Kom, Here Jesus, kom
Krista Taylor
Dit gebeur elke jaar met Kersfees. My kinders kom met een of twee dinge vorendag wat hulle regtig, regtig, regtig wil hê. ‘n Paar jaar gelede wou ons oudste ‘n afstandbeheerde helikopter hê. Hy was nege jaar oud. Ons het probeer om met hom te redeneer, hom in ‘n ander rigting te lei, hom ander opsies te gee, maar op die ou end het hy nie toegegee nie. So ons het ingegee. Ons het vir hom die helikopter gekoop.
Hy was verheug op Kersoggend en die eerste keer dat hy dit kon vlieg! ‘n Hoop vervul. Dit het sowat 24 uur geduur, totdat hy dit op ons grondpad laat neerstort het en ten minste een van die propellers nie meer gewerk het nie. Hy het ons gesmeek om dit reg te maak, maar kom ons wees eerlik – die speelding was net buite sy vermoëns. Die nou gewonde helikopter het vir ‘n paar jaar in ons kas gelê, om nooit weer te vlieg nie.
As dit by hoop kom, is ons mense regtig sulke wispelturige wesens. Ons stel ons hoop in dinge wat nie ware bevrediging bring nie. Ons jaag na sportspanne, stokperdjies, verhoudings, die nuutste toestel, geld, sukses – alles goeie dinge wat op die ou end nie bevredig nie.
Hoop op Christus se Wederkoms
Hoeveel van ons stel werklik ons hoop op Christus se wederkoms? Dit is so maklik om vasgevang te word in die dinge van hierdie wêreld, om die daaglikse behoeftes van diegene rondom ons te vervul, die nuutste mode- of dekor neigings, ons kinders se sokker- of bofbalspanne.
Ons laat ons fokus verskuif van die ewige na die tydelike. Soms vergeet ons selfs dat hierdie wêreld nie ons tuiste is nie, en dat ons gemaak is vir ‘n ander wêreld. God het vir ons pragtige gawes gegee om te geniet, maar Hy het ook vir ons die hoop van die hemel gegee; ‘n verlange na die ewigheid waar ons harte moet smag na Christus se wederkoms.
Smag na die Dag
Vandag in die kerk het ons oor hierdie einste hoop gepraat. Vir my was die hoop op Christus se wederkoms nog nooit so duidelik aanwesig soos dit die afgelope jaar en ‘n half was nie, sedert 24 Februarie 2022. Ons familie is sendelinge in Pole. Ons het nooit gedink ons sou langs ‘n oorlog lewe nie. Om te help om humanitêre hulp en verligting aan vlugtelinge te bring, om nabye Oekraïense vriende te hê, en om aan te hou kyk na die vernietiging en dood wat deur die opponerende weermag veroorsaak is, het ons vir altyd verander. Ons verstaan nie hoekom God hierdie euwel toelaat nie.
Ons wêreld is stukkend. Of jy nou deur ‘n gebroke verhouding leef, met ‘n chroniese of terminale siekte gediagnoseer is, of op ‘n ander manier verlies ervaar, dinge is nie soos dit behoort te wees nie.
Die afgelope jaar het my hart dikwels uitgeroep: “Hoe lank, Here?” Maar in plaas daarvan om kwaad te word of verward te wees, was my volgende gedagte verrassend: “Kom, Here Jesus, kom.”
Kom, maak hierdie pyn reg.
Kom, bring vrede op aarde.
Bring vrede in Oekraïne.
Kom, troos dié met gebroke harte.
Herstel U regverdige heerskappy op aarde.
Doen weg met sonde en lyding. Laat dit nie meer bestaan nie.
Kom, Here Jesus.
Christus se wederkoms is my enigste hoop. Aangesien die wêreld nou lyk asof dit meer gebroke is as ooit tevore, smag my hart na die dag …
Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”
– Openbaring 21:3-4
God is ‘n beloftehouer. Hy het belowe om vir ons terug te kom. Hierdie Advent tyd, mag ons harte smag na Christus se wederkoms soos nog nooit tevore nie, want ons wag nie net op “Sy koms” as ‘n baba nie, maar “Sy koms” as verlosser, hersteller en Koning op die aarde.