Liefde Vereis Aksie

Liefde Vereis Aksie

Deur Kaitlyn / 4 September 2020 / Ken Die Liefde

Ek was besig om voor te berei vir Bybelstudie – die rangskik van gemaklike stoele, aansteek van ’n gegeurde kers en die beplanning van ons kurrikulum – toe ek skielik oorval word deur ’n liefde vir die vroue in my groep. Ons is ’n klein groepie vroue in ons 20’s en 30’s. Sommige van ons het ’n voltydse beroep en ander is nog besig om hulle studies te voltooi. Party vroue is getroud en ander nog enkellopend. ’n Paar van ons is ons hele lewe al Christene, terwyl ander Jesus eers onlangs ontmoet het. Ons tyd saam is vir my so kosbaar en hierdie vroue het my geleer hoe om God, met my hele lewe, lief te hê.

Later daardie aand, deel ’n vrou dat sy binnekort gaan verhuis en nie weet hoe sy haar hele huis gaan oppak, die swaar meubels skuif en alles weer uitpak in haar nuwe tuiste nie. Ek is baie skaam om te erken dat my eerste gedagte was dat iemand anders dit kan doen: “Ek is besig met werk en skool en my skedule laat my skaars met tyd om my eie huistake klaar te kry!” Terwyl die vrouens rondom my ruimhartig aanbied om die vrou te help trek, besef ek hoe vlak en oneg my liefde van vroeër regtig was.

Liefde vereis aksie.

Ons kan nie sê dat ons ander mense liefhet en dan weier om hulle te bedien, vir hulle opofferings te maak en hulle beste belange op die hart dra nie. In ons verse van vandag, gee Johannes vir ons ’n duidelike prentjie van hoe ware liefde regtig lyk. Wanneer hy sê dat almal wat liefde bewys, eerste deur God liefgehad is, bedoel hy dat net God sy kinders in staat kan stel om ander lief te hê met ’n ware selfopofferende liefde.

In ons gebroke, sondige toestand kan ons mekaar nie só liefhê nie. Ons sal selfsugtig wees in ons verhoudings, soek na ons eie belange en die behoeftes van ander ignoreer of afmaak as minder belangrik. Maar God gee aan ons die Heilige Gees om in ons harte te woon en ons te lei in liefde om mekaar lief te hê met ’n radikale, onselfsugtige liefde.

1 Johannes herinner ons dat ons mekaar nie, op ons eie, só kan liefhê nie. Ware liefde is nie in ons liefde vir mekaar of selfs ons liefde vir God nie, maar in Sy liefde vir ons. God se liefde het ook aksie vereis: Hy het sy Seun gestuur om die ongelooflike prys vir ons sonde te betaal. Dit is die enigste volmaakte betoning van ware liefde. God kon net oppervlakkige liefde aan ons bewys het, warm gevoelens oor sy gebroke skepping vanuit die hemel. Hy kon sy afstand behou het, profete gestuur het om ons te vertel hoe lief Hy vir ons is, sonder om enige iets te belowe oor ons desperate toestand. Maar dit is nie die ware liefde wat God vir ons het nie. Hy was nie tevrede daarmee om ons oor te laat aan gebrokenheid, lyding en sonde nie. Sy liefde het oorgegaan tot aksie en daardie aksie was om die onverstaanbare opoffering te maak vir ons onthalwe.

Soos wat God ons liefgehad het, so word ons ook geroep om mekaar lief te hê. Die wêreld rondom ons ken net ’n selfsugtige en gierige vorm van liefde: mense wat net saam met jou tyd spandeer wanneer dit vir hulle gerieflik is; wat net soveel gee as wat hulle kan terug verwag; wat pret wil hê saam met jou, maar vlug wanneer dit met jou swaar gaan. Ons liefde vir mekaar – onselfsugtig, ruimhartig, aktiewe liefde – is ’n kragtige getuienis aan die wêreld. Vir mense wat honger na ware liefde, kan ons ’n flikkering van die liefde wys wat God eerste aan ons bewys het, en dan kan ons hulle voorstel aan die grootste liefde van alles.

Kaitlyn

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse