Jy Vir Wie God Liefhet

Jy Vir Wie God Liefhet

Haley Crabtree

Getroue Gebede

Het jy al ooit vir dae, weke, maande of jare sonder ophou vir iets gebid? Ek wil hê dat jy ‘n oomblik moet neem om aan iets te dink waarvoor jy gebid het wat baie geloof vereis het om daarvoor aan te hou bid. Dit kan wees oor ‘n verhouding met iemand in jou lewe, jou werk/beroep, om ‘n besigheid te begin, iets vir jou gesin, ens. Het God daardie gebed reeds vir jou beantwoord? Dalk het Hy geantwoord op die manier waarvoor jy gehoop het. Miskien het Hy geantwoord op ‘n ander manier as wat jy verwag het. Miskien was sy antwoord aan jou ‘n “nog nie” of ‘n duidelike “nee.”

Vir my is die gebed wat ek baie getrou vir amper 15 jaar bid, dat God ‘n godvresende man in my lewe sal plaas wat na my sal streef en my man sal word. Ek het daardie gebed begin bid toe ek 19 jaar oud was. Alhoewel ek nie weet wat God uiteindelik met daardie gebed sal doen nie, vind ek vrede in die feit dat sy Woord sê dat Hy my hoor wanneer ek bid. Die God van die heelal neig sy oor tot ons (Psalm 116:1-2, 1933/53 vertaling). Wat ‘n ongelooflike gawe wat ons het om met die Skepper van alle dinge, ons liefdevolle en hemelse Vader, te kan kommunikeer.

Oorgegewe Gebed

In Daniël 10:11-12 lees ons van die engel wat aan Daniël verskyn en aan hom sê: “van die eerste oomblik af dat jy jou ingespan het om insig te kry en jou voor jou God verootmoedig het, is jou gebede verhoor.” (Daniël 10:12). Daniël was ‘n man wat na God gestreef het en nederig was voor God, wat beteken dat Daniël God erken het as Here oor sy lewe en hy het daarna gestreef om een van God se heilige dienaars op aarde te wees. Hy wou ‘n lewe leef wat God geëer het en wat oorgegee was aan hoe God hom ookal wou gebruik.

Vandat ek begin het om Jesus te volg, was gebed die mees aktiewe area van my geloof. Of dit is om tyd in die oggend saam met die Here deur te bring, deur gefokusde gebedstyd met Hom, of om net hardop met God te praat terwyl ek in die stad rondry, God hoor baie van my. Ek dank Hom gereeld dat Hy na my luister en dat Hy geduldig is met my. Ek is oortuig dat slegs ‘n liefdevolle en geduldige God dieselfde gebed oor en oor kan hoor en nooit ophou om daardie tyd saam met my as waardevol te sien nie.

Kosbare Gebede

Toe die engel aan Daniël verskyn het, was die eerste ding wat hy aan hom gesê het: “Daniël, jy vir wie God liefhet” (Daniël 10:11). Die engel het nie gesê: “Jy was suksesvol met jou gebede” of “Jy het hard gewerk en ‘n besoek van God se boodskapper verdien” nie. Die engel het na Daniël toe gekom en voor hy enige iets anders gesê het, het hy gesê: “Jy vir wie God liefhet.” God het gesien dat Daniël Hom vertrou en op God se perfekte tydsberekening, het die Here gekom om sy gebede te beantwoord.

Ek wil hê dat jy jou naam moet plaas in die plek van Daniël se naam in Daniël 10:11. In my geval sal dit sê: “Haley, jy vir wie God liefhet.” Glo jy dat jy groot waarde het in God se oë? Glo jy dat God liefdevol sy oor na jou toe neig om te luister na wat op jou hart en in jou gedagtes is? Ongeag of jou gebede beantwoord word op die manier waarop jy hoop of nie, ek wil jou bemoedig om nie geloof te verloor in die Een wat jou gebede kan beantwoord nie. Hy hoor jou. Hy het jou lief. Hy beskerm jou. Hy ag jou waardig.

Mag ons soos Daniël leef, ons denke daaraan toewy om God se Woord te verstaan, nederig te wees voor ons liefdevolle Vader en altyd te glo dat ons groot waarde het as kinders van God.

Haley

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs