Jesus, Vriend van Sondaars

Jesus, Vriend van Sondaars

“Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is, tot bekering te roep nie, maar sondaars.” -Lukas 5:32

In hoofstuk 5 van Lukas sien ons ‘n merkwaardige toneel: Jesus eet saam met tollenaars, van die mees veragte mense in sy tyd. Wanneer jy self Bybel lees, veral die Evangelies, kom jy agter dat Jesus dikwels strydig met wat kultureel aanvaarbaar was, opgetree het. Nie alleen het Jesus ‘n tollenaar se huis binnegegaan nie, ‘n groot stap van aanvaarding; nie alleen het Jesus ‘n maaltyd saam met die tollenaars gesit en eet nie, ‘n simbool van intimiteit en vriendskap; Jesus het so ver gegaan om Levi, ‘n sondige tollenaar te roep, en te nooi om saam met Hom God se koninkrykswerk te doen. 

‘n Ander keer, in Johannes 8, is ‘n vrou wat “op owerspel betrap is” na Jesus toe gebring. Toe Hy gevra is wat haar straf behoort te wees, het Hy nie vir die mense gesê om haar te stenig nie, maar eerder vir haar gesê: “Het niemand jou veroordeel nie? …. Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.”  (Johannes 8:10-11).

As ‘n mens die Evangelies lees, sal jy op talle soortgelyke verhale afkom. Hierdie verhale openbaar die liefde, goedhartigheid en genade van God wat in Jesus geopenbaar is. Jesus se dade het daartoe gelei dat Hy “’n vriend van tollenaars en sondaars” genoem is (Lukas 7:34). Dit is ‘n groot stelling en ek wil saam met jou dieper delf en ontdek wat dit regtig beteken.

Het jy al ooit oor die gewigtigheid van die woord “vriend” nagedink? Die beeld van ‘n vriendskap som die hart van God so duidelik op, daarom dink ek dis belangrik dat ons ‘n oomblik stilstaan by die betekenis van hierdie woord. Wat kom by jou op as jy die woord “vriend” of “vriendin” hoor?

Wanneer ek die woord “vriend” of “vriendin” hoor, dink ek wat dit is om ‘n beste vriendin te hê—iemand op wie ek trots is om my eie te noem en wat op hulle beurt trots is om my hulle eie te noem. Ek dink aan ‘n vriendin wat alles van my af weet—al my verskillende kante—en my aanvaar net soos ek is. Ek dink aan ‘n vriendin na wie se huis toe ek enige tyd kan gaan en pannekoek bak en saam ‘n fliek kyk; by wie ek kan oorslaap en nagte om gesels terwyl ons onbedaarlik lag; ‘n vriendin wat ek kan bel as ek ‘n slegte dag het en net iemand nodig het om na my te luister; ‘n vriendin wat aan my dink en op die gedagte reageer; ‘n vriendin wat my sien, vir my omgee, saam met my bly is, my ondersteun, vir my bid, en vir my opkom.

Die feit dat daar na Jesus verwys word as ‘n “vriend van sondaars” is baie belangrik, want ‘n vriendskap is iets so spesiaal en intiem. Romeine 3:23 sê dat ons almal sondaars is, en Romeine 6:23 dat die loon van ons sonde die ewige dood is. Ons God van geregtigheid is egter ook ‘n God van volmaakte liefde, en Hy het sy enigste Seun, Jesus, gestuur om vir ons te sterf sodat ons in ‘n vriendskapsverhouding met Hom herstel kon word (lees Romeine 5:10-11).

Dít is wat Jesus van die woord “vriend” dink: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê” (Johannes15:13). Volgens Jesus is die grootste liefdesdaad om jou lewe vir iemand anders af te lê, en Jesus het dit vir ons gedoen. Die waarheid is, Hy wil ons vriend wees. Ons is gemaak om sy vriende te wees.

As jy klinkklare bewys nodig het om dit te glo, het Hy dit vir jou gegee: Romeine 5:8 sê dat Christus vir jou gesterf het toe jy nog ‘n sondaar was. Terwyl jy nog ‘n sondaar was, het Hy besluit dat jy werd is om voor te sterf. Dit beteken dat jy niks meer aan God hoef te bewys nie omdat Hy gekies het om jou lief te hê lank voordat jy ‘n kans gehad het om jouself te bewys. Hy het jou lief oor wie jy is, nie wat jy gedoen het nie.

Lukas 5:32 is bewys daarvan dat Hy nie ‘n volmaakte jy begeer nie, maar die ware jy. Hy sê: “Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is, tot bekering te roep nie, maar sondaars.” Jesus het dit moontlik gemaak om in ‘n verhouding met jou te lewe, en Hy wil hê jy moet kom net soos jy is. In Openbaring 3:20 nooi Hy: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.” As gevolg van wat Jesus vir jou gedoen het, kan jy nou enige tyd sy troonkamer van genade binnegaan (Hebreërs 4:16).

Die waarheid is dat elke mens aanmekaargesit is om raakgesien, geken en liefgehê te word. Ons wil almal iemand hê wat na ons toe sal kom wanneer ons aan die vlug is, wat vir ons sal opkom, wat nooit sal tou opgooi met ons nie—en dis ‘n pragtige begeerte, want ons is gemaak vir so ‘n soort vriendskap. Aardse vriende kan ons maar gedeeltelik sien, ken en liefhê. Die enigste Een wat hierdie begeertes ten volle kan vervul, is Jesus. Hy is ‘n volmaakte beste vriend, en Hy het alles deurgemaak om dit moontlik te maak om ons sy vriende te noem. Hy het bewys hoeveel Hy vir ons omgee deur in ons plek te sterf sodat ons vir ewig saam met Hom kan lewe as ons in Hom glo.   

Volgende keer as jy die woord “vriend” hoor, dink dan aan JesusIemand wat so trots is om jou sy eie te noem (Filippense 3:12); Iemand wat alles van jou af weet—al jou verskillende kante—en steeds kies om vir jou lief te wees (Psalm 13:1); Iemand wat daarna smag om tyd saam met jou deur te bring en na jou te luister (Markus 6:31); Iemand wat altyd daar is vir jou (Psalm 46:1); Iemand wat nooit ophou om aan jou te dink nie (Psalm 46:1); Iemand wat ontsettend baie vir jou omgee, vol vreugde is oor jou, jou ondersteun, vir jou bid, en vir jou veg (1Petrus 5:7, Sefanja 3:17, Jesaja 41:10, Romeine 8:34, Eksodus 14:14).

Vriendin, jy het ‘n God wat jou worsteling en jou sonde gesien het en so ver gegaan het om ‘n mens te word om agter jou aan te kom. Jy het ‘n God wat jou sy prioriteit gemaak het. Sy dood was ‘n bewys van sy liefde vir jou, en Hy wil jou beste vriend wees.

Uiteindelik sê Paulus in 1 Timoteus 1:16: ”Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ‘n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry.” Sy karakter is inderdaad so genadig, en dit is God se goedheid wat ons tot bekering lei (Romeine 2:4). “Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes” (1 Johannes 4:10). Loof God dat dit alles oor Hom gaan, en dat Jesus gekom het om ‘n sondaar se Beste Vriend te wees.  

Week 5 Uitdaging:

Jesus het verkillende groepe binne sy volgelinge en vriende gehad: die groot groep dissipels, die twaalf apostels en Petrus, Jakobus en Johannes. Hoe kan ons sy voorbeeld van intimiteit in vriendskap volg? Hoe kan jy hierdie beginsels in jou eie lewe verwesenlik sonder om eksklusief te wees?

Week 5 Leesplan:

Week 5 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse