INLEIDING

Diep in haar hart dra elke vrou wat lief is vir Jesus dieselfde begeerte: om ’n lewe te leef wat goeie vrug voortbring. Daardie hartsbegeerte is nie toevallig nie; God self het dit daar geplaas. Die Bybel is vol verhale van mans en vrouens wie se lewens verander is deur naby aan God te leef. Oor die volgende ses weke gaan ons saam deur die vrug van die Gees reis en toelaat dat dit vir ons wys hoe Geesgedrewe vrug in die alledaagse lewe lyk.

Ons gaan by Maria leer, wie se oorvloedige liefde vir Jesus een van die mooiste dade van aanbidding in die hele Skrif geword het. Ons gaan saam met Josef deur jare van wag en seer stap. Sy lewe wys vir ons hoe God geduld en goedhartigheid voortgebring het in ’n man wat alle rede gehad het om verbitterd te wees. Ons gaan saam met Rut stap, wie se getrouheid en goedheid die verloop van ’n hele familielyn verander het. Daar is nog soveel ander.

God het hulle verhale in sy Woord bewaar, sodat ons by hulle kan leer, deur hulle bemoedig kan word, en self kan verlang dat goeie geestelike vrug uit ons eie lewens sal vloei.

En hier is die mooiste deel van alles: hierdie selfde God wat goeie vrug in hulle lewens laat groei het, is dieselfde God wat ook in jóú lewe aan die werk is. Liewe vriendin, God wil iets kosbaars en blywends in jou lewe laat groei. Hy wil goeie, geestelike vrug in jou vorm. Dit is vrug wat elke moeilike seisoen oorleef en dié wat dit sien, terugwys na Hom. Sulke vrug word nie voortgebring deur net harder te probeer nie, eerder deur na aan Hom te bly.

Kom ons bly dan saam naby aan Jesus en kyk wat Hy in en deur ons lewens laat groei, terwyl ons oor die volgende ses weke dieper in sy Woord delf.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs