nie in staat om kinders te baar nie. Daar was soveel dinge van PSOS tot ‘n bloedstollingsfaktor en twee miskrame wat daartoe gelei het dat elke dokter vir my gesê het dat kinders ‘n onmoontlikheid is. MAAR GOD! Hy het ‘n pad gemaak waar daar geen pad was nie. Ek het my begeerte om ‘n ma te wees prysgegee en die planne wat Hy vir my lewe gehad het, vertrou. Wonder bo wonder het Hy vir my 5 kinders gegee, uit my eie liggaam, sonder enige mediese bystand.
God se Verhaal van Genade
Ons oudste seun voltooi binnekort kollege, hy is op die drumpel van die lewe en wonder wat hy moet doen. Ek het hoop en drome vir hom. Ek kon goeie wysheid en raad gee. Maar, wat is die belangrikste ding wat ek met hom kan deel? Dit is God se verhaal van genade. Ons deel met ons kinders die reis waarop die Here ons geneem het; die vreugde wat ons het om sy kinders te wees; en die wonderwerke wat Hy gedoen het.
God het planne vir ons en vir ons kinders om ‘goeie dade’ te doen. Laat ons nie God of ons kinders beperk nie. Kom ons wys vir hulle uit ons eie voorbeelde hoe om op elke terrein van die lewe met God saam te werk. Kom ons moedig hulle aan dat die grootste avontuur in die lewe is om God se doel met hulle lewens te ontdek. Kom ons leer hulle om gereed te wees om te sê: “Ja”, wanneer God sê: “Gaan”. En kom ons herinner hulle voortdurend daaraan dat omstandighede in die lewe onmoontlik lyk, MAAR GOD kan alle dinge moontlik maak.